FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

Werk + geld

Neem beheer van jou geldsake in 2016 met dié 8 wenke

Dit is die begin van 2016 en tyd om na jou geldsake te kyk – veral ná die feestyd. Nes jy jou huis moet regpak en skoonmaak, het jou geldsake elke nou en dan ’n goeie skoonmaaksessie nodig. 

Speel rustige musiek in die agtergrond en skink vir jou iets lekkers; hierdie hoef nie soos werk te voel nie. Maar as jy nou die “werk” doen, gaan jou geldstres in 2016 heelwat minder wees.

1. Maak jou beursie skoon. Gooi alle onnodige strokies weg, sit jou geskenkbewyse eenkant sodat jy onthou om dit te gebruik, en gooi ou kaarte weg (of sny dit op).

2. Is jou beursie vol lojaliteitsprogram-kaarte? Kyk hoeveel van daardie kaarte jy eintlik nog gebruik. As jy ’n kaart die afgelope maand nie gebruik het nie, kanselleer dit.

3. Gooi ’n oog oor al jou maandelikse aftrekkings soos jou televisierekening, telefoon- en internetkostes en selfoonrekening en stel vas of daar nie intussen ’n beter pakket bekend gestel is nie.

4. Hou ’n gelddagboek vir elke week in Januarie. Teen die einde van Januarie sal jy ’n beter idee hê van hoe jy jou begroting moet aanpas vir 2016. As jy voel dat Januarie nie werklik weerspieël hoe jou maand gewoonlik lyk nie, doen dié oefening in Februarie ook. Wie weet, miskien het jy nie meer lus vir ’n cappuccino ná jy sien hoeveel jy kan spaar nie.

5. Spaar vir iets spesifieks. Buiten die geld wat jy wegsit vir noodgevalle, spaar vir iets  – of dit ’n nuwe rekenaar, vakansie by die see of ’n nuwe stoel is, probeer die doelwit in gedagte hou as jy maandeliks hierdie geld wegsit.

6. VIA se Sieners het 22seven-app as een van die groot trends vir 2016 genoem. Laai ’n app af om jou te help met jou begroting en daaglikse transaksies.

Screen Shot 2015-12-22 at 9.18.47 AM

7. Besluit vooraf wat jy wil koop en hoeveel jy bereid is om te spandeer vóórdat jy begin om aanlyn te koop – veral by webtuistes wat daagliks afslag bied.

8. Probeer hierdie nuwe gewoontes:

  • Kies ’n dag in die week wat jy niks gaan spandeer nie. Jou kar is reeds vol petrol, jy neem kos werk toe en jy het kos by die huis vir ontbyt en aandete. Vat die geld wat jy hierdie dag sou spandeer (maak ’n skatting uit jou gelddagboek) en plaas dit direk in jou spaarrekening. Dit keer dat jy dié geld die volgende dag gebruik.
  • Maak ’n geldafspraak met jouself. Kies weekliks een aand en kyk na al jou kredietkaartrekeninge, haal jou strokies uit jou beursie en liasseer wat belangrik is. Hanteer belangrike sake wat dalk verg dat jy jou bank moet bel – moenie uitstel nie!

Hierdie wenke fokus op korttermynplanne vir jou finansies. Kry raad by kundiges en doen deeglike navorsing oor langtermynplanne. Onthou, as dit te goed klink om waar te wees, dan ís dit! 

Bron: Refinery29

Lees ook