Werk + geld

Netwerk na sukses

Jy is na ’n sake-ontbyt genooi, maar soos gewoonlik aanvaar jy nie die uitnodiging nie. Jy’t net te veel werk, nie tyd vir rondstaan en gesels nie.

Maar só skiet jy jouself in die voet. Want vir werksukses is dit uiters belangrik om te netwerk. Dit kan jou sakeverhoudinge maak of breek, sê kenners.

Na raming ken elkeen van ons gemiddeld 250 mense. Maar die eintlike voordeel lê in wie dáárdie mense ken. As elkeen van hulle óók sowat 250 kontakte het, kan jy met 62 500 mense netwerk, verduidelik Helen Nicholson, skrywer van Networking – The Unwritten Rule of Business You Need to Know.

En watter gulde geleenthede lê daar nie in netwerk nie!

Volgens die Amerikaanse beroepskonsultant Cathy Halloway ontstaan sowat 75% nuwe sakebedrywe uit verwysings en verhoudinge wat mense opgebou het.

Dis ook een van die mees koste-effektiewe maniere om ’n onderneming te bou.

Maar netwerk is veel meer as net visitekaartjies uitdeel. Dis ’n proses.

Jy bou mettertyd brûe waaruit jy én jou kontakte voordeel trek. Jy moet nie net vra wat jý hieruit kan kry nie. Maar ook wat kan jy vir húlle beteken?

Niemand wil sake doen met iemand wat selfbehep is nie. As jy gee, sal jy ook terugkry.

Die goeie nuus is jy hoef nie noodwendig uit te gaan om te netwerk nie.

“Ons almal is natuurlike netwerkers wat heeldag met ander skakel,” sê Samantha Crous, reklamebestuurder van die Corporate Research Foundation (CRF) in Kaapstad.

Jy kan ander mense oral – selfs by die tandarts, kinderpartytjie of gym – ontmoet. Dit kan dalk tot jou volgende sake-transaksie lei.

Onthou, elke ontmoeting is belangrik en die gehalte van elke gesprek het ’n invloed op wat mense van jou en jou maatskappy dink of sê.

Dr. John Demartini, wêreldbekende kenner van persoonlike ontwikkeling, vertel graag hy het as jong chiropraktisyn ’n kantoor in Houston, Texas op die 53ste verdieping van ’n wolkekrabber gehad. Hy moes iets doen om pasiënte te lok en het gereeld in ’n (vol) hyser geklim en gesê: “Hi, I am dr. John Demartini. I am a chiropractor and I align spine with the divine until you feel fine.”

Dan het hy beduie waar sy kantoor is en vir almal ’n visitekaartjie gegee. En die pasiënte het gekom.

Netwerk verdien beslis meer aandag. HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) dui dit nie eens as ’n werkwoord aan nie!

Vir haar gaan netwerk oor deel, sê Michelle Korevaar, stigter en kreatiewe direkteur van SPICE4LIFE.

“Jy deel die beste sakepraktyke, hulpbronne en kennis. Jy skakel met ander in jou bedryf en julle trek almal voordeel daaruit.”

Michelle het ’n onderneming geskep uit netwerk. SPICE4LIFE bring vroue bymekaar en help hulle om sake- en ander vaardighede te ontwikkel.

Toy Joubert, lewensafrigter van Pretoria wat ander help om vervullende loopbaan-veranderings te maak, sê sy werk vir haarself, en netwerk voorkom dat sy geïsoleerd voel. Deur te netwerk demonstreer sy ook haar kennis, bou vertroue en kry ’n ondersteuningstelsel.

Kenners stem saam dat ons meestal te min tyd aan netwerk afstaan. Navorsing onder die 500 Amerikaanse maatskappye op die tydskrif Fortune se top-lys het gewys suksesvolle leiers bestee 48% van hul tyd aan netwerk, teenoor gemiddelde leiers se 11%.

Jy moet op lang termyn dink, sê Marinda Hawthorn, besturende direkteur van Elevating Minds, ’n Gautengse maatskappy wat op persoonlike ontwikkeling fokus.

“Dink aan ’n boom se vertakkingsproses. Een kontak lei tot ’n ander. As jy elkeen versorg, sal elke takkie vrugte dra.”

Volgens Helen Nicholson is daar veral drie belangrike redes om te netwerk:


1. Jy kry toegang tot vertroulike inligting.

Jy hoor bv. vroegtydig jou mededingers gaan ’n nuwe produk uitreik. Nou kan jy jouself vra: Hoe kan ons met iets beters vorendag kom?


2. Dikwels hoor jy ook deur kontakte van ’n nuwe pos voor dit geadverteer word. Soos Annalie la Grange, senior belastingbestuurder by Ernst & Young in Kaapstad. Sy wou van Gauteng in die Kaap kom werk. Deur “kontakte van ’n kontak” hoor sy toe van haar huidige pos en kon sy haar CV by die regte mens uitkry. Omdat jy oor snykant-inligting beskik, het jy mag. In die sakewêreld werk dit so: Hy wat eerste weet, wén.


3. Jy ken mense met ’n wye verskeidenheid vaardighede. Jy weet presies wie om te bel wanneer jou rekenaar probleme gee of wie die beste spreker is. En jy kan heel moontlik goeie diens en ’n goeie prys verwag. Jy het ook ’n groot netwerkbasis wat jou kennis kan help uitbrei en by wie jy raad kan kry.

‘Die pad na ’n kontak se hart loop deur hul waardes’ – Dr. John Demartini, kenner van persoonlike ontwikkeling

 Maar netwerk het nóg voordele, sê Samantha van die CRF. Jy kan jouself en jou maatskappy bemark. Jy leer ook makliker markbehoeftes identifiseer. En netwerk is pret. “Dit herinner ons waarom ons in die sakewêreld is en dis inspirerend.”

Dit help ook om jou horisonne te verbreed, vertel Annalie. Een van die interessantste mense wat sy so ontmoet het, is Alfonso van Marsh, ’n Amerikaanse CNN-joernalis wat in Johannesburg gewerk het. “’n Regte karakter.“ Hy’t intussen Londen toe getrek, “maar dis lekker om hom op TV te sien” en te weet sy ken hom.

Dink kreatief aan geleenthede om te netwerk, stel Marinda voor. Veral op plekke waar jy moet wag, soos by die tandarts, dokter, lughawe of voor ’n vertoning. Gesels met mense, verkoop jouself. Wees selfversekerd en laat ander jou passie sien.

“Wees geesdriftig oor jou uniekheid en die verskil wat dit al gemaak het,” sê sy.

Sy pas ook haar eie raad toe. Soos die keer toe sy ’n toespraak bygewoon het van ’n verteenwoordiger van ’n Duitse maatskappy wat in bestuursopleiding spesialiseer.

Agterna het sy haarself aan die spreker gaan voorstel. Sy het verduidelik dat sy die jongste rektor van ’n FET-kollege (voortgesette onderwys-en-opleidingsinstelling) in die land is en ook (toe) die enigste vrou in dié posisie in Gauteng. En as sy die maatskappy se produk in haar kollege kan gebruik, sal hulle saam geskiedenis maak in die ontwikkeling van jong bestuurslui in ’n groeiende post-1994-Suid-Afrika.

Marinda het dadelik sy aandag gehad en ’n suksesvolle driejaar-verbintenis het gevolg.

Maar hoe kies ’n mens watter geleenthede om by te woon?

Annalie sê gesellighede wat regstreeks met haar werk verband hou, kry voorkeur, soos haar maatskappy se jaarlikse ontbyt wat saamval met die Nasionale Begrotingsrede. Ook sessies oor interessante onderwerpe.

Toy netwerk graag waar haar ideale kliënte in ’n groot groep bymekaar is, waar mense wat met haar kliënte werk, bymekaarkom en waar entrepreneurs is. As spreker werf sy ook kliënte.

“En ek verwys een kontak na ’n ander kontak vir raad. Anderdag verwys hulle my weer na iemand – so help ons mekaar.“

Om te netwerk gaan meer oor wié jy ken as wat jy weet. En dis juis wie jy ken wat jou loopbaansukses bepaal, sê Helen Nicholson.

 

12 punte vir ‘n netwerk-plan

Ons kenners sê:


1. Besef JY is die handelsmerk. Tom Peters, bekende skrywer oor sakebestuur, sê in sy invloedryke artikel, “The Brand Called You”, jy moet jousélf as die “hoof – uitvoerende beampte” van jou eie maatskappy, “Me Incorporated”, beskou (www.fastcompany.com).


Khanyi Dhlomo, stigter-redakteur van die tydskrif Destiny en besturende direkteur van Ndalo Media, beaam dit. “Jou handelsmerk gaan oor wat ander van jou sê. Jy moet vertroue inboesem – dan sal ander emosioneel en finansieel in jou belê.” Vra jouself: Wat is vir my belangrik?

Wat wil ek projekteer? Stem my beeld hiermee ooreen?


Identifiseer jou sterk punte en uniekhede en bou jou handelsmerk rondom dit, sê Helen Nicholson, skrywer van Networking, The Unwritten Rule Of Business You Need to Know.


Toy Joubert, lewensafrigter van Pretoria, sê sy bou haar handelsmerk uit deur toesprake, werksessies, radio-onderhoude en artikels.


2. Wees konsekwent en betroubaar. Hou by jou woord, wees altyd betyds en beantwoord boodskappe so gou moontlik, al is dit net om te sê jy sal later bel met meer besonderhede.


3. Gee aandag aan jouself as ’n pakket. Lyk jy soos ’n top-sakevrou? Soos Khanyi en Michelle Korevaar, stigter en kreatiewe direkteur van SPICE4LIFE, dit stel: “Dress for success.”

Maak ’n blywende indruk. Onthou, jou onderneming ding met baie ander mee.


4. Herskep jouself voortdurend. Bewustelik en onbewustelik. Elke keer as jy iets leer, herskep jy jouself onbewustelik, sê Samantha. Hou die mark dop en hou tred met veranderings.

Vra jouself: Wat voldoen NOU aan ander se behoeftes op die vinnigste, doeltreffendste en mees koste-effektiewe manier?


5. Belê in jouself. Studeer verder of volg nuwe kursusse.


6. Vertel ander van jou sukses. Nie op ’n arrogante manier nie, maar wel as die gesprek daarheen lei en jou prestasies waarde sal toevoeg, sê Samantha.


7. Wees sigbaar. As jy heeldag voor jou rekenaar sit, gaan niemand van jou of jou talente weet nie. Jy sal ook nie van ander werkgeleenthede of bevorderingsmoontlikhede hoor nie.


8. Berei jou bekendstelling voor. Dink vooraf hoe jy jouself gaan voorstel, sê Marinda Hawthorn, kenner van persoonlike ontwikkeling. Byvoorbeeld: “Goeienaand, Sandra. Ek is Rita van Zyl. Sal jy omgee as ek my by jul groep aansluit? Ek wil graag verder met jou gesels oor jou toespraak. My nuwe boek handel juis oor dié onderwerp.” Onthou om haar hand te skud, oogkontak te maak, te glimlag en haar oor haarself uit te vra.


9. Vind uit waaraan jou kontak waarde heg, is dr. Demartini se raad. As sy gesinsgeoriënteerd is, vra uit oor haar kinders. “Die pad na ’n kontak se hart loop deur hul waardes,” sê hy.


10. Teken jou interaksies aan. Maak aantekeninge agterop jou kontak se visitekaartjie. Soos: Bob-haarstyl, kenner van bemarking, het gesels oor Demartini se teorieë. Volg dit op met ’n e-pos of oproep, of wag vir ’n geskikte sakegeleentheid, bel dan en sê: “Ons het saamgeëet by XYZ en ek wil jou graag betrek by ’n opwindende nuwe projek.”

Stuur ook deurlopend inligting aan waarby jou kontakte kan baat vind.


11. Raak betrokke, sê Toy. “Dien in ’n bestuur of raad. So raak jy sigbaar en toeganklik en bou vertroue.”


12. Ontwikkel ’n aanlynpersoonlikheid. “Dis ’n nuwe manier om jou goeie naam te bou, maar dis noodsaaklik in hierdie digitale era,” sê Khanyi.

Kry vir jou ’n tuisbasis op die web – of dit ’n blog, aanlyn-portefeulje of webwerf is. Oorweeg bv. webwerwe soos LinkedIn, MyGenius en selfs Facebook. Sluit ook by aanlyngemeenskappe aan en praat oor jou vakgebied.


 

‘Sit jou foto op jou visitekaartjie’ – Helen Nicholson, skrywer


MOETS

• Sosialiseer met soveel mense moontlik by ’n geleentheid, maar net vir 5 tot 8 minute elk.

• Wees gesteld op sosiale etiket en keurige taal.

• Luister aandagtig en vra vrae, want jy weet nooit wat jy kan ontdek nie.

• Leer sjarme aan. Marinda Hawthorn sê: “Dis die vermoë om sonder opgesmuktheid en luidrugtigheid innerlike sterkte uit te straal wat ander gemaklik en menswaardig laat voel.” Bestudeer ’n rolmodel se gedrag en maak dit jou eie. Khanyi waarsku: “Wees opreg. As jy nie jouself is nie, sal ander dit gou agterkom.”

• Doen sake met meer as een persoon per maatskappy vir ingeval een bedank. Behou dan ook dié kontak.

• Sit jou foto op jou visitekaartjie, sê Helen Nicholson.

• Neem altyd ook die ander persoon se kaartjie. Dan is die aanvoerwerk in jou hande.

• Probeer name onthou. Ons voel almal meer gewaardeer en gerespekteerd wanneer iemand jou op jou naam aanspreek.

• Wens jou kontakte geluk met suksesse.

• Dink aan maniere hoe jy ander kan help en verwys nuwe kontakte na bestaandes, sê Ferose Oaten, voorsitter van die Wes-Kaapse Business Women’s Association (BWA). As iemand ’n kontak of kliënt na jou verwys, stuur ’n dankie-sê brief.

• Raak betrokke by sakeverenigings soos die Business Women’s Association of Women in Finance. “Geesverwante vroue ondersteun mekaar en skep wedersydse geleenthede,” sê Khanyi.

• As jy weet wie jy gaan ontmoet, vind vooraf meer uit oor haar. Google!

MOENIE

•die feit dat jy ’n introvert is as verskoning gebruik nie. Skaar jou by ’n sosiale persoon en neem deel aan die gesprek sodra jy op jou gemak voel. Jy sal selfvertroue ontwikkel.

•afgeskrik word deur ’n saal vol onbekendes nie. Soek iemand met wie jy kan identifiseer. Dalk kry iemand anders ook koud . . . Dis ’n aanknopingpunt! Of glimlag vir iemand, maak oogkontak en vra of jy jou by hulle groep kan aansluit.

•jou visitekaartjies soos lekkergoed uitdeel nie. Gebruik jou oordeel.

•skynheilig wees nie. Moenie rondblaai in ’n boek of dokumente terwyl jy oor die telefoon praat nie. Jou kontak sal agterkom jy luister nie. En as jy iemand vra hoe dit gaan, gee aandag. Mense kan sien as jou oë of gedagtes dwaal.

•vir ander sê: “Ag, ek is net ’n assistent” nie. Wees trots op jou werk sodat ander jou met respek sal behandel.

•die geselskap oorneem nie. Laat ander ook praat.