Werk + geld

Wat gemaak as jy in ‘n oopplankantoor werk?

Oopplan – help!


“Ek werk in ’n groot oopplankantoor en het reuseprobleme hiermee. Kollegas pak hul persoonlike probleme bymy af of kom “sommer net gesels”. Een van die bestuurders praat heeltyd kliphard met sy werknemers, reg langs my lessenaar. Ek sukkel om te fokus en my werk klaar te kry. Daarby het ek absoluut geen privaatheid nie. Wanneer ek telefonies vertroulike werksinligting wil bespreek, kan almal hoor. En as ek met my gesin praat, weet almal van my persoonlike sake. Hoe hanteer ek dié probleme? En is daar raad om die meeste uit my dag in ’n oopplankantoor te kry?”

 

Jannie Rossouw – ondernemingsafrigtervan Kaapstad

 

Oopplankantore is deesdae ’n werkplek-realiteit. Dis nie net kostebesparend nie, dis in baie gevalle bevorderlik vir spanfunksionering en -motivering. Daar is ’n paar praktiese reëlings wat dié opset vir jou makliker kan maak. Deur die regte optrede etiket te handhaaf, en só deel van die oplossing te word, sal jy jou  kollegas se gedrag positief kan beïnvloed.

 

Kollegas wat ‘net kom gesels’

 

• As jy nie lus of tyd het vir persoonlike praatjies nie, staan op agter jou lessenaar en stap saam met jou kollega weg. Dit sal ’n natuurlike onderbreking van die gesprek bewerkstellig.

 

• Vra jou kollega of julle nie later die gesprek kan voortsit nie, want jy “het ’n spertyd om te haal”.

 

• As jou werkstasie ’n afskorting het, hang ’n bordjie op wat sê wanneer jy nie gesteur wil word nie. Of sit ’n stoel met ’n bordjie daarop by die ingang.

 

• Herrangskik jou kantoor sodat ander nie maklik oogkontak met jou kan maak nie. Gebruik plante of kunsplante om ’n skans tussen jou en jou “deuropening” te bewerkstellig.

 

Kollegas wat hard praat

 

• Vra jou kollega om sagter te praat en as dit nie help nie, maak ’n afspraak met jou bestuurder. Verduidelik jou dilemma. As jou versoek redelik is, behoort hy/sy bereid te wees om die situasie diskreet te hanteer. Die bestuurder kan jou selfs na ’n meer private werkstasie skuif.

 

• Versoek jou werkgewer om ’n white noise-apparaat te installeer. Dit klink soos ’n radio wat van stasie af is, maar sal help om omgewingsklanke te demp.

 

Jy het geen privaatheid nie

 

• Rig ’n versoek aan jou bestuurder om ’n vergaderlokaal met ’n telefoon te laat toerus. Voer belangrike of private werkgesprekke daar.

 

• Voer persoonlike gesprekke op jou selfoon – weg van jou werkstasie af. Of hanteer dié gesprekke tydens ’n tee- of middagete-breek wanneer daar minder kollegas rondom jou is.

 

Neem mekaar in ag

 

• Maak respek jou motto. Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

 

• Sorg dat ’n “só-doen-ons-dingehier”-riglyn in plek is. Bespreek dit eers onder mekaar, maak voorstelle en stel riglyne in spanverband op. Die riglyne behoort dan deur bestuur én werknemers gehandhaaf te word.

 

Kim Meszaros – uitvoerende bemarkingsbestuurder van Kelly, ’n werkplasingsmaatskappy in Johannesburg

Hoewel dit as sosiaal beskou word om so na aan jou kollegas te werk vereis ’n oopplankantoor reëls oor etiket, asook wedersydse respek. Dit sal sorg dat julle mekaar in ag neem.

 

 

Maak só jou werkplek harmonieus en so produktief moontlik:

  • Respekteer jou kollegas, want net dan sal jy hulle in ag neem en hulle vir jou.
  • Stel jouself beskikbaar vir ander, maar laat hulle beslis weet wanneer jy besig is en nie gesteur wil word nie.
  • Hou jou lessenaar netjies. Dis veral belangrik as jy dalk ’n “oopplan”-lessenaar saam met ander moet gebruik. Wees beleefd wanneer julle enige ruimte moet deel.
  • Wanneer jy gesprekke het, moenie te hard praat nie. Moet ook nie vir ’n kollega wat ver van jou af sit, skree nie. Staan eerder op en stap na hom toe.
  • Selfs in oopplankantore is daar gange waar jy behoort te loop. Gebruik hulle en moenie ander se ruimte betree nie.
  • Dis in die algemeen nie moeilik om goed saam met ander in so ’n ruimte te werk nie. Besef net dat jy, wanneer moontlik, toeganklik moet wees, maar steeds  grense moet stel wanneer jy op jou werk moet fokus.
  • Neem ook altyd ander in ag deur netjies en beleefd te wees.

VIR HULP

• Jannie Rossouw www.youcan.co.za en brightfuture@mweb.co.za
• As jy ’n werkprobleem het, stuur gerus jou vraag aan rrust@sarie.com