Werk + geld

Ruk jou geldsake reg

Jy het jouself belowe 2013 is die jaar dat jy uit die rooi gáán kom en jou geldsake regruk. Maar nou is dit al Maart en jy het nog niks gevorder nie. Wat nog te sê van spaar!

Spaarsaamheid is nie Suid-Afrikaners se sterk punt nie, sê René Roux van Sanlam Persoonlike Finansies.

“Die meeste van ons gebruik tot ’n driekwart van ons inkomste om skuld af te betaal!”

As jy heeltyd meer geld bestee as wat jy het, gaan jou geldsake nooit gesond wees nie, omdat jy dit maand ná maand mors op die rente op jou skuld, sê sy.

“Maar met die regte plan kan jy jou geldsake in ’n gesonde koers stuur.”

Hier is raad:

1 Haal jou kop uit die sand

Baie van ons is in ontkenning oor ons geldsake, sê Dawie Roodt, ekonoom by die Efficient Groep in Pretoria. Jy weier om na jou klererekeninge en kredietkaartstate te kyk omdat jy bang is vir wat jy gaan sien. Maar dít vererger net jou probleem, want solank jy jou skuld ignoreer, hou jy aan om op krediet te koop en word dit net meer, sê hy.

Doen dit so

  • Skraap die moed bymekaar en bestudeer jou bankstate en uitstaande rekeninge, sê René. Wees eerlik en skryf alles neer wat jy moet betaal. As jy swart op wit sien hoeveel skuld jy het, skrik jy dikwels en maak dadelik ’n plan om iets daaraan te doen.

2 Hou op skuld maak

Jou geldprobleme het begin die oomblik toe jy meer geld uitgegee het as wat jy het, sê prof. Matthew Lester van die Rhodes-sakeskool en belastingkenner. Die enigste manier hoe jou skuld minder gaan word, is om dadelik op te hou om nog te maak. “Solank dit nie meer word nie en jy aanhou om dit te betaal, los die probleem hom mettertyd vanself op.”

Doen dit so

  • Maak jou klererekeninge, winkelkaarte en ekstra kredietkaarte toe, sê René. Betaal dan maandeliks ’n vaste bedrag daarop af. Moenie weer hierdie rekeninge heropen nie.
  • Jy is dalk huiwerig om jou ekstra kredietkaartrekeninge te sluit omdat jy bang is jy gaan nie geld beskikbaar hê vir noodgevalle nie, sê René. “As jy ’n kredietkaart as vangnet wil hou, sluit dit iewers in ’n kluis toe sodat jy dit nie sommer in ’n winkel kan gebruik om kos of klere te koop nie. Wees gedissiplineerd en gebruik dit nét in noodgevalle.
  • Pleks van ’n kredietkaart besit, probeer eerder ’n noodfonds opbou. Reël met jou bank dat ’n bedrag geld maandeliks met ’n debietorder na ’n spaarrekening oorgeplaas word en vergeet daarvan. Jy het dan geld beskikbaar as ’n noodgeval opduik.

3 Hou tred met jou geldsake

Wanneer jy verskeie klererekeninge, krediet- en winkelkaarte het, is dit maklik om tred te verloor met jou geldsake, sê René. As jy weer sien, het jy vergeet om ’n rekening te betaal en word jy belas met ekstra rente.

Doen dit so

  • Probeer eerder om alles wat jy op krediet koop met een kaart te betaal, want dan het jy meer beheer, sê sy. “Ek gebruik byvoorbeeld net my kredietkaart. Dit beteken ek hoef maandeliks net na een staat te kyk om presies te weet wat met my geldsake aangaan.”

4 Begroot begroot begroot

Iemand sonder ’n begroting is iemand sonder ’n plan. En iemand sonder ’n plan kom nêrens in die lewe nie, sê Dawie. ’n Begroting is die beste manier om beheer van jou geldsake te neem.

Doen dit so

Dawie sê:

  • Maak twee lyste: een van jou inkomste en een van al jou uitgawes.
  • Prioritiseer nou jou uitgawes. Nommer een op dié lys is jou skuld. Daarna skryf jy jou ander noodsaaklike uitgawes neer soos jou huispaaiement, petrol, kos en versekering. Heel onder op jou lys van uitgawes is dan luukshede soos fliek en uiteet.
  • Begroot ook vir onvoorsiene uitgawes soos doktersbesoeke of verjaardaggeskenke. Dan hoef jy nie skuld te maak om dit te betaal nie. As jy die maand geen onvoorsiene uitgawes gehad het nie, gebruik daardie geld om jou skuld te betaal.
  • Tel elke lys se totale bedrag op en kyk of jou begroting klop. As jou inkomste minder as jou uitgawes is, begin dan van onder af op jou lys van uitgawes sny (dus die luukshede soos fliek en uiteet).
  • Hou by jou begroting, al is dit hoe moeilik. Jy gaan dalk die eerste maand of twee sukkel, maar daarna word dit al hoe makliker en dis naderhand ’n gewoonte om daarby te hou.
  • As jy aan die einde van die maand geld oor het, betaal dit ook op jou skuld af. Jou begroting moet realisties wees, sê René. “Onderskei tussen dit wat jy moet hê en dit wat jy wil hê. Maar moenie al jou ‘wil-hê-items’ sny nie. As jou begroting te streng is, is die kans goed dat jy binne ’n maand of twee daarvan gaan afwyk.”

5 Betaal duur skuld eerste

Jy kry duur skuld en goedkoper skuld. Duur skuld sluit in jou kredietkaarte, klererekeninge en persoonlike lenings waarop jy meer rente betaal. Jy kan tot 20% rente hierop betaal, sê René. Goedkoper skuld sluit in jou huisverband en ’n lening op jou motor, waarop jy minder rente betaal. Duur skuld jaag jou op die langer duur meer geld uit die sak. Probeer daarom om dit eerste af te betaal.

Doen dit so

  • Probeer om elke maand meer as die minimum bedrag op jou duur skuld af te betaal, want dan sal die rente wat jy skuld outomaties verminder, sê sy. Sodra dit afbetaal is, betaal dan maandeliks ekstra geld by jou goedkoper skuld af. As jy jou motor van R100 000 byvoorbeeld binne vier jaar afbetaal eerder as oor ses jaar kan jy tot R15 000 in rente bespaar.

6 Leef binne jou perke

Moenie die winkels invaar sodra jy jou salaris gekry het nie, sê René. Want as jy weer sien, is jou geld teen die middel van die maand op en moet jy jou kredietkaart of oortrokke fasiliteit gebruik om te oorleef. “As jy nie kan bekostig om iets kontant te koop nie, kan jy dit nie bekostig nie.”

Doen dit so

  • Vir die meeste van ons is dit maar moeilik om gedissiplineerd met ons geldsake te wees en nee te sê vir ’n mooi paar skoene. Ons voel maklik “ingedoen” as ons nee moet sê vir al die lekker dinge van die lewe, sê René. “Dit gaan makliker wees om gedissiplineerd te wees as jy jouself elke maand bederfies (binne perke) gun. Sê vir jouself jy gaan nie meer elke maand duur klere koop totdat jou geldsake onder beheer is nie, maar jy kan twee keer ’n maand ’n lekker ontbyt saam met ’n vriendin gaan eet.”
  • Stel ook vir jouself tydgebonde doelwitte en koppel belonings daaraan. Besluit byvoorbeeld jy wil jou klererekeninge oor ses maande afbetaal. As jy dit reggekry het, kan jy vir jou ’n mooi rok – kontant – koop. Die oomblik as jy jou mylpale haal, voel jy jy kom êrens en is jy gemotiveerd om gedissiplineerd te wees.

7 Wees ‘bankslim’ en spaar

Jy kan elke maand ’n paar ekstra rand in jou bankrekening hê as jy weet hoe om slim met jou banksake te werk.

Doen dit so

  • Trek geld by ’n Pick n Pay of Checkers se betaalpunt eerder as by ’n OTM, sê René. En probeer soveel moontlik van jou banksake aanlyn doen. Dis baie goedkoper.
  • Wanneer jy jou kredietkaart gebruik, probeer om die geld binne ’n maand af te betaal, sê Dawie. Kredietkaarte se rente word meestal eers ná 30 dae gehef. Hoe langer jy wag om dié skuld te betaal, hoe meer word dit weens rente. Probeer om elke maand jou kredietkaart heeltemal af te betaal.
  • Hoe meer gereeld jy geld by ’n OTM onttrek, hoe duurder is dit omdat jy elke keer ’n heffing betaal, sê René. Beplan jou uitstappies na die OTM. Werk elke week uit waarvoor jy kontant nodig gaan hê en probeer om net een keer ’n week geld te trek daarvoor.
  • Die meeste banke het bankkostepakkette waarvoor jy ’n eenmalige bedrag betaal om ’n sekere aantal transaksies (soos internet-transaksies, onttrekkings by ’n OTM en transaksies by winkels) te kan doen. Kyk na jou eie transaksiepatroon en werk uit wat is die beste pakket vir jou.

8 Spaar op versekering

Jy sal verras wees hoeveel geld jy kan spaar as jy elke ses maande jou versekering laat hersien. Die geld wat jy só spaar kan jy gebruik om jou skuld vinniger af te betaal of te spaar, sê Dawie.

Doen dit so

  • Jou motor se waarde neem jaarliks af. Dit beteken jou versekeringspremie behoort ook te verminder. Vra jou versekeraar om jou paaiement aan te pas.
  • Kry een of twee keer ’n jaar kwotasies van ander versekeraars en maak seker joune bied nog die beste waarde vir geld. Oorweeg ’n skuif as ander goedkoper is.
  • As jy in ’n kleiner blyplek ingetrek het en jy het minder huisinhoud, kan jy op huisinhoud-versekering spaar, sê hy.
  • Jy kry dikwels afslag op jou versekeringspremie as jou huis- en motorversekering by dieselfde maatskappy is, sê René.

9 Kontak jou skuldeisers

As jy regtig sukkel om jou skuld af te betaal, moenie angstig raak nie, sê René. Kontak jou skuldeisers en werk saam aan ’n realistiese plan om jou skuld af te betaal. Dit sal jou help om jou kredietrekord te beskerm en ’n bietjie van jou spanning te verlig.

Doen dit so

  • Mense is dikwels bang vir skuldeisers soos die bank, maar die bank sal jou tegemoetkom, want hulle wil hul geld terughê. Julle kan ooreenkom dat jy maandeliks ’n kleiner bedrag op jou skuld afbetaal.

10 Vermy die skuldstrik

Jou geldsake is uiteindelik onder beheer. Nou kan jy mos weer op skuld koop? Nee, sê Dawie. Dit is nou die ideale geleentheid om te begin spaar. ’n Begroting is nie net daar om jou te help wanneer jy in die knyp is nie. Dis ’n lewenslange plan, sê hy.

Doen dit so

  • Dis makliker om te spaar as jy ’n doelwit het, sê René. Die belangrikste is om eers ’n noodfonds op die been te bring. “Baie mense sê jy moet probeer om drie maande se salaris weg te sit. Maar ek vind mense is oorweldig as hulle so ’n groot bedrag moet spaar. Spaar wat jy kan. Elke bietjie help. En onthou, hierdie is jou spaargeld. Moet dit nie gebruik om klere of kos te koop nie. Hiervoor moet jy maandeliks in jou begroting voorsiening maak.
  • Spaar vir ander uitgawes soos vakansies in ’n aparte rekening sodat jy dit nie op skuld hoef te doen nie. Gee hierdie rekening ’n naam soos “My vakansiefonds”. As jy iets het om na uit te sien spaar jy makliker daarvoor.
[box:full:red:both]

SLIM SPAARWENKE

  1. Sny onnodige uitgawes. Jy was dalk drie jaar laas by die gimnasium, maar betaal nog elke maand honderde rande vir jou lidmaatskap.
  2. Dink mooi oor alles wat jy koop. Het jy dit régtig nodig? As die antwoord “nee” is, los dit.
  3. Eet voordat jy gaan kos koop. As jy honger is terwyl jy dit doen, wil jy meer koop omdat jy lus is vir allerlei lekkernye.
  4. Maak ook ’n lys van alles wat jy nodig het wanneer jy winkel toe gaan. Koop dan net die items op die lys.
  5. Kry ’n vriendin wat saam met jou spaar. Julle kan mekaar motiveer om nie die duur handsak te koop as die lus julle beetpak nie.

[/box]