spaar

FOTO Unsplash

Werk + geld

Só moet jou begroting lyk! Wel, so sê ‘hulle’ …

As jy tot dusver van salarisstrokie tot salarisstrokie gelewe het, is dit dalk tyd om ’n begroting te oorweeg.

50/20/30 … dis hoe jy jou geld moet verdeel, volgens LearnVest, ’n bekende finansiële beplanningswebtuiste in Amerika.

Die basiese idee werk so: Verdeel jou salaris in drie. Jou begroting bestaan uit maandelikse betalings en behoeftes, jou spaargeld en, laastens, jou begeertes. Die lekker ding van dié reël is dat dit van toepassing is op enige beroep of salaris, want dit werk op persentasies.

’n Begroting is nooit maklik nie. Inteendeel, die hele doel is juis om jou in te perk. So, soos die uitdrukking lui, “bear with us”…

50%

Dié gedeelte van jou maandelikse salaris behoort jou behoeftes te dek. Dit is dinge soos jou maandelikse huur, brandstof, jou bus- of treinkaartjie, elektrisiteit en water, versekering en kosinkopies.

Dit is belangrik dat jy hier by 50% bly. Jy moet onderskei tussen wat jy werklik nodig het en dié dinge waaraan jy net gewoond geraak het. So, as jy net een vol tenk brandstof by hierdie 50% kan inpas, moet jy die res van jou brandstof by ’n ander gedeelte van jou begroting inwerk.

20%

Hierdie persentasie bêre jy. Dadelik. En betaal dit sommer in ’n ander rekening in waaraan jy nie kan raak nie. Met hierdie geld betaal jy rekeninge soos studentelenings af, of dit gaan in iets soos ’n aftree-annuïteit. Die belangrikste is dat jy net nie nou aan hierdie geld raak nie.

30%

Nou is dit maklik. Ná die eerste twee stappe is dit die geld waarmee jy kan speel. Jy kan hierdie gedeelte van jou inkomste uitgee op jou begeertes. Onder “begeertes” tel al jou uitstappies, geskenke wat jy koop, klere en uiteet. Selfs jou DStv-kontrak sal onder hierdie 30% val.

Miskien is jy verbaas oor hoeveel geld jy eintlik oorhet om mee te kuier, maar nog belangriker: jy is dalk ook aangenaam verras oor die hoeveelheid geld wat jy maandeliks kan spaar!

Bronne: Career Girl Daily, LearnVest

Lees nou

7 geheime van mense wat spaar

Spaarwenke wanneer jy kos-inkopies doen

Spaar met slim skoonheidswenke