spaar

FOTO Mark Cameron

Werk + geld

Spaar soos ’n millennial!

Millennials is dalk jonger en het nog nie die jare se wysheid nie, maar daar is ’n hele paar truuks wat jy by ons kan leer. Lees hier vir die vreemde stategieë wat millennials gebruik om hul geld te bestuur.

Millennials weet dat spaar net ’n oorwinning in jou kop verg, dis ’n mind game. Jy moet jou kop regkry en ’n plan beraam. Dié slim plan kan homself in verskillende vorme aan jou bekend maak, afhangende van jou belangstellings, jou spaar-doelwitte en waarop jy gewoonlik geld uitgee.

En hoewel millennials ken van bankrekeninge oor die internet bestuur, bankrekening-apps vir jou slimfoon en apps waarmee jy sonder geld kan betaal, is daar waarde in die ou spaarmetodes soos die spaarbussie en om geld te trek en te sien waarheen dit gaan!

Hier is ’n paar strategieë en idees wat jongmense gebruik om hul geld weg te sit:

1. Trek jou geld en gebruik koeverte

Ek ken iemand wat aan die begin van die maand ál haar geld trek en in koevertjies verdeel. Op die koeverte staan woorde soos “vermaak”, “inkopies” en “brandstof”. “Spaar” en “noodgevalle” los sy in haar bankrekening. As sy dus besluit sy gaan vandag inkopies doen, mag sy net geld uit die een koevert gebruik. En as sy die aand wil uitgaan, mag die geld net uit “vermaak” se koevert kom.

Maak dié idee joune:
Dit klink dalk ingewikkeld, maar sy meen dat jy dan die geld sién minder raak en daarom meer bewus is van hoe jy dit gebruik. Dit is een van die eerste stappe om vir jou die perfekte begroting op te stel en te leer om daarvolgens te leef.

spaar

FOTO Unsplash

2. Jou kar se paneelkissie

Refinery29 vertel van ’n 28-jarige wat elke keer die oorblywende geld wat sy in haar beursie het, in haar kar se paneelkissie sit. Haar plan werk so: sodra sy haar kar by haar huis parkeer, maak sy haar beursie oop en plaas al die kleingeld in haar beursie oor in ’n blikkie of ’n sakkie in die paneelkissie. Sodra sy by $100 kom, ry sy bank toe en deponeer dit.

Maak dié idee joune:
Jy kan hierdie idee natuurlik ook jou eie maak deur die ou spaarbussie in jou kamer te gebruik. Die truuk is net dat dit ’n gewoonte moet word.

3. Spaar ’n soort noot

’n 32-jarige in Refinery29 se lys het ’n werk wat sy ná ure doen. As sy in kontant betaal word, spaar sy altyd haar $5-noot. Dié note gebruik sy vir lekker dinge soos uitgaan en fliek. Die res van die geld plaas sy in haar bankrekening.

Maak dié idee joune:
’n Vreemde idee beslis, maar ook een wat selfdissipline verg en wat sy volgens haar eie behoeftes aangepas het.

Miskien kan jy altyd jou R2’e, R5’e of selfs R10’e spaar sodra jy dit as kleingeld kry. Veral as jy ook ’n tweede inkomste het, is dit ’n goeie idee om ’n groot gedeelte van dié geld te spaar. En besluit vooraf hoeveel daarvan jy kan gebruik om jouself te bederf vir al jou harde werk.

FOTO: Unsplash (Sarah Swinton)

FOTO Unsplash (Sarah Swinton)

4. Sê “nee” vir jou gunsteling- onnodige kopies en beloon jouself daarvoor

Ons almal weet nou al die koffie wat jy elke dag koop, die lekkerny wat jy nie kan weerstaan nie en die middagete saam met kollegas hoop alles op tot ’n groot maandelikse uitgawe. Hoekom maak jy nie soos sommige millennials nie? Elke keer dat jy besluit om nié daardie koffie te koop nie, gaan jy dadelik na jou bankrekening toe en plaas die R20 oor in jou spaarrekening.

Op dié manier beloon jy jouself met die geld wat jy sou uitgee – en eendag kan jy die beloning geniet.

#9tot5: Só kry jy daai werk

5. Hou jou spandeer-geld eenkant

’n 24-jarige vertel dat sy vroeg besef het sy kan nie net aanhou geld trek vir elke geleentheid nie. Dit het haar geflous, want dit het altyd gevoel asof sy geld in die bank het – tot daardie dag dat daar natuurlik niks meer is om te trek nie.

Sy het besluit om die geld wat sy weekliks spandeer, minder te maak. Sy het besluit op ’n bedrag, hierdie bedrag maal 4 getrek, en dit in ’n houer by haar huis gehou. Elke week as sy geld wil gebruik op wegneemetes, uitstappies, ensovoorts, moet dit uit hierdie houer kom. En as dit klaar is, is dit klaar.

Sy plaas haar geld in ’n houer sodat sy self kan sien hoe vinnig haar geld minder word en op watter onbenullighede sy in die verlede haar geld wou uitgee.

Maak dié idee joune:
Daar is baie waarde daarin om bewus te word van jou spandeer-patrone. As jy weekliks én oor naweke te veel geld uitgee, maar dit nie kan bekostig nie, is dit tyd om êrens jou uitgawes te sny.

6. Steek geld in klere weg

Ja, millennials doen dít! Voor jy jou baadjie aan die einde van die winter wegpak, sit jy ’n R100-noot in een van die sakke vir volgende jaar se koue seisoen.

Maak dié idee joune:
Jy ken daardie gelukkige gevoel as jy geld in jou sak vind, maar om aspris die geld in jou sak te sit is dalk nie die oplossing nie. En dit sal baie krag van my vat om nie daardie noot uit my baadjie te gaan haal nie …

Tog is die idee dat jy geld wegsit vir ’n ander seisoen, slim. Kry iets soos FNB se Savings Pocket in jou rekening of ’n spaarbussie om jou geld in te sit vir winterklere of somer-uitstappies.

7. Hou aan met jou afbetalings

Een van die millennials op Refinery29 het sy kar maandeliks afbetaal. Toe sy kar uiteindelik afbetaal is, het hy hierdie betalings nie stopgesit nie, maar die geld net maandeliks na sy spaarrekening toe oorgeplaas.

Maak dié idee joune:
Die geld van die kar se afbetaling het elke maand afgegaan en jy moes dan uitkom met die geld wat oor is. As jy dit kon doen, kan jy sekerlik aanhou en hierdie geld spaar.

Ons almal weet dat sodra jy meer geld verdien, jy in elk geval nooit kan verstaan hoe jy met minder klaargekom het nie. Moenie dat hierdie geld ook in jou rekening gaan lê en “verlore” raak nie.

#9tot5: Skrap hierdie 10 slegte kantoorgewoontes

reis

FOTO Unsplash (Steve Richey)

8. Maak ’n “droom-bord” van die vakansies waarvoor jy spaar

Plak die foto’s op teen jou kantoor se mure, bo jou lessenaar by die werk of by die huis. Millennials se idees oor spaar begin alles in ons kop, want dit is in jou kop waar jy jouself oortuig om geld uit te gee selfs al weet jy jy moet nie.

Maak dié idee joune:
As jy kan sien waarvoor jy spaar, of dit nou ’n vakansie is, ’n nuwe rekenaar, ’n kar of ’n jas, dit word baie werkliker as jy dit voor jou kan sien. As jy ’n gesin het, kan dit nogal ’n lekker aktiwiteit wees. Elkeen kan foto’s soek van wat hulle in die Desembervakansie wil doen. Plak die vakansiebord êrens in die huis waar elkeen dit kan sien. Op dié manier werk die hele gesin saam om die vakansie of uitstappies ’n moontlikheid te maak.

Lees ook

5 wenke om kop te hou as geldsake knyp

Neem beheer van jou geldsake in 2016 met dié 8 wenke