Werk + geld

Verander só van rigting

Kry kennersraad Moenie impulsief van werk verander nie. Raadpleeg eers ‘n beroepskonsultant, leefstylafrigter of sielkundige wat in loopbane en beroepsverandering spesialiseer. Daar kan jy toetse aflê wat jou leer- en bestuurspotensiaal en jou emosionele intelligensie meet. Só sal jy jouself beter leer ken en beter kan kies, sê dr. Pieter Koortzen, senior konsultant-sielkundige van Johannesburg.

Ontdek jou passie Vra jouself: Waarin is ek regtig goed? Watter boeke trek my aandag? Wat was my drome as kind? Watter drie mense bewonder ek en hoekom? Watter werk sal ek doen as geld nie ‘n kwessie is nie?

Dink oor jou belangstellings Kies ‘n beroep wat by jou belangstellings pas. Maar, waarsku Pieter, sommige belangstellings is bloot stokperdjies. Jou liefde vir diere beteken nie noodwendig jy moet ‘n veearts word nie.

Oordink jou waardes Dalk word daar in jou huidige beroep verwag dat jy jou waardes prysgee. Jy is miskien ‘n wildbewaarder wat glad nie olifante kan skiet vir wildbeheer nie! Navorsing wys geld is nie die vernaamste motiveerder vir mense wanneer hulle ‘n beroep kies nie, maar vir sommige is dit ‘n belangrike oorweging, sê Pieter. Jy kan wel ‘n beroepskuif maak vir meer geld, maar dan moet jy ook passievol oor die werk wees. Besef ook die kanse is groot dat jy in ‘n nuwe rigting aanvanklik vir ‘n kleiner salaris sal moet werk. Jy begin dalk onder.

Neem jou aanleg in ag Dan is jou kans op sukses veel groter. Jy kan net ‘n rekenkundige word as jy ‘n syferaanleg het.
Besluit op die regte opleiding As jou nuwe beroep bykomende opleiding verg, maak eers seker jy bestee nie derduisende rande en jare aan ‘n kursus wat jy nie sal kan gebruik nie. Maak ook seker daar is werkvooruitsigte.

Doen navorsing Vra verskeie instansies of jy by hulle kan werkskadu, al is dit net vir ‘n dag. Vra die werknemers waarvan hulle hou en waarvan nie. Vra ook uit oor vergoeding, opleiding, bevorderingsmoontlikhede en beskikbare poste. Gaan gesels daarby met opleidings-instansies oor kursusse en die koste.

Doen die nuwe werk eers op ‘n deeltydse grondslag of as stokperdjie. As jy ‘n fotograaf wil word, kan jy dalk oor naweke troufoto’s neem om te kyk of dit vir jou is. Of doen vrywillige werk. As jy opgelei wil word as paramedikus, bied jou dienste gratis aan by ‘n ambulansdiens. Ondersoek ook die moontlikheid om in jou huidige werk ‘n oorplasing te kry na ‘n heel nuwe afdeling om die nodige ervaring op te doen, sê Pieter.

Kry ‘n goeie mentor in jou nuwe veld om vir jou waardevolle inligting én informele opleiding te gee.

Lees loopbaanboeke soos My Career of A-Z of Careers in Southern Africa en gebruik die internet vir nog inligting.

Identifiseer en evalueer beroepe Daar is ‘n ryke verskeidenheid beroepe in elke veld. Jy oorweeg dalk medies, maar keuring of jou ouderdom tel teen jou. Dan is daar ook arbeidsterapie, radiografie of verpleegkunde.

Neem aksie Evalueer wat jy bereid is om op te offer. Bespreek die verandering met jou gesin, ook hoekom jy dit nodig het.

Oordink jou finansies Gebruik jou spaargeld of gaan ‘n lening aan. Beplan hoe en waar jy verder opgelei gaan word, hoe jy dit gaan finansier en hoe jy jou ander geldverpligtinge gaan nakom.

Doen vroegtydig aansoek by opleidingsinstansies, verkieslik ‘n jaar vooraf. Maak vroeg reeds kontak met voornemende werkgewers, bou ‘n verhouding en hou hulle op die hoogte.

Besluit op die regte tyd om te skuif en beplan jou doelwitte.

HULP

Dr. ST Potgieter,

021 949 5007, www.pitkos.co.za
Dr. Pieter Koortzen,

011 325 4556/7

of 021 425 5767, www.resolve.co.za