FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Werk + geld

Was jy al skaam & verleë by die werk? 3 redes hoekom dit goed is

As daar een ding is wat jy in die lewe moet weet, is dit die volgende: Die aarde sal jou nie insluk nie. Almal het al by die werk verneder, ongemaklik of verleë gevoel. Dis normaal! En boonop goed vir jou, berig Fast Company.

Jy lees reg. Fast Company sê verleentheid het positiewe uitwerkings – daar is drie redes.

Ja, dis makliker gesê as gedaan. Niemand wil ongemaklik voel by die werk nie, veral omdat jy die meeste ure van jou dag daar moet deurbring. Tog sal dié 3 redes jou motiveer om eerder daaroor te lag.

Hier is 3 redes waarom dit oukei is om skaam te word

Betroubaarheid

Kollegas en werkgewers is meer geneig om diegene te vertrou wat bloos en wys dat hulle vernederd is of selfs skaam voel. En hulle sal jou selfs makliker vergewe. Hoekom? Jou gesigsuitdrukking wys dat jy begrip het vir die situasie en selfs berou het oor jou aksies.

Gereedheid

Jy is meer voorbereid vir situasies wat kan verkeerd gaan omdat jy weet daar is ’n moontlikheid van vernedering. Omdat jy nie jouself of jou span wil teleurstel nie, hou dit jou gereed vir uitdagende situasies, nagevolge of vrae.

Beskerming van waardes

Fast Company meen dat vernedering die samelewing help. Dit beskerm die sosiale orde omdat dit wys dat ons almal tog net mens is. Dinge kan enige tyd nie volgens plan verloop nie, vir enigeen van ons. Dit lig ook uit wat vir ons belangrik is, soos om werksverwagtinge na te kom.

Hanteer verleentheid só:

1. Spreek dit aan eerder as om die situasie te vermy. As jy dit met humor doen, is dit nog beter!

2. Drink ’n glas koue water en koel af. As jy bloos, raak jou liggaam warm. Iets wat jou help afkoel, kan die situasie en die uitwerking daarvan verminder.

3. Wees goedhartig teenoor jouself. Aanvaar dat jy nie perfek is nie – nes al die ander mense op aarde. Lag liewer saam met jou kollegas en probeer jou bes om jouself nie af te kraak nie.

Bron: Fast Company

Lees nou

Nuwe WhatsApp-funksies!

#9tot5: 2 susters leer ons hoe!

#9tot5: Haal hierdie woorde uit jou CV uit!