bank

FOTO Unsplash / Vitaly Taranov

Het jy gehoor?

Wees veilig by die kitsbank!

Ons is byna in die feesseisoen, wat beteken meer geld word by kitsbanke getrek. Meer kansvatters staan ook nou nader, want vakansiegangers in ’n rustige luim is sagte prooi. Maar die OTM bly één plek waar jy altyd versigtig en agterdogtig moet wees. Hier is ’n paar wenke.

FNB het ’n paar wenke met ons gedeel. Maak seker jy en jou geliefdes is waaksaam en wakker as dit by jul PIN-kode en kontantonttrekkings kom.

Beskerm jou PIN-nommer

1. Moet nooit jou PIN-nommer met iemand deel nie – nie eers vriende of familie nie – en moet dit nooit neerskryf nie.

2. Moenie die kombinasie van nommers in jou PIN maklik maak nie. Moet nooit jou geboortedatum gebruik nie.

3. Maak die syfers op die toetsbord met jou een hand toe as jy begin intik.

4. Staan so naby as wat jy kan aan die OTM. As jy voel iemand staan te naby aan jou, vra dat hy of sy verder wegskuif en stop jou transaksie as jou aandag deur iets afgetrek word.

5. Moenie jou kode intik as die skerm vir jou vreemd lyk nie. Maak ook seker jy lees die instruksies en vraag voor jy intik. Swendelaars kan klein kameras teen die bo-kant vasplak wat jou kode verfilm.

Beskerm jou geld

1. Sodra jy geld onttrek het, sit dit dadelik in jou beursie en handsak.

2. Sit ’n daaglikse limiet op hoeveel geld uit jou rekening onttrek kan word.

3. Hou jou bankstate dop vir enige agterdogtige transaksies en meld dit dadelik aan.

4. Wees versigtig vir vreemdelinge wat jou na die OTM toe terugroep. Hulle sê gewoonlik jou transaksie is nie klaar nie of dat hulle hulp met hul eie transaksie nodig het. As jy klaar is met jou transaksie, sit jou geld onmiddelik in jou beursie en dadelik in jou handsak, loop dan direk na die deur en by die OTM-hokkie uit. Ignoreer enige aanmerkings van vreemdelinge.

Onthou

1. Moet nooit by vreemdelinge hulp vra nie, nie eens die sekuriteitswag nie. Gaan liewer na jou naaste bank vir hulp.

2. As jou kaart nie maklik deur die OTM opgeneem word nie, moet dit liefs nie hardhandig dwing nie. As die OTM vir jou onklaar lyk, gaan liewer na ’n ander kitsbank.

3. Wees op jou hoede en pasop vir leeglêers.

Bron: FNB

Lees ook

Is jy veilig op die internet?

Maak geld op dié apps … met enige talent!

Nuwe WhatsApp-funksies!