FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Werk + geld

Weet hoe om te netwerk: alles wat jy moet weet oor skouers skuur

As jy altyd “iemand ken wat iemand ken wat iemand ken” het jy ’n voorsprong in die werkwêreld. Dís die voordeel van netwerk… (En jy kan dit leer as jy nie weet hoe nie)

Jy gaan vanoggend daardie sake-ontbyt misloop, want jy wil eerder agterstallige werk inhaal. En boonop is jy nie lus vir geselsies nie… Slim strategie? Nee… eerder groot fout! Kenners sê deesdae gaan alle besigheid oor netwerk. Trouens, dis noodsaaklik vir werksukses.

Cathy Holloway, ’n Amerikaanse beroepskonsultant, reken dat nagenoeg 75 persent van nuwe besigheid spruit uit die bou van verhoudings en verwysings. Om te netwerk is een van die kostedoeltreffendste maniere om ’n onderneming te bou.

Plekke om skouers te skuur

Partytjies

Kies geleenthede wat waarde tot jou besigheid kan toevoeg, sê Tania Goosen van JHG Personeelpraktisyns in Bellville, Kaap.

  • Sosialiseer met soveel mense moontlik, maar net vyf tot agt minute elk.
  • Moenie die idee oordra dat jy daar is om te bemark nie. Dis opdringerig (pushy). Luister eerder goed na ander, stel opreg belang en vra uit – sonder om eers oor jóú werk uit te brei. Volg later jul gesprek met ’n e-pos of SMS op. “Dis minder op die man af,” sê sy.
  • Moenie visitekaartjies uitdeel tensy iemand vra nie.

Aanlyn

Sluit by LinkedIn aan. Volgens fastcompany.com kry dié sakenetwerk elke sekonde twee nuwe lede wêreldwyd by. LinkedIn is die magtigste werktuig om jou aanlynhandelsmerk te bou, met ander in jou veld te netwerk, nuwe besigheid te kry en insiggewende gesprekke te hê, sê Helen Nicholson. In SA span werkgewers veral LinkedIn deeglik in vir nuwe aanstellings, sê sy ook.

  • Jou profielfoto moet professioneel wees. Niemand wil met jou hond sake doen nie!
  • Daardie foto waar jy op ’n tafel dans, is oral verbode. Deesdae raadpleeg werkgewers selfs Facebook voor hulle jou aanstel.
  • hulle jou aanstel. Moenie vloek, kla, jou baas slegsê of opruiende stellings maak oor sensitiewe sake soos ras of gay-wees nie.
  • As jy nie jou werk- en persoonlike lewe kan of wil versoen nie (jou soort werk speel ’n rol), skep liefs ’n aparte blad vir sake en hou jou sake-twiets apart van jou persoonlikes.
  • Skep jou eie webwerf en hou die inhoud vars. Dis maklik vir verwysing. Of jy kan jou besigheidskakel op ’n ander toepaslike webwerf sit.
  • Skryf ’n blog op jou maatskappy se webwerf. Kliënte leer jou, jou maatskappy en sy produkte so ken. Interaksie is ook maklik.

Jou kind se skool

Ma’s bring baie tyd by die skool deur, is uitstekende netwerkers en is dikwels meer as net mom’s taxi. Dis ook dikwels húlle wat kunsmarkte begin en pretdae en fondsinsamelings reël. Leer so en gebruik dié geleenthede. Karen Dreyer, tot onlangs voorsitter van ’n ouervereniging aan ’n private skool op Melkbosstrand, het so baie geleer en was so ’n suksesvolle netwerker dat sy nou haar eie sakeonderneming het.

  • Fokus weg van jouself, stel vas wat ander ma’s se sterkpunte is. Ontgin dit en bied ook joune aan.
  • Moenie net opdragte gee nie, werk as ’n span saam.
  • Praat met die ander ma’s, e-posse is onpersoonlik.
  • Skep ’n beroepsregister. Dis ’n lys van ma’s se name en beroepe. So kan julle mekaar nader.
  • Adverteer jou besigheid of diens in die skoolnuusbrief of deel dit op hul Facebook-blad. “Dit word vinnig weer met ander gedeel,” sê Karen.

Ons kenners Tania Goosen en Louis Kotzé gee nóg wenke

  • Elke geleentheid is ’n netwerk-geleentheid. Moet dit nie as ’n saketransaksie benader nie, netwerk gaan oor die bou van verhoudings.
  • Sorg dat jy bekend staan vir jou uitstekende diens en produkte.
  • Moenie wag vir verwysings nie. Stel mense aan mekaar voor.
  • Moet niemand onderskat nie. Daardie man in die eenslaapkamerwoonstel het dalk net ’n miljoen om te belê.
  • Stel vooraf vas of ’n kliënt jou produk of diens nodig het. Sê ook altyd “ja”, pleks van “ja, maar”, sodat ’n verdere gesprek moontlik is.
  • Volg op en hou by beloftes. As jy belowe het jy gaan agterna ’n e-pos stuur, doen dit.
  • Stel ’n databasis met kontakte saam en skakel gereeld met hulle. Stuur ook gelukwense en jou eie nuusbrief.
  • Doen soms iets sonder om geld of ’n verwysing te verwag. Borg ’n tafel of gee geskenkbewyse. Só wys jy jy gee om (en bou jy jou handelsmerk).
  • Vertel ’n interessante storie oor jou beroep, eerder as om net feite te gee.
  • Wees altyd jouself. Voorgee skend vertroue.

Nóg oor werk en geld