Werk + geld

Werkdinge

5 waarhede oor leierskap

    * Leierskap is nie ‘n posisie nie, dis invloed. ‘n Leier máák ‘n posisie.
    * Al is jy bo, moet jy die reg om te lei verdien.
    * Goeie leierskapvaardighede kom van lewenservaring. Goeie opleiding se waarde is onskatbaar.
    * Soos jy die leer uitklim, neem jou verantwoordelikhede toe. Beskou egter regdeur jou loopbaan beperkinge as uitdagings.
    * Mik om bo uit te kom in jou veld eerder as in die organisasie. Dit sal jou motiveer en jou vaardighede en potensiaal onder die aandag van jou seniors bring.

Bron: Myths about leading from the middle deur John C. Maxwell (soos aangehaal deur Take that

          Lead-nuusbrief)

Baas van die vergadering

  • Wees beslis oor die doel van die vergadering
  • Wees voorbereid en begin betyds 
  • Skakel alle selfone af 
  • Stel die deelnemers aan mekaar voor 
  • Stel duidelike doelwitte en hou by die agenda
  • Moenie toelaat dat ego’s of aggressie seëvier nie 
  • Luister na ander en vra menings 
  • Slaan ag op elkeen se bydrae
  • Almal moet besef die hele organisasie vind baat daarby

Bron: Professional Impressions, ’n maatskappy wat mense finansieel bemagtig

Dít werk vir my

Trudi Lovegrove (foto) van Port Elizabeth is as maandwenner (April) in Business Partners se Entrepreneur van die Jaar-wedstryd in die Kaapse streek aangewys.
Haar geleentheid-verhuringsonderneming, Berman Hire, het sy geprojekteerde syfers met 40% oortref. Jy kan enigiets vir gesellighede, van eetgerei tot markiestente, huur.

Waaraan skryf jy jou sukses toe? Ek het ’n absolute passie vir die onthaalbedryf en lewer diens sonder grense.
Wat motiveer jou om soggens op te staan? Die beloftes wat ek aan myself gemaak het. Ook my my gesin, kollegas en kliënte.
Hoe behou jy ’n goeie verhouding met jou kliënte? Ek leer hul behoeftes ken en verstaan. As hulle enigiets nodig het, bel hulle net vir Trudi!
Wat is die grootste struikelblokke wat jy moes oorkom? Om by te hou by die markbehoefte en om aanvaar te word in ’n bedryf waarin mans steeds oorheers.

Belangrikste sakeles? Ons as individue weet nie alles nie. Kernwaardes en spanwerk tel en ons moet van ander leer.

 

Trudi Lovegrove

Ursula Stapelfeldt, aanbieder van Top Billing, se werkfilosofie:

“Ek is daarop ingestel om elke reis te geniet en om dankbaar te wees vir geleenthede wat ek kry. Ek is regtig, regtig gaande oor wat ek doen en ek hoop dit kom op die klein skerm oor.”

Dis ons geheim

Franchising in South Africa: The real story deur Eric Parker en Kurt Illetschko, Frontrunner Publishing, 2007, R150.
Hierdie boek is nie net vir jou as jy ’n tak van ’n bedryfsreg-onderneming (franchise) wil bedryf nie, maar vir elkeen wat die sakewêreld wil leer ken. Kom meer te wete oor die geheime agter suksesvolle maatskappye soos Steers, die Spur, Pick ’n Pay en Mugg & Bean. En leer hoe om jou eie franchise suksesvol te bedryf.

 

Franchising in South Africa