FOTO: verskaf

Boeke

Wie is bang?

Wat maak jou bang in ‘n boek? Die vraag deur ‘n vriendin het my hard en diep laat dink.

Ek word nie bang wanneer ek oor moord, aanranding en geweld  lees nie. Prostitusie, motorkapings en ontvoering laat my ook nie bewe nie. Ek is seker gedesensiteer toe ek as koerantfotograaf heeltemal te veel van die tipe stories moes trotseer. Sielkundige rillers slurp ek by die dosyne op. Dikwels lê en lees ek dié verhale tot lekker laatnag. Psigopate wat ander mense moedswillig te na kom of manipuleer se verhale boei my. Natuurrampe is vir my ontstellend wanneer ek daaroor lees, maar maak my nie bang nie. Wat bly daar oor vir my om oor bang te wees? Die mens se verwoesting van die aarde en ‘n tekort aan water – dit maak my bang, sommer baie bang. Wanneer ek ‘n verhaal lees oor so ‘n verweerde aarde waar al die karakters weerloos is en op genade moet probeer voortleef, kry ek ‘n koue gevoel om my hart.  Bang is ‘n relatiewe begrip het ek besef. My bang is nie noodwendig  jou bang nie. Wat maak jou bang? En wie is bang?

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

The Chef, Martin Suter (Atlantic Books, R216,48)
Maravan, ‘n uitgewekene van Sri Lanka, werk in ‘n restaurant in Zurich as skottelgoedwasser.  Eintlik is hy ‘n uitstekende sjef wat kan toor met bestanddele. Mense wat sy geregte eet swymel daaroor. Een aand leen hy onregmatig ‘n apparaat uit die restaurant se kombuis om ‘n feesmaal te berei. Hy word afgedank vir die oortreding. Andrea, ‘n kelnerin wat hom probeer verdedig, word ook afgedank. Maravan besluit om vir Andrea ‘n fees voor te berei en sy swig voor sy sjarme, of eerder sy kos en beland in sy bed vir ‘n nag van passie!
Sy is verstom hierdeur, want sy is lesbies. Sy besluit summier hulle moet ‘n vennootskap sluit en ‘n besigheid , Love Food, begin waarin sy kliënte sal werf vir wie Maravan so ekslusiewe feesmaal met byvoordele moet voorberei. Natuurlik teen ‘n aardige bedraggie. Maravan het nie ‘n keuse nie, want hy het geld nodig om sy familie in Sri Lanka te help. Hulle onderneming raak so gesog en suksesvol dat hulle ingesleep word in ‘n donker onderwêreld van politiekery en konkelary oor wapensmokkelary, moord en seks. Dit hou nare gevolge in vir Andrea en Maravan.
‘n Boeiende verhaal wat jou meesleur op ‘n reis van kos en allerhande ander intriges. Met baie humor en ironie geskryf. – Phyllis Green

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Noot vir Dood, Ilza Roggeband (Queillerie, R199,95)
Ek was aanvanklik baie skepties om hierdie boek te begin lees. Toe ek hoor dat dit ‘n misdaadroman is, was ek só bang dat dit dalk ‘n ‘namaaksel’ van een van Deon Meyer se boeke is. Dis egter glád nie die geval nie…
Carel Strydom is een van die suksesvolste Afrikaanse sangers van die era. Sy lewe is vol opwinding, drama en interessante karakters. Daar is skinderstories, ‘n obsessiewe aanhanger, ‘n paar onverklaarbare moorde, ‘n geknoeiery met geld en ‘n musiekbedryf wat glad nie meer is soos dit was nie. Maar die hoofkarakter dra ‘n groot geheim wat sy hele loopbaan vir ewig kan verwoes. Nét nadat die joernalis Tertia Viviers dié geheim uitvind, word sy vermoor . . .  en dit was maar net die begin.
Die verhaal beweeg teen ’n stewige pas, met die moord van die joernalis wat reeds op bladsy 10 gepleeg word. Dit skep ’n gesonde spanningslyn wat enduit volgehou word. Dis ‘n onvoorspelbare verhaal, met soveel kinkels en kabels wat maak dat jy sukkel om die boek neer te sit. Plek-plek het ek selfs lekker vir die karakters en hul sê-goed gegiggel. Noot vir Dood is ‘n boek wat baie vermaak inhou, ‘n boek wat jy móét lees.’n Heerlike roman, geskryf deur ’n joernalis wat die Afrikaanse musiekbedryf intiem ken.   – Suzanne de Beer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Big  Brother,  Lionel Shriver (HarperCollins, R303,02)
Lionel Shriver het haar loopbaan (dis reg, Shriver is ‘n vrou) as joernalis begin, maar ook ‘n aantal romans die lig laat sien voordat We need to talk about Kevin haar bekendheid verwerf het. Big Brother is reeds vóór We need to talk about Kevin geskryf, maar het nou onlangs eers verskyn. Die titel verwys na die verteller, Pandora, se groteske oorgewig broer, Edison Halfdanarsan, wat na vier jaar se afwesigheid by sy suster en haar fiksheidsbewuste tweede man in hul ‘big lobotomized house’ op besoek kom. Dit ontaard in ‘n beproewing.
Reeds by die lughawe hoor Pandora hoe ander kla, ‘I was totally smashed against the window. They should charge [fat people] double and leave the next seat empty.’ Dit blyk sy vetsug is gekoppel aan die mislukking van sy loopbaan as jazz-musikant. Pandora besluit om hom gewig te laat verloor, maar dis ‘n opdraende stryd. Sy vertel hoe sy eens na hom opgesien het vanweë ‘his fearless public performances and his sexy ex-wife, the vast canvas on which he’d painted his life, dashing and flashy, gunning a harvester through the hay of the daily grind.’
Edison het intussen verander en Pandora slaag nie in haar doel nie. Die gewig wat hy afskud, kom spoedig weer terug. Die tragiese sy van sy lewe word beklemtoon wanneer sy vervreemde seun opdaag. Vir ‘n oomblik lyk dit asof ons empatie met ‘n karakter mag ontwikkel, maar  Pandora se stiefdogter ontnugter ons deur smalend te sê, ‘He gives me the creeps.’ Big Brother het ‘n volgehoue sterk ironiese klank. – John van den Berg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Diva,  Isa Konrad  (Lapa Uitgewers, R195)
Deborah Deysel, wêreldberoemde Suid-Afrikaanse operasangeres, keer ná ‘n afwesigheid van ‘n jaar terug na haar villa in Zürich. ‘n Jaar vantevore was sy betrokke in ‘n skandalige verhouding met ‘n getroude dirigent, Marcel Alinberg, en die media het haar daaroor gekruisig, maar sy besef dat sy nie van haar verlede of die paparazzi kan ontsnap nie.
Pas na haar terugkeer word Marcel vermoor, en aangesien Deborah die laaste persoon was om hom lewend te sien, is die polisie gretig om met haar te praat. So ontmoet sy vir luitenant Janek Baptiste wat die saak ondersoek. Janek is nie ‘n tipiese speurder nie, hy is eintlik ‘n professor in kriminologie, wat toevallig betrokke geraak het by polisie-speurwerk.
Hierdie is ‘n interessante speurverhaal met interessante karakters en dit handel oor ‘n baie interessante onderwerp in die musiekwêreld. Daar word ook ‘n goeie skeut liefdesintrige ingeweef in die verhaal.  – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Deeply Odd, Dean Koontz (HarperCollins Publishers, R210)
Odd Thomas doen gestalte aan sy naam. Hy sien die geeste van dooie mense en het ook visioene van gebeure of mense wat binnekort gewelddadig gaan sterf. Een oggend op pad winkel toe lei ‘n ontmoeting met ‘n trokdrywer hom tot ‘n onrusbarende visioen waarin drie jong kinders sterf. Hy moet probeer om te keer dat die visoen waar word. Sy soektog na die kinders lei hom van Kalifornië na Nevada en terug. Hy ontdek  die trokdrywer is deel van ‘n netwerk van okkultiese moordenaars. Op die pad ontmoet hy verskeie mense, sommiges wat hom help. Hy het al die hulp nodig wat hy kan kry.
Dis die sewende boek in die Odd Thomas-reeks. Elke boek kan op sy eie gelees word, maar vir agtergrondkennis oor wie Odd Thomas is en al sy wedervaringe, is dit ‘n goeie idee om die reeks te lees. Dis uitstekende wetenskapfiksie geskryf deur ‘n meester-storieverteller.   – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Plesierengel, Leon van Nierop (Tafelberg, R210)
Hierdie is die nuwe weergawe van Leon van Nierop se 1997-roman. Dit vertel die storie van Tristan Hansen wat homself ten duurste aan die land se rykste vrouens vir ‘n nag van plesier verkoop. Een van sy kliënte pleeg selfmoord.  Tristan se naam word met die vrou verbind en sy ma word  gekonfronteer met die werklikheid dat haar seun ‘n prostituut is. Sodoende kruis Tristan se pad met Erica Hamilton, ‘n sielkundige wat Tristan probeer ontleed en die rede probeer vind vir sy beroepskeuse. Sy ontdek dat Tristan se prostitusie oor veel meer gaan as net seks en sy leer ‘n ander sy van hom ken.
Alhoewel sensitiewe lesers gewaarsku word oor sekstonele, word Tristan se ontmoetings met sy kliënte baie smaakvol beskryf.  Die seks is realisties en nie sensasioneel nie.
Die verhaal speel af in die middestad van Johannesburg en mens kry ‘n kykie na die donker en swaarkry-kant van die stad. Dit is egter ‘n tema wat in meer diepte uitgebrei kon word en boonop word die persoonlikheid van die stad Johannesburg tot ‘n mate ignoreer.
Leon van Nierop het hom egter goed van sy taak gekwyt. Temas soos prostitusie, ware geluk, die worsteling met en die verantwoordelikheid van persoonlike besluite word aangeraak. Dis wel ‘n hartseer storie, maar beslis ‘n boek om oor na te dink, lank nadat jy dit neergesit het.  – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Accidents happen, Louise Millar (Pan Books, R166)
Wanneer Kate en haar tienjarige seun Jack na Oxford verhuis om `n nuwe lewe te begin na die dood van haar man, is Kate vasbeslote dat gebeure in haar verlede haar nie weer onder sal kry nie. Ten spyte van die ondersteuning wat sy van haar skoonouers kry, voel Kate ongemaklik en onveilig in die nuwe huis.  Dit voel asof iemand haar dophou.
Haar skoonouers voel sy dra hierdie spanning oor op Jack. Hy behoort net `n normale jong seun wees en behoort nie sy ma se vrese te deel nie. Nog minder is dit sy taak om haar te probeer beskerm. Hulle dreig om Jack van haar weg te neem, indien sy nie terapie kry nie. Maar Jack hoor ook geluide in die huis en goed in sy kas skuif rond!
Kate besluit om wel iemand te gaan sien, sodat sy haar seun kan behou. Die afspraak verloop nie goed nie. Sy ontmoet onverwags `n aantreklike professor, wat haar oortuig dat sy haar vrese kan oorkom en dat sy en Jack weer `n normale lewe kan lei – na die dood van haar ouers op haar troudag en die moord op haar man in hul huis in London.
Sy en haar skoonsuster Saskia het nog altyd `n noue band gehad, maar dinge is besig om uit te rafel. Saskia is vervreem van haar man en het skuldgevoelens daaroor. Sy bieg teenoor Kate wat die eintlike rede is vir die verbrokkeling van haar huwelik. Sy is ook baie ongelukkig in haar werk.
Kate begin gelukkiger  voel as in baie jare, maar dan is daar `n skokkende ontdekking wat almal se lewens raak. Sommige mense het net meer ongeluk as ander en Kate Parker is een van hulle.
 `n Boek wat jy nie wil neersit nie! – Nicolene Carstens

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Moord in die Beloofde Land, Francois Bloemhof (Human & Rousseau, R199,95)
Dis die nuutste spanningsverhaal deur Francois Bloemhof.
Dit speel af tussen die tydperk  van die 1970’s – 1990’s en wentel om die grootwordjare van Samuel. As ‘n jong seun ontwikkel hy ‘n obsessie met ‘n moordenares en dit dien as ‘n deurlopende tema in die boek. Namate hy ouer word, kom hy in kontak, nie net met die gruwels van die wêreld nie, maar ook met die donker  wat binne homself skuil.
Dit is ‘n boeiende verhaal wat plek-plek ‘n rilling deur jou lyf laat skiet.
As ‘n skrywer van alreeds meer as 40 boeke, slaag Bloemhof weereens daarin om lesers te verras. Dit is beslis nie ‘n ‘feel-good’ boek nie, maar die moeite werd om te lees. – Danica  Steyn

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Oblivion, Anthony Horowitz (Walker Books, R175)
Oblivion is die finale boek in die ‘The Power of Five’-reeks deur Horowitz. Die reeks handel oor vyf unieke jongmense wat uitsonderlike magte besit. Daar is Pedro wat mense kan genees deur sy aanraking, Scott en Jamie, ‘n identiese tweeling  met telepatiese vaardighede; Scarlett kan die weer beheer en Matt kan voorwerpe beweeg.
Daar is spesiale deure waardeur die vyf van plek na plek kan beweeg. Maar dinge loop lelik skeef in Hong Kong.  In plaas van dat hulle na dieselfde plek gaan, word hulle na verskillende wêrelddele gestuur. Om dinge te bemoeilik is al die deure op onverklaarbare wyse gesluit en boonop is hulle 10 jaar in die toekoms ingestuur. Hulle moet mekaar weer vind voor die magte van ‘Chaos’, die koning van die ‘Old Ones’, die wêreld  heeltemal vernieting.  Hierdie boeiende wetenskapfiksie lees maklik en jy hoef nie die vorige boeke in die reeks te lees om die storie te volg nie. Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Killed in Cornwall, Janie Bolitho (Alison & Busby, R166)
In Cornwall ondersoek Jack Pearce `n reeks inbrake en brutale aanvalle op jong vroue. Sy vriendin, Rose Trevelyan, `n jarelange inwoner van Cornwall, bevind haar binne in die hart van die ondersoek. Met haar diepgaande kennis van die private lewens van almal wat betrokke is, moet Rose waak daarteen om gevolgtrekkings te maak teen mense wat onskuldig is.
Rose se man is lankal oorlede en sy het geen kinders nie. Sy hou haar besig met skilderwerk en bied ook skilderklasse aan. Dit bring haar na aan die mense van Cornwall en almal wil teenoor haar bieg oor hul diepste geheime. Rose gaan deur haar eie leed met haar ouers.
Cornwall is `n kusdorp wat in die somer baie toeriste lok. Soos die misdade meer en ernstiger word, word almal in die dorp verdink. Jack hou nie daarvan dat Rose betrokke is nie. Maar vir wie moet Jack en Rose glo?
 `n Boek wat lekker lees. – Nicolene Carstens