FOTO: Twitter @rolenestrauss

FOTO: Twitter @rolenestrauss

Dra dit só

Só kies Mej. SA kleur en klere PLUS ’n kenner help jóú kies

Mej. SA, Rolene Strauss, lyk altyd sprankelend, energiek en mooi. Haar geheim? Sy kies die regte kleure en soorte klere vir haar veltoon en figuur.

Rolene, wie se styl-ikoon Kate Middleton is, hou daarvan om elegant en vroulik aan te trek. Mej. SA het die afgelope week ’n stylkonsultasie gehad om haar te help om die regte klere, kleure én grimering vir haar persoonlikheid, figuur en veltoon te dra.

Haydee Antezana en Carissa Bosman van Professional Impressions het vir Rolene, wat ’n uurglasfiguur het, verduidelik watter halslyne, baadjies, rokke, swembroeke en selfs skoene die beste by haar lyk. Hulle het ook gevind dat warm, helder skakerings die mooiste by Rolene lyk. Sy lyk veral mooi met smaraggroen, turkoois, nektarien, papawerrooi en lemmetjiegeel, terwyl grys skakerings haar gesig vaal laat lyk.

Rolene Strauss, gereed om haar klerekas 'n avontuur te maak FOTO: verskaf

Rolene Strauss, gereed om haar klerekas ‘n avontuur te maak
FOTO: verskaf

Hoe weet jy watter kleure lyk reg by jóú?

Kelly Ross van Imageology Professional Image Consultants gee raad sodat jy die regte kleure én klere vir jouself kan kies.

“Jou vel kan ’n warm of ’n koel ondertoon hê,” sê Kelly. Sy verduidelik dat ’n vel met ’n warm ondertoon meer van ’n geel voorkoms het – daarby moet jy eerder kleure met ’n geel ondertoon dra. ’n Vel met ’n koel ondertoon lyk pienkerig, en daarby moet jy koeler skakerings in jou klerekas hê.

Bepaal jou ondertoon só

  • Sit voor die spieël sonder enige grimering en met hope natuurlike lig wat op jou gesig val
  • Maak seker jy het ’n pienk item (met ’n pienk ondertoon) én ’n oranje item by jou
  • Hou nou eers die pienk item teen jou gesig en kyk mooi na hoe jou gesig verander
  • Doen dan dieselfde met die oranje item
  • Die skakering waarby jou gesig die beste vertoon, is die ondertoon van jou vel

Waarvoor kyk ek?

  • Ons het elkeen sekere eienskappe op ons gesig waarvan ons nie hou nie – plooie, pigmentasievlekke of selfs knoppies wat uitslaan. Fokus op dié eienskappe
  • Die kleur wat dit beklemtoon en jou vaal laat lyk, is nie die regte ondertoon vir jou nie
  • As jy uitgerus, vars en jonk lyk, weet jy jy het die regte ondertoon gevind

Watter kleur kan ek dra?

  • Geel ondertoon: kleure met ’n warm ondertoon soos oranje, koraal, roes, olyf, lemmetjie, room, beige en roesbruin. Dié kleure lyk normaalweg mooi by goue en brons juwele.
  • Pienk ondertoon: smaraggroen, koningsblou, purperpers, pastelskakerings soos babablou, swart, wit en grys. Silwer juwele en dié kleure kompleteer mekaar gewoonlik.
  • Universele kleure: ons almal lyk mooi met dié kleure omdat dit ’n mengsel van die twee ondertone is. Probeer waatlemoenpienk, vinca-blou (periwinkle), vlootblou en bruingrys
  • Wenk: onthou, hoe groter die kontras tussen jou veltoon en jou haarkleur, hoe sterker moet die kleur van jou klere wees. Dit is waarom die pastelpienk rok wat Anne Hathaway by 2012 se Oscars gedra het, onvleiend was – die kombinasie van haar donker hare en ’n ligte veltoon vra vir sterker kleur.

Kies reg vir jou figuur

Kelly hou nie daarvan om van verskillende tipes figure te praat nie. Sy glo die geheim lê daarin om die dele van jou liggaam wat wyd lyk – ongeag waar dit is – met vertikale lyne te breek.Onthou ook dat klere wat te styf sit, jou groter laat lyk. Dieselfde gebeur as klere baie los hang. Kies klere wat net reg pas en vermy los T-hemde.

  • Vir breë heupe: As jy ’n effekleur om jou heupe dra, soos ’n swart langbroek of romp, moet jy nie die vertikale lyn wat dit vorm breek deur ’n belt in ’n ander kleur om jou heupe te dra nie. Dit sal die horisontale area wat reeds groot is, groter laat lyk.

    Kim en Kanye FOTO: Instagram (@kimkardashian)

    Kim en Kanye. Kim se swart rok skep ‘n vertikale lyn oor haar fyn heupe
    FOTO: Instagram (@kimkardashian)

  • As jy nie ’n middel het nie: Dra klere wat jou liggaam sal uitbalanseer, soos ’n stywe denim wat uitklok by jou kuite. En dra onderklere wat jou liggaam meer in toom sal hou.
  • Om jou magie te versteek: Kies volwasse materiaal, soos poliëster-mengsels en lycra. Klere met patrone wat oor die maag kom, is ook vleiend. Jy moenie kan sien dat daar ’n magie onder jou kleure wegkruip nie.

    FOTO: Gallo Images / Getty Images

    FOTO: Gallo Images / Getty Images

  • Groot borste: Dra klere met ’n laer halslyn, maar net so laag as waarmee jy gemaklik is. ’n Ronde lae hals lyk mooi, asook ’n diep V-nek met ’n kamisool onder. Patrone wat op jou klere gedruk is, is weer ’n goeie oplossing, maar moenie klere met tekstuur soos diamanté of blinkers oor jou borste dra nie.

*Kelly Ross is ’n voorkomskonsultant by Imageology Professional Image Consultants