Classic Ballerina Top in die SARIE-winkel

Classic Ballerina Top in die SARIE-winkel

Dra dit só

Vind só jou vel-ondertoon en leer watter kleure by jou pas

Het jy al gehoor mense praat van ’n koue of warm veltoon? Of ’n somer- of wintergelaat? Wat beteken dít vir jou en jou klerekas? Lees hier en vind jou kleur. 

Jou voorkoms het baie te doen met die kleure wat jy dra. Dís ’n ou geheim wat skoonheids- en mode-konsultante al lank ken. Wanneer jy weet wat jou vel-ondertoon is, kan jy kleurkeuses maak wat jou op jou beste laat lyk!

Wat bepaal jou vel-ondertoon of gelaatskleur?

• Die hoeveelheid melanien in jou vel.

• Die hoeveelheid bloedselle wat naby aan jou vel lê.

Velkleur word in 3 ondertone ingedeel: koud (winter), neutraal en warm (somer).

Corlea pragtig in geel – kyk hier

Hoe toets jy?

Was jou gesig voordat jy met die toetse begin sodat jou vel sy natuurlike kleur is. Maak seker jy staan in ’n goedbeligte area, maar nié onder buisligte nie. Natuurlike lig werk die beste. As jy nie ’n bepalende antwoord kry nie, is jy gelukkig! Dan het jy ’n neutrale veltoon waarby die meeste kleure werk.

1. Wit papier

Hou die wit papier langs jou gesig

• Lyk jou vel goud en gelerig? Dan het jy ’n warm ondertoon

• As jou vel pienk lyk, het jy ’n koue ondertoon

2. Silwer en goue foelie

Hou die foelie (of materiaal van dié kleur) teen jou gesig of laat dit langs die bokant van jou hande rus. Watter kleur – goud of silwer – laat jou vel ophelder? En watter kleur laat jou witter en uitgebleik lyk?

• As die goue kleur jou op jou beste laat lyk, het jy ’n warm veltoon

• As silwer jou kleur is, dan het jy ’n koue ondertoon

3. Die vel by jou oor

Buig jou oor vooroor na jou wang toe

• Vra iemand om te kyk na die vel agter jou oor. Omdat dié stukkie vel byna nooit sonlig sien nie, is dit ’n goeie aanduiding van jou gelaatskleur

• As dié vel gelerig vertoon, is jou gelaatskleur warm. As die kleur pienkerig is, is jou gelaatskleur koud

4. Die are by jou pols

Plaas jou hand neer met jou pols na bo.

• Groen are wys op ’n warm gelaat, terwyl blou/pers are verklap dat jy ’n koue gelaat het.

Sarah Jessica Parker se stylreëls en groot nuus!

Watter kleure pas by jou?

• Warm: Aardse kleure en warm kleure soos rooi, oranje, bruin en pienk

• Koud: Blou, pers, groen, grys

Maar dit gaan nie net oor die kleur nie, maar ook die skakering van die kleur wat jy kies. ’n Pers hemp met grys ondertone sal beter pas by iemand met ’n koue gelaat, terwyl ’n pers top met rooi ondertone ’n persoon met ’n warm gelaat vlei.

Maar moenie te streng by dié reëls hou nie. As jy van iets hou en jy voel mooi daarin, dra dit! Soms bring ’n kledingstuk die kleur van jou oë of hare uit, al pas die kleur nie noodwendig by jou vel-ondertoon nie. Daar is geen vaste reëls nie, so speel met kleure en wees elke nou en dan waaghalsig!

Kyk net hoe mooi lyk Emma Stone (links) en Mila Kunis (regs) in dieselfde rooi, al verskil hul vel-ondertone.

FOTO: Emma Stone (links) en Mila Kunis (regs). Hulle het onderskeidelik koue en warm ondertone (Instagram)

FOTO Emma Stone (links) en Mila Kunis (regs). Hulle het onderskeidelik koue en warm ondertone (Instagram)