gettygesny
Het jy gehoor?

Nicole Kidman nuwe gesig van Jimmy Choo

Die Oscar-bekroonde aktrise is die nuwe gesig van die ontwerperskoene Jimmy Choo. Dit is Jimmy Choo se eerste veldtog sedert Sandra Choi die leisels van hoof kreatiewe bestuurder oorgeneem het.

Nicole is nie ‘n onbekende gesig as dit by duur ontwerpersprodukte kom nie. Sy was voorheen die handelsmerk-ambassadeur van Omega-horlosies en Chanel No.5-parfuum.

Nicole Kidman

Die veldtog wat verlede maand deur Mikael Jansson geskiet is, is wêreldwyd in die Augustus-uitgawes van tydskrifte te sien. Dié bekende mode-fotograaf sê Nicole verleen sterkwaliteit aan die veldtog en beeld die mag en verlokking van ‘n Jimmy Choo-vrou uit.

Nicole gebruik dikwels klere en mode op die stelle van haar films om in karakter te kom. Sy beskryf ‘n Jimmy Choo-vrou as volg:

Sy het baie kompleksiteit, misterie en vroulikheid

Sandra sê Nicole is die perfekte ambassadeur vir die ontwerperskoene omdat sy ook genuanseerd én deftig is met ‘n trotse houding. “Sy is sterk, sensueel en elegant.”

Waar kom Jimmy Choo vandaan?

Jimmy Choo is duur handgemaakte ontwerperskoene wat wêreldwye aansien geniet. Dit is die produk van die Maleisiër Choo Yeang Keat se harde werk. Hy is in ‘n familie van skoenmakers gebore. Hoewel sy familienaam Chow is, is dit op sy geboortesertifikaat verkeerdelik as Choo geskryf.

Hy het sy eerste skoene op die ouderdom van 11 gemaak en het na-skool in Engeland studeer. Om vir sy opvoeding te betaal was hy ‘n kelner en ‘n skoonmaker by ‘n skoenfabriek.

In 1986 het hy in ‘n ou hospitaal sy fabriek begin. Vinnig het mense dié skoene uit Noord-Londen raakgesien en in 1988 het sy skoene op 8 blaaie in Vogue verskyn – ‘n rekord vir enige ontwerper op daardie tydstip.

Hy het nog meer roem verwerf toe Diana ook begin het om sy skoene te dra. In 1996 is Jimmy Choo Ltd gestig wat van die wêreld se duurste skoene nóg ontwerp het.