FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

SA ontwerper trek vir Kelly Rowland aan!

Daar is nóg ’n internasionale ster wat die 25-jarige ontwerper van Koster in die Noordwes se rokke dra. Gert-Johan se rokke is al deur sterre soos Kourtney Kardashian gedra, en nou ook deur die voormalige Destiny’s Child-sanger Kelly Rowland.

Gert-Johan is gevra om vir Kelly iets te ontwerp toe sy in September vanjaar in Suid-Afrika opgetree het. En toe besluit sy sy hou van dié man se styl.

Die eerste rok wat Gert vir haar ontwerp het, was ’n noupassende swart rok om haar vietse figuur te vlei. Hy het die rok ’n oop rug gegee sodat daar lekker oor-die-skouer-foto’s geneem kan word.

Dié rok is van antieke kant gemaak en met krale versier. 90% van die rok moes met die hand aanmekaar gewerk word. Om dit meer tekstuur te gee, is meer as 300 hars-krale in agt verskillende groottes aan die rok vasgewerk – veral om die nek- en ruglyn en om die mou-openings.

Die foto wat Kelly op Instagram gedeel het van Gert se swart skepping en hulle twee saam in September

LINKS: Die foto van Gert se swart skepping wat Kelly op Instagram gedeel het. REGS: Hulle twee saam in September.

Kelly Rowland het besluit om die einste rok na ’n liefdadigheidsgeselligheid in Beverly Hills te dra. Die fotograwe kon by dié geleentheid nie genoeg kry van Kelly nie en die Amerikaanse media was gaande oor hoe goed Kelly lyk én oor haar mooi rok.

Kelly by die Gala-ete saam met Julie Bowen van Modern Family-faam

Kelly by die gala-ete saam met Julie Bowen van ‘Modern Family’-faam FOTO: Instagram

Wat sê Gert-Johan hieroor?

“Ek was ekstaties toe Kelly die aand van die gala my rok gedra het, maar dit was ongelooflik toe sy dit ook, met volle erkenning aan my, op Instagram geplaas het. As ontwerper is my eerste prys dat elke vrou wat een van my rokke dra, soos ’n prinses daarin voel. Ek is baie dankbaar dat sy só tevrede met haar rok was!”

Gert het twee rokke vir Kelly ontwerp. Die tweede rok is nog ’n groot geheim omdat sy dit nog nie gedra het nie, maar hy het wel dít met SARIE.com gedeel: dit is ook swart, maar dié keer is dit ’n lang rok.

En dis net die begin. Want ons hoor Kelly wil nóg van Gert-Johan se uitrustings dra …

Vir Gert-Johan gaan dit nie net oor die glans van Hollywood nie. Hy ploeg ook terug in die Suid-Afrikaanse ontwerperswêreld om die bedryf hier te help groei. Hy het vroeër vandeesmaand die wenner aangekondig van ’n beurs wat hy borg om by sy alma mater, die Northwest School of Design in Klerksdorp, te gaan studeer. Die wenner is die 18-jarige Quincy Thabang van Sasolburg, wat volgende jaar met die kursus sal begin. Dié beurs sluit ’n internskap by Gert se ateljee in.

Gert is ook op die oomblik besig om uniforms te ontwerp vir Pink Drive, die borskanker-organisasie wat mobiele klinieke bestuur en gratis mammogramme en borsgesondheidsopvoeding gee. Die mediese personeel wat die mobiele klinieke beman, gaan dus binnekort met hul eie ‘Gert-Johan Coetzee-skeppings’ kan spog.

Sy modevertoning by vanjaar se SA Modeweek het ook meer bewustheid oor borskanker gekweek.

Wat is volgende vir Gert-Johan?

Gert-Johan is vanoggend, 15 November, aangewys as die ambassadeur van die luukse handelsmerk Swarovski. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse ambassadeur vir dié handelsnaam. Swarovski is bekend vir hul pragtige kristalle en ’n rok met dié kristalle is báie gesog.

Gert-Johan het vir homself ’n doelwit gestel: “Armani het prinses Charlene se trourok met 40 000 Swarovski-kristalle versier. Ek gaan kyk of ek dit kan klop!” Gert wil ook Swarovski-kristalle in dagklere wat meer bekostigbaar is, gebruik.

Met dié ambassadeurskap plaas Gert-Johan Suid-Afrikaanse mode en mode-ontwerpers in die internasionale kollig.

Gert-Johan Coetzee hard aan die werk by vandeesjaar se SA Modeweek

Gert-Johan Coetzee hard aan die werk by vanjaar se SA Modeweek FOTO: Twitter