Het jy gehoor?

Silver Linings-aktrise sorg vir Oscar-opwinding

Veral die Oscar-benoemde Jennifer Lawrence se rok sorg vir opwinding. Dié aktrise van Hunger Games en Silver Linings Playbook-faam het die mense behoorlik aan die raai. Jennifer het onlangs laat weet dat sy by vandeesjaar se Oscars, wat op 24 Februarie 2013 plaasvind, beslis nie gemak bo styl gaan kies nie. In 2011 het Lawrence ’n skarlakenrooi rok van Calvin Klein gedra, maar Vogue berig dat sy hierdie jaar iets uiters byderwets beplan.

Alhoewel die styl ’n geheim gaan bly tot die groot aand, twyfel geen mens oor die ontwerper nie. Met Jennifer die gesig van Miss Dior is ons seker dat dié modehuis gespring het om haar van ’n couture-uitrusing met die Dior-naam op te voorsien.

En een ding waarvan ons seker is, is dat ons daardie aand aan die televisie vasgenael gaan sit om te kyk waarmee sy vorendag kom, en, natuurlik, om te sien of sy met die louere vir Beste Aktrise wegstap.