Het jy gehoor?

Victoria Beckham as mode-ontwerper bekroon

Een van Brittanje se grootste styl-ikone, Victoria Beckham, het haar Midas touch gewys deur weg te stap met die toekenning as beste ontwerpershandelsmerk – haar eerste Britse Modetoekenning. Sy het haarself vanjaar met mening as mode-ontwerper gevestig – en dan het sy nog kans gesien vir ‘n vierde kind ook! Sy het Burberry, Tom Ford en Stella McCartney in dié kategorie uitgestof. (VIDEO: onderhoud met Victoria Beckham)

2011 was beslis dié jaar vir Sarah Burton van Alexander McQueen! Sy het gesorg vir die trourok van die dekade toe sy onder geweldige geheimhouding Kate Middleton en haar strooimeisie-suster, Pippa, se rokke ontwerp het. Sy is gisteraand bekroon as ontwerper van die jaar.

Ander bekendes wat die glansgeleentheid bygewoon het, was supermodel Kate Moss (dié keer in ‘n visnetrok en haar kenmerkende rooi lippe), aktrise Kate Hudson, ontwerper Marc Jacobs en die Oscar-bekroonde akteur, Colin Firth.

Ander groot wenners van die aand was:

* Model van die Jaar: Stella Tennant (sy’s bekend vir advertensieveldtogte van Calvin Klein, Hermès en Burberry)

* Britse styl-toekenning: styl-ikoon Alexa Chung (vir ‘n tweede keer in ‘n ry!). Die wenner van hierdie kategorie word gesien as die internasionale mode-ambassadeur vir Londen.

* Rooitapyt-toekenning: Stella McCartney, dogter van oud-Beatle Paul McCartney, se ontwerpe is deur talle bekendes op die rooi tapyte wêreldwyd gedra.

Klik vir die volledige lys wenners.