FOTO: Unsplash  van Abigail Keenan

FOTO: Unsplash van Abigail Keenan

Modestories

5 modeflaters om te vermy

Ons maak almal af en toe ’n foutjie, ook met ons modekeuse. Die modespan help jou sodat jy nie twee keer in dieselfde slaggat trap nie!

Maak doodseker jy maak nie weer dié modeflaters nie:

#1 Jy trek nie aan vir jou liggaamsbou nie

Net omdat jy in ’n nommer 32 pas, beteken dit nie jy kan dit dra nie. Daar is niks so onaantreklik soos rolle wat bo ’n te stywe broek uitbult nie (die sg. muffin top). Koop die regte grootte en snit vir jou lyf. Deesdae gaan dit nie meer oor die nommer klere wat jy dra nie, maar oor hoe die klere jou kurwes beklemtoon.

 

#2 Jy koop volgens trends

Ek sê nie jy mag nie volgens die nuutste trends aantrek nie, maar sommige tendense pas net nie by almal nie. ’n Uitrusting gaan meer oor styl as oor trends!

 

#3 Jy trek nie gepas aan vir ’n geleentheid nie

Daar is ’n tyd en plek vir elke uitrusting. Jy kan nie jou sweetpakbroek kantoor toe dra en jou jeans gim toe aantrek nie. Dit klink dalk soos iets wat elke vrou weet, maar soms maak ons tog nog dié fout.

 

#4 Jy spandeer geld aan verkeerde items

Die goue reël: Bestee geld aan klassieke items soos ’n baadjie, goeie jeans en ’n veelsydige swart nommertjie. Moenie te veel geld uitgee op trend-items wat jy weet net ’n seisoen ín gaan wees nie.

 

#5 Jy koop die verkeerde grootte bra

Ja, dit is een van ons grootste foute. ’n Bra moet jou bates op die beste beklemtoon en nie ekstra of skewe kurwes skep nie. WENK: Moenie skaam wees om jou borsgrootte te laat meet nie. ’n Ordentlike bra is nie goedkoop nie, daarom moet jy rég koop!

 

Ons is almal soms skuldig aan sekere van die flaters, maar dit is hoekom die SARIE-modespan graag wenke deel. Ons hoor ook graag van jou: watter modefoute jaag jóú bloeddruk op?