FOTO Instagram @alexachung

FOTO Instagram @alexachung

Modestories

5 style: moets en moenies

Daar is ’n verskil tussen ’n alledaagse uitrusting en dié 5 uitrustings wat elk ’n kenmerkende styl het. Selfs ’n klein verandering aan jou voorkoms kan ’n gróót verskil maak. Die SARIE-modespan kies hul 5 styl-ikone wat daagliks ’n klein verandering toepas.

#1 Onafgeronde voorkoms

Moet
Die idee is om nie perfek te lyk nie. Die gesegde van “Jy kan haar deur ’n ring trek” gaan definitief nie hier werk nie. Wanneer jy aantrek, steek byvoorbeeld net die een kant van jou hemp of top in. Dit gee die idee van “Ek is gemaklik met wie ek is en met wat ek dra”.

Moenie
Wees net baie versigtig dat jy nie onnet en verslons lyk nie. Dit moenie lyk asof jy letterlik jou oë toegeknyp en in die donker aangetrek het nie.

Celeb-inspirasie: Alexa Chung

#2 Bykomstighede

Moet
Rond ’n uitrusting af met bykomstighede wat aandag trek, soos ’n ongelooflike sonbril, hoed, handsak, juweelstuk of skoen.

Moenie
Dis nie nodig om jou hele stel juwele dra nie. Jou beste raad is dié van die bekende ontwerper Coco Chanel: “Voor jy die huis verlaat, gaan staan voor die spieël en verwyder een item.”

Celeb-inspirasie: Alessandra Ambrosio

#3 Meng en pas

Moet
Speel met verskillende strukture, patrone en silhoeëtte. Jy kan ’n vervelige uitrusting van ’n T-hemp en jeans opkikker met ’n trendy baadjie en hakskoene .

Moenie
Onthou altyd die balans, moenie te veel trends in een uitrusting gooi nie. En jy rond nie ’n 90% formele uitrusting met ’n uiters informele item af nie … onthou, ’n aandrok, -juwele en -hakke met ’n denimbaadjie werk nóóit. Dra dan liewer ’n snyersbaadjie.

Celeb-inspirasie: Kendall Jenner

#4 Waaghalsig (edgy)

Moet
Dra iets onverwags soos oefentekkies by jou uitrusting. Iets wat jy nie gewoonlik sal dra nie. Daar is nou ’n groot trend om oefenklere en alledaagse kledingstukke  te meng.

Moenie
Wanneer jy wel ’n onverwagse item dra, wees versigtig dat jy nie die voorkoms van kop tot toon doen nie. Jy wil immers nie lyk asof jy jou aantrek vir Halloween nie.

Celeb-inspirase: Alexa Chung

#5 Jas oor skouers

Moet
Dra ’n jas oor jou skouers soos ’n mantel. Die geheim is dat jy dan minder van jou uitrusting wegsteek sodat jy meer van jou fantastiese winter-items kan wys.

Moenie
Moenie ’n jas wat te styf oor die skouers pas só probeer dra nie. Dit gaan nie mooi drapeer nie en ook heeltyd afval.

Celeb-inspirasie: Kendall Jenner

Noudat jy weet wat hul geheime is, maak dit joue en lyk soos ‘n it-girl!