FOTO Instagram @dorinazupta

FOTO Instagram @dorinazupta

Modestories

Aanpaskamer-etiket

Aanpaskamers kan ’n nagmerrie wees. Nee, ek praat nie van die ligte wat op elke liewe duikie (dimple) skyn nie, dis ’n storie vir ’n ander dag. Ek praat hier van baie basiese dinge, soos skoon of vuil, en hoflik of onbeskof. Het jy al ooit in ’n aanpaskamer ingeloop wat ’n totale gemors is?

Dis dalk tyd dat mense ’n bietje etiket vir die aanpaskamer aanleer … Onthou, as die skoen jou pas, trek hom aan.

Hier’s 10 aanpaskamer-etiketreëls:

#1 Hanteer ’n aanpaskamer soos jou eie kamer

Hou die aanpaskamer aan die kant. Tel agter jouself op, want die arme verkoopsassistent het nie nog tyd om al jou hangers en koeldrankblikkies van die vloer af op te tel nie.

#2 Hanteer die klere soos jou eie

Sal jy jóú duur, delikate, mooi item op die grond gooi, onderstebo ophang of jou grimering daaraan laat afsmeer?

#3 Die aanpaskamer is nie ’n telefoonhokkie of jou eie Instagram-foto-ateljee nie!

My bloed kook sommer. Almal se tyd is kosbaar. Respekteer dit en moenie oor die foon kekkel of van jouself foto’s nie.

#4 Higiëne

Ek kan nie glo mense doen dit nie: Hulle gaan pas klere aan as hulle van die gim af kom, net so vuil en sweterig. Jy doen dit NIE! Moet ook nie onderklere of swembroeke aanpas as jy nie jou eie onderklere aanhet het nie. (Dit sluit bra’s uit.)

#5 Vyf minute voor toemaaktyd

Verkoopsassistente het ook huise. Moenie dat hulle net vir jou wag om die winkel te sluit nie. Kom pas dit eerder die volgende dag aan.

#6 Moenie die verkoopsassistent ignoreer nie

Dit gebeur, kan jy glo! ’n Ordentlike mens groet die assistent terug. Moenie assistente ignoreer nie, hulle is nie winkelpoppe nie.

#7 Vra vir hulp

Vra vir hulp indien jy ’n groter of kleiner item benodig. Moenie in jou onderklere in die winkel paradeer nie.

#8 Neem verantwoordelikheid

Indien jy ’n ritssluiter gebreek het of grimering op die klere gekry het, gaan sê dit vir die verkoopspersoneel.

#9 Wees geduldig

Laat die assistent die hoeveelheid kledingstukke tel. Moenie ongeduldig raak nie, hulle doen net hul wérk.

#10 Los jou manlief buite

Dit kan ’n baie ongemaklike storie raak vir die vroue rondom jou, want soms is die aanpaskamers se deure of gordyne nie heeltemal dig of toe nie.