Modestories

Agter die skerms van ons aanlyntydskrif: April 2012

Die SARIE.com modespan het op 23 Januarie ‘n fotoreeks met Diaan Lawrenson (Paula van 7de Laan) by Camps Bay Retreat geskiet. Diaan was sprankelend en entosiasties oor die rokke, alhoewel sy erken haar gunsteling-uitrusting jeans en ‘n T-hemp is. Ons mode-assistente, Elsabé en Friede-Mari, het al die klere, skoene, juweliersware en die klerereling uitgelaai en opgedra na ‘n pragtige kamer op die eerste verdieping. Die kamer het sy eie stoep wat uitkyk oor die immer-veranderende Atlantiese Oseaan en die pieke van die Twaalf Apostels-bergreeks. Dit het ons almal se asems weggeslaan en ons in ‘n kalm bui geplaas.
Die ongelooflike herehuis van Camps Bay RetreatDie oorspronklike herehuis is in 1929 gebou en in dié tuin met sy ouwêreldse gevoel het ‘n kelner vir ons heerlike koffie aangedra op ‘n antieke skinkbord. Daarna was dit tyd vir hare en grimering deur die bekende Algria-en-Jeanette-span.
Die droomspan aan die werk met Diaan se grimering en hareDie landgoed – wat oor vier hektar van groen natuurreservaat strek – het as ons agtergrond gedien en is strelend vir die siel. Daar’s drie swembaddens, ‘n tennisbaan, ‘n spa en ‘n fynproewerrestaurant.
Die antieke swembad waarin Chris geval hetDiaan in aksieDie reën het so bietjie druk op ons geplaas, want ons moet 5nm klaar wees sodat Diaan betyds haar vlug kon haal. Die bewolktheid het egter vir Jacques Weyers as ‘n natuurlike “scrim” gedien.
Die span beskerm Diaan teen die reënTeen middagete is ons bederf deur die gasvrye personeel van Camps Bay Retreat met heerlike slaaie en ‘n verskeidenheid toebroodjies. Deur al die druk om betyds klaar te kry en die nat tuinpaadjies van die reën gly Chris Viljoen, ons modedirekteur, binne-in die antieke swembad in. So “koop” hy vir hom ‘n fantastiese stukkie grond by Camps Bay Retreat – klere en al. Dit het ons dag met ‘n gegiggel laat afsluit. Baie dankie aan Camps Bay Retreat (kontak 021 437 9706 of besoek www.campsbayretreat.com) vir ‘n fantastiese dag!  

Klik hier om Diaan in ons gratis aanlyn-tydskrif te sien

Baie dankie aan ons span:

Fotograaf: Jacques Weyers
Agter die skerms fotograaf: Nicola Blom
Hare: Jeannette Genis
Grimering: Algria
Model: Diaan Lawrenson
Assistente: Elsabé Kühn en Friede-Marie Kellerman