Modestories

Modeskok: oud in nét 45 sekondes!

Wanneer ons aan jeans dink, is een van die eerste woorde wat in ons kop kom “Levi’s”. G’n wonder nie, want dit is die oudste jeans-handelsmerk ter wêreld en bestaan al sedert 1873.

Vir baie jare is jeans as ’n werkersuniform gedra, veral onder mynwerkers, boere en fabriekswerkers.

In 1934 is die eerste vroue-jeans bekend gestel en ’n jaar later het dit in die gewilde modetydskrif Vogue verskyn.

Gedurende die 1950’s het jeans gewilder geraak, onder meer weens die invloed van Wilde Weste-flieks. Dit was gou ’n alledaagse klerekas-item. Sekssimbole soos Marilyn Monroe en James Dean het dit nog meer begeerlik gemaak.

 

So lyk jeans vandag – 2016

Het jy geweet? Levi’s besit vandag net twee fabrieke in die hele wêreld: een in Pole en een in Suid-Afrika. Alle ander produkte word uitgekontrakteer na verskillende lande nadat Levi’s in 1999 begin het om die meeste van sy fabrieke in Amerika toe te maak. In 2003 is die maatskappy se laaste Amerikaanse fabriek toegemaak.

Die Suid-Afrikaanse fabriek het in 1995 sy deure in Epping, Kaapstad, oopgemaak en dit verskaf vandag werk aan 400 mense. By die fabriek word die jeans nie net gemaak nie, maar alle afwerkings word daar op die perseel gedoen – ook die proses om dit verouderd te laat lyk.

Die fabriek gebruik twee verouderingstegnieke. Die een word per hand gedoen en dit neem 10 tot 12 minute, terwyl die lasertegniek jeans binne 45 sekondes laat “oud” lyk.

Só word Levi’s-jeans gemaak in die Suid-Afrikaanse fabriek, wat 45% van Afrika se Levi’s maak:

Lae materiaal word bo-op mekaar geplaas voordat dit uitgesny word.

Elke deel - klein of groot - word met 'n kode gemerk sodat jy nie opeindig met 'n deel wat nie by die jeans pas nie.

Jeans gaan deur ongeveer 12 stappe voordat dit voltooi is.

120 tot 180 jeans in een masjien. Jeans word vooraf gewas sodat dit krimp tot die regte grootte.

Een miljoen jeans word jaarliks hier vervaardig.

Die lasermasjien wat jeans binne 45 sekondes oud laat lyk.

75 mense hanteer een jeans totdat dit reg is vir verspreiding na winkels.

Die bekende Levi’s 501 is vanjaar 140 jaar oud. Kyk hier die storie van Levi’s 501-jeans:

Noudat jy weet wie en wat als betrokke is by die maak van jou gunsteling-jeans, waardeer jy dit sommer nóg meer.

Lees nou

Só het jeans in jou geboortejaar gelyk…

Nog ‘n Paryse modehuis werk saam met H&M 

Ikoniese mode-items