159430938
Modestories

Húlle was ons stylwenners by die Golden Globes

Dit was die aand van spatsels helder kleur met koraal, groen, saffierblou tussen die klassieke swart en hemelse neutrale kleure. Hier’s ons gunstelinge:

JULIANNE MOORE (foto bo)

Sy het haar goeie vriend, die ontwerper Tom Ford, gevra om spesiaal vir haar ‘n rok te skep. Die slim gebruik van lyne in dié minimalistiese, monochroom-rok maak dié rok baie interessant. Die breë armband is ‘n groot trend en ‘n maklike manier om enige uitrusting ekstra trefkrag te gee.

FRANCES FISHER

Frances Fisher het haar dogter en vanjaar se Mej. Golden Globes, Francesca Eastwood, vergesel in ’n 1920’s-geïnspireerde meerminstylrok met blinker- en krale-detail. Die styl pas haar figuur en ouderdom perfek.

Frances Fisher in haar V- nek aandrok duidelik geinspireer deur die 1920's.

LUCY LIU

Haar dramatiese roos-geïnspireerde Carolina Herrera-balrok wys dat blompatrone steeds ‘n groot trend is, ook vir die aand. Sommige stylkenners op die web het haar gekritiseer oor dié keuse, maar ons dink dis ‘n treffer. Wat dink jy?

Lucy Liu, dramaties in haar Carolina Herrera balrok.

NAOMI WATTS

Dié bekroonde aktrise sit net nooit ‘n modevoet verkeerd nie. Haar Zac Posen-rok met ‘n treffende sleep maak ‘n stelling op die Golden Globes-rooi tapyt! Dit het ou-wêreldse sjarme maar is steeds modern, met nét genoeg rug wat wys om baie sensueel te wees. En wynkleur is ‘n belangrike modekleur vir die seisoen.

Naomi Watts in 'n spog met 'n klassieke voorkoms in haar Zac Posen skepping.

TAYLOR SWIFT

Taylor Swift het ook ‘n meerminstyl gekies. Met haar hare elegant vasgemaak en neutrale grimering, het sy seker gemaak dat alle oë op haar treffende Donna Karan Atelier-rok was. Die rok skep ‘n vleiende, vloeiende silhoeëtte met ‘n baie sexy oop rug en deursigtige panele aan die kant.

Taylor Swift kan hier gesien word in 'n Donna Karan Atelier aanrok.

CLAIRE DANES

Dis moeilik om te glo dat Claire Danes net ’n maand gelede geboorte gegee het aan haar eersteling, ‘n seuntjie, en dat sy eers die vorige aand 21:00 dié Versace-rok vir die eerste keer aangepas het! Super-stylvol en treffend – soos net ‘n rooi rok kan!

Clare Danes spog met 'n rooi nommertjie van Versace.

* Golden Globes-toekennings word Maandag 14 Januarie 2013 om 20:30 op M-Net en M-Net HD uitgesaai.

  • Shakira ismail

    Omg to die for. Do u do C. O. D. deliveries

  • suzette

    Nee dankie, ek hou van ie een van die rokke nie, miskien die geblomde ene, so bietjie, maar die bont materaal pas nie vir so ‘n geleenthed nie, ek soek kant, met sagte chiffon, in kleure sos goud, cream, sjampanje, sagte ice pienk, mar nee, alles sulke lelike kleure, soo dood, ek he so hier endaar ‘n mooi swat nommertjie gesien, maar waars die goue of silwer bykomstighede daarby?

  • Liezel

    Baie van die rokke, veral die op die verhoog, was vreeslik kaal voorlangs, kan nie dink dat dit gemaklik kan wees om heelaand te moet keer dat jou bates heeltemal uitval nie! Dis nie vir my stylvol of sexy nie, daar moet darem nog iets aan die verbeelding oorgelaat word.

  • Nadine van Staden

    Lucy Lui se rok se materiaal laat my dink aan iets wat my ouma voor haar venster sou hang. Maar bizarre genoeg werk hierdie rok vir haar en ek dink sy het stunning gelyk.