FOTO Instagram @victoriabeckham

FOTO Instagram @victoriabeckham

Modestories

Só dra jy hakke sonder pyn

Wie ook al gesê het hakskoene is gemaklik, het die pot heeltemal mis gesit.

Ons het ’n voëltjie hoor fluit dat daar wel ’n geheim is wat jou help om heeldag hoëhakskoene te dra, sónder pyn! Drie lede van die SARIE-span het die wenk gaan uittoets en deel hul ondervinding met jou:

Wenk: Volgens die internet moet jy jou derde en vierde tone met pleisters aanmekaar vasbind.

ONTWERP: Anel Stapelberg

Al drie personeellede het die volgende vrae beantwoord oor hul ondervinding en meer:

Amaria Carstens
Moderedakteur

1. Hou jy van hakskoene dra?
Ek is mal oor hakke en dit is vir my vreeslik mooi, maar ek vind dit net nie altyd prakties vir my leefstyl nie. Ek sal dit net dra na werkgeleenthede of ander meer formele geleenthede.

2. Het die wenk gewerk?
My een voet is groter as my ander voet. Dit het perfek gewerk vir die kleiner voet. My ander, groter voet was steeds ongemaklik, maar dit was aansienlik gemakliker as andersins. Ek kon heelwat langer uithou as normaalweg.

3. Dink jy dié metode sal dalk werk as jy na ’n geselligheid toe gaan en net vir ’n beperkte tyd in jou hakskoene moet staan?
Ja, dit sal definitief werk.

4. Watter hakskoene is vir jou die gemaklikste?
Ek vind dikker hakke baie gemakliker as ’n dun, fyn hak. Platformhakke werk ook vir my, want dan is my voet nie op so ’n erge skuinste nie.

Kunsleer slangvel hakke (R599), H&M

Kunsleer-slangvelhakke (R599), H&M

 

Magdel Muller
Mode-assistent

1. Hou jy van hakskoene dra?
Ek is glad nie gaande daaroor nie, want dis nie lekker om in die middel van die dag soveel pyn te hê dat jy nie meer kan loop nie!

2. Het die wenk gewerk?
Ek kon heeldag pynloos met my hakskoene loop.

3. Dink jy dié metode sal dalk werk as jy na ’n geselligheid toe gaan en net vir ’n beperkte tyd in jou hakskoene moet staan?
Dit sal definitief werk vir ’n geselligheid waar jy ’n beperkte tyd op jou voete moet staan.

4. Watter hakskoene is vir jou die gemaklikste?
Indien ek kan kies watter hakskoene ek kan dra, sal dit beslis blokhakskoene wees!

 

R1 395 Tosoni by Spitz

R1 395 Tosoni by Spitz

 

Gaynor Siljeur
Digitale intern

1. Hou jy van hakskoene dra?
Nee, ek hou nie daarvan nie. Ek vermy dit altyd.

2. Het die wenk gewerk?
Gedeeltelik, ja. My linkervoet was baie gemaklik en my regtervoet was effe ongemaklik, maar dit kan ook wees omdat my regtervoet groter as my linkervoet is

 3. Dink jy dié metode sal dalk werk as jy na ’n geselligheid toe gaan en net vir ’n beperkte tyd in jou hakskoene moet staan?
Ja, ek dink dit sal werk.

4. Watter hakskoene is vir jou die gemaklikste?
Wighakke en stewels.

Enkelstewel, Pierre Cardin

Enkelstewel, Pierre Cardin

 

SARIE se redakteur, Michelle van Breda, is die koningin van hakke in die SARIE-kantoor. Ons het aan haar deur gaan klop vir raad oor hoe sy dit regkry om heeldag hoë hakke te dra.

“Ek’s mal, mal,  mal, mal oor hoëhakskoene – vandat ek klein-klein in my ma se hoë hakke rondgeloop het, sonder om te struikel of te strompel. Ek glo daar’s net ’n elegansie aan hoëhakskoene waarby min ander dinge kan kers vashou. Sonder haar manjifieke hakke sou Sarah Jessica Parker in Sex and the City nie dieselfde gewees het nie! Maar ek’s vir seker nie dom as dit kom by my keuse van hoë hakke nie. Ek sal nooit skoene koop waarin ek nie ordentlik kan stap of wat my seermaak nie. Ek wil gemaklik én vinnig kan beweeg (hardloop, as dit moet!), en wanneer ek hulle saans uittrek, moet ek nie sug van verligting nie. Ek hoef ook nie altyd in die mode te wees met my hakke nie. Baie van vandag se hoë skoene is inderdaad nie vir mooi loop nie; net vir mooi rondstaan en daarvoor sê ek nee dankie! Gemak is prioriteit, en dit beteken ’n goed ontwerpte skoen. Die geheim is dat die skuinste tussen die bal van jou voet en jou hak nie drasties moet wees nie. Dís ongemaklik en ongesond. Jy moet ook nooit voel jou hele liggaam balanseer op net die voorste deel van jou voet nie; dat jy byna vooroor kantel nie. Dan’s daar iets verkeerd. Jy moet maar bly soek totdat jy die ideale paar kry. Glo my, hulle is daar! Vandag se platformhakke bied reeds ’n laer skuinste tussen die voorste en agterste deel van jou voet – hulle is mooi en gemaklik. En dís maar die begin!”

Dié vasplak-metode werk egter net wanneer jy toe skoene dra. Die model Kendall Jenner loop gereeld op die rooi tapyt met dun bandjies om die hakke. Sy het haar geheim verklap aan die Daily Mail: “Jy moet jou voete die hele tyd beweeg. Ek beweeg my gewig voortdurend van die een voet na die ander.”

Sy beveel ook aan dat jy een paar goeie tydlose hakskoene besit.

Hierdie wenke werk dalk nie vir almal nie. Ons vermoed daar is baie ander aspekte wat sal bydra tot jou gemak of nie – soos ’n hoë brug of ’n bunion.

Laat weet ons gerus of dit vir jou gewerk het.