George Clooney
Modestories

Jou man kán soos George Clooney lyk! (Deel 2)

Daai een hemp met al die gate, die broek wat al verbleik is . . . Wanneer jou man mal is oor een item, dra hy dit gewoonlik flenters. Maar soos Robbie Wessels sing: “Speedo’s en crocs, daai kite vlieg nie!”. SARIE se modespan gee jou wenke hoe om jou man meer stylvol te maak en hoe om hom soos George Clooney te laat lyk.

As jy die eerste 5 wenke gemis het, lees DEEL 1 hier.

Wenk 6 – Bou sy klerekas met klassieke items

Die volgende items is altyd ’n goeie basis vir enige man se kas:
* Eenvoudige wit T-hemp
* Klassieke wit hemp
* Denimhemp
* Jeans wat goed pas
* Leerbaadjie (as jy nie leer kan bekostig nie, koop kunsleer)
* Goeie leerskoene
* ’n Chino-broek

Wenk 7 – Komplimenteer hom

Net soos ons vroue daarvan hou om te hoor ons lyk mooi, streel ’n kompliment ook sy ego. As hy heeltyd hoor hy lyk mooi in iets, moedig jy hom aan om dié item te dra sonder dat hy dit besef. En hy sal dan makliker nog iets in daardie snit, kleur of patroon koop.


via GIPHY

Wenk 8 – Neem hom op ’n date

Dit is mos hoeka skrikkeljaar. Mans hou nie daarvan om uit te staan nie. As jy graag wil hê hy moet vir ’n keer ’n pak dra, neem hom na ’n geleentheid waar hy dit móét dra. As hy insmelt saam met die res van die manne, sal dit vir hom makliker wees om die nuwe item te aanvaar.

via GIPHY

Wenk 9 – Sê vir hom wanneer iets nie goed lyk nie

Reg, hier lê die geheim. . . Dit hang als af van hóé jy dit vir hom sê, moet asb tog nie die ego seermaak nie. Wanneer hy iets aanhet waarvan jy nie hou nie, sê eerder: “Weet jy waarin jy vir my sexy of besonder aantreklik lyk … en noem dan die item.” Nou moet jy maar hoop en bid dit sink in en hy gaan iets anders aantrek.

via GIPHY

Wenk 10 – Moet nooit sy stukkende items weggooi nie

Maak nie saak hoe gaar dit gedra is nie. Vra liefs vir hom of hy nie dink dit is tyd vir ’n nuwe een nie.

Dink jy jy sal dit maklik regkry om manlief se styl te verander, of lê daar vir jou ’n

berg voor om uit te klim?

via GIPHY

Lees nou