Agter die skerms by H&M se Herfs Winter 2015 Studio Collection tydens Paryse mode week. FOTO: H&M

Agter die skerms by H&M se Herfs Winter 2015 Studio Collection tydens Paryse mode week. FOTO: H&M

Modestories

H&M by Paryse Modeweek en ál die bekendes

Die Sweedse klerewinkelgroep H&M open môre (Saterdag 17 Oktober) om 11:00 sy deure in die Kaapse Waterfront en op Saterdag 7 November in Sandton City, Johannesburg. Ons moderedakteur, Amaria Carstens, was in Maart by die Paryse Modeweek en het daar gesels met H&M se ontwerphoof, Ann-Sofie Johansson, oor waarna Suid-Afrikaners kan uitsien.

Die Studio Collection is sowat twee jaar gelede by die Paryse Modeweek bekendgestel. Wat het dié groep laat besluit om van hul eie reekse saam met die voorste ontwerpers in Parys te wys?
Maart 2015 was die derde keer dat ons Studio Collection in Parys te sien was. Ons wou die kollig op ons modes en ons talentvolle ontwerpspan plaas, en daar is geen beter plek as die modehoofstad om dit te doen nie.

Kyk hier na dieselfde vertoning as Amaria

Toe ek die maanlandskap sien waarin die Grand Palais vir die vertoning omskep is, kompleet met ruimtetuie en Caroline de Maigret (model en musiekvervaardiger) wat die vertoning in ‘n silwer eenpak en helmet open, was my eerste gedagte Jane Fonda in die 1968-wetenskapfiksie-fliek Barbarella. Die Herfs/Winter 2015 Studio Collection is geïnspireer deur ‘n futuristiese sportiewe voorkoms, die toekoms en sterfilterbeligting (en nie Barbarella nie). Neem ons deur die kreatiewe proses wat jy en jou span gevolg het om by die eindresultaat te kom.
Daar is baie dinkskrums en besprekings tydens die ontwikkelingsproses van so ‘n reeks, wat dit organies en lewendig maak. Vir die Studio Collection het ons gepraat oor ‘n kombinasie van iets tussen sportief en funksioneel en iets meer klassiek. Ons het ook inspirasie gekry van ruimtetuie, vandaar die tema van die vertoning, en vinnige sportmotors.

Die modes in SA is ‘n seisoen agter dié in Europa. Watter raad sal jy ons lesers gee ten opsigte van sleutel-items en trends vir Somer 2015?
Modern-boheems is die gevoel van ons reekse dié somer. Daar is kaleidoskopiese paisley-sonrokke en bikini-broekies wat langs die kant vasmaak, asook lang vloeiende rompe en bikini-bostukke met patrone met tropiese blare. Wees ook op die uitkyk vir monochromatiese (eenkleurige) items vir impak, soos ‘n wit kanttuniek, frokkie-toppies en rompe met valle, swart rokke met knoop-effek voor en rokke met lang moue wat afgerond word met dekoratiewe silwer halssnoere.

Nóg bekendes by die vertoning