Foto: @hm_instagram

Foto: @hm_instagram

Modestories

Internasionale klerewinkelgroep open nóg winkels in SA

In 2015 het mense tou gestaan toe H&M twee winkels in SA oopgemaak het, een in die V&A Waterfront in Kaapstad en een in Sandton City in Johannesburg. Nou gaan die internasionale klerewinkelgroep nóg drie winkels hier oopmaak.


Gehalte teen die beste prys – én volhoubaar. Dís die klere wat Sweedse kleinhandelaar H&M na Suid-Afrika bring wanneer hulle in Maart en April nog drie winkels oopmaak. Die maatskappy het ons land se sakesektor vyf jaar lank dopgehou vir die regte tyd en plek voordat hulle besluit het om in 2015 SA hul 61ste mark te maak.

Elke modeliefhebber kan solank dié datums in haar dagboek aanteken:

Saterdag 19 Maart 2016 om 11h00 open H&M ‘n tak in Mall of The South, Aspen Hills, Johannesburg, met afdelings vir dames, mans, kinders en H&M Plus (Vir vroue met meer kurwes).

Saterdag 16 April 2016 om 11h00 open ‘n H&M-winkel in Clearwater Mall, Roodepoort, met afdelings vir dames, mans, kinders, H&M Plus (Vir vroue met meer kurwes) en H&M Mamma (kraamdrag).

Donderdag 28 April om 09h00 maak die vyfde H&M-winkel in SA oop in Mall of Africa, Waterfall city, Midrand, met afdelings vir dames, mans, kinders, H&M Plus (Vir vroue met meer kurwes), H&M Mamma (kraamdrag), asook H&M Home.

10 feite wat jy dalk nie van H&M geweet het nie

* H&M is ’n Sweedse maatskappy en het in 1947 in Västerås, Swede begin.
* Die huidige uitvoerende hoof, Karl-Johan Persson, se oupa, Erling Persson, was die stigter van H&M.
* H&M was oorspronklik Hennes genoem en het net klere vir vroue verkoop. Maar in 1968 koop Erling Persson die perseel en ’n jagtoerustingwinkel in Stockholm met die naam Mauritz Widforss. Die winkel is toe Hennes & Mauritz (H&M) gedoop.
* H&M is die eerste internasionale klerewinkelgroep wat saam met ’n bekende ontwerper ’n reeks ontwikkel het. In 2004 het hulle saam met Karl Lagerfeld van Chanel ’n klerereeks ontwerp. Verlede jaar het hulle met die ontwerper Olivier Rousteing van Balmain saamgewerk.
*Om te voorkom dat ou klere op stortingsterreine beland, het H&M in 2013 die eerste wêreldwye klere-terugneemstelsel begin.
*Die grootste deel van die reeks vir pasgebore baba, asook die basiese baba-denimreeks, is gemaak van organiese katoen.
*H&M besit nie ‘n enkele fabriek nie, maar werk die wêreld oor nou saam met die verskaffers wat die klere vervaardig.
* H&M bestaan uit ses onafhanklike handelsmerke: H&M, COS, Monki, Weekday, Cheap Monday en & Other Stories
*H&M gaan vanjaar uitbrei na Nieu-Seeland, Ciprus en Puerto Rico.


H&M-modelle maak opslae in Parys – vir die regte redes