FB_fashion_1200x1200px_01 (1)
Modestories

H&M se volhoubare klere kom SA toe!

Opwinding heers oor die internasionale klerewinkelgroep H&M wat sy deure op 17 Oktober in Suid-Afrika by die V&A Waterfront oopmaak. SARIE se moderedakteur, Amaria Carstens, het in Stockholm, Swede, meer gaan uitvind – ook hoe jy jou klere vir ’n beter aarde kan kies. 

Gehalte teen die beste prys – én volhoubaar. Dís wat die Sweedse klerewinkelgroep H&M na SA bring wanneer hulle in Oktober hul deure vir ons modebewustes oopgooi. Vyf jaar lank het die maatskappy ons land se sakesektor dopgehou vir die regte tyd en plek voordat hulle besluit het om SA hul 61ste mark te maak. Met somer op ons voorstoep sê hul ontwerpers kan ons modern-boheems verwag: paisley-sonrokke, lang vloeiende rompe, selfs die wit kanttuniek. En hulle herinner ons dat ons modekeuses ’n groter invloed op die wêreld het as wat ons dink. Lees bietjie hier …

Wat is volhoubaarheid? 

Dit beteken dat ekonomiese ontwikkeling in stand gehou word sonder dat natuurlike hulpbronne uitgeput raak of ernstige ekologiese skade aangerig word.

In die modewêreld is die groot uitdaging om mooi en bekostigbare klere te maak, en terselfdertyd al die mense wat in die bedryf werk regverdig en billik te behandel. En, natuurlik, om nie ons planeet te benadeel nie. Dié ideaal raak letterlik al die prosesse waardeur elke klere-item gaan, van die ontwerp, die materiaalkeuse, die maak van klere, die vervoer van fabrieke tot die winkels, en die werksomstandighede en vergoeding van alle betrokkenes.

Om hul voortbestaan te verseker, is dit dus te verstane dat die naasgrootste klerewinkelgroep in die wêreld sterk omgee vir volhoubaarheid. Daarom fokus die Sweedse klerewinkelgroep H&M, wat vandag 3 600 winkels in 60 lande het, al sedert die 1990’s op dié belangrike saak.

Soek die groen etiket

In 2012 het die klerewinkelgroep, wat sedert 1947 bestaan, hul Conscious Exclusivereeks bekend gestel. Ann-Sofie Johansson, die hoof van ontwerp, verduidelik.

“Ons het in die 1990’s begin aandag gee aan volhoubaarheid en jy sal altyd items in ons winkels vind met volhoubaarheidswaarde. Dit word aangedui met ’n groen etiket.

“Ons het al vier Conscious Exclusivereekse gehad, waar ons nuwe volhoubare materiale toets en ontwikkel. In vanjaar se reeks gebruik ons blinkers en pêrels van herwinbare plastiek. Die kreatiewe proses is dieselfde as dié vir ander reekse, maar dit  neem net langer om die materiale te ontwikkel.

“In die geval van herwinbare poliëster word materiaal meestal van PET-bottels (poliëtileen-tereftalaat) gemaak en die ekwivalent van byna 40 miljoen bottels is al deur H&M hiervoor gebruik.”

Die ding met katoen

  • Katoen is een van die tekstielstowwe wat van plantvorm tot die eindproduk die meeste water en chemiese stowwe gebruik.
  • 1 500 liter water is nodig om genoeg katoen te kweek vir een denimbroek.
  • H&M is die wêreld se nr. 1-gebruiker van organiese katoen.
  • As gevolg van die chemiese prosesse in die gewone kweek en verwerking van katoen, is die volhoubaarheid van dié soort katoen nie voldoende nie. Organiese katoen skakel dié prosesse uit en is dus meer omgewingsvriendelik.

Lees ook 

Mode met ’n gewete