FOTO Instagram / @stylesightworlwide

FOTO Instagram / @stylesightworlwide

Modestories

Hou op geld mors op dié 3 mode-items

Het jy ’n liefde vir koop? Sukkel jy om verby ’n mooi skoen of pragtige top te stap? Kan jy doodeenvoudig nie met leë hande uit die winkel stap nie? Besit jy selfs meer as een van dieselfde toppie?

Die dae van koop net om te koop is nie meer realisties nie. Nee, as daardie jeans jou die eerste keer nie gepas het nie, is die kanse skraal dat dit wél eendag gaan reg sit.

Moenie geld mors op dié items nie:

#1 T-hemde van swak gehalte

’n T-Hemp is soos stapelvoedsel, dit is jou staatmaker – ’n móét in jou klerekas. Koop ’n T-hemp van goeie gehalte, want jy gaan hom meer as een keer dra. En hy gaan elke was moet oorleef.

 

#2 Jeans wat nie pas nie

Pas die jeans aan voordat jy dit koop: as dit nie reg sit nie, moet jy dit nie koop nie! As dit te klein is, is dit rêrig ’n mors van geld omdat die kanse skraal is dat jy daardie kilo’s gaan afskud. Gaan loer bietjie in jou kas en kyk hoeveel jeans het nog hul etikette aan. Bygesê, jy moet géén klere koop wat jou nie pas nie, ook nie daardie mooi rokkie of kortbroek nie. Koop wat jy nóú kan dra en geniet die lewe nes dit is!

 

#3 Items wat moeilik is om te dra

Deursigtig is nou ’n groot trend, maar maak seker jy het die regte items om daaronder te dra vóór jy dit koop. Moenie iets koop waar jy nog iets ekstra moet gaan bykoop nie, want die kanse dat jy die regte top/onderklere/onderrok gaan kry, is skraal!

 

Dink mooi voordat jy weer bogenoemde items aankoop!