Fanning
Modestories

Hulle werk beter in pare: Bekende susters maak mode-spore!

Sondag, 4 Augustus 2013, was internasionale Suster-dag. Ter viering van dié dag gaan ons jou op hoogte bring van die susters wat hul liefde vir mode ‘n familie-affêre maak!

Dit maak tog sin: jou suster ken jou al jou hele lewe lank; julle ken mekaar se passies, style en stories; en maak nie saak hoe eerlik julle met mekaar is nie, julle is aan mekaar verbind deur bloed en natuurlik, liefde.

Susters wat saam klere maak …

Dakota Fanning en Elle Fanning het by vanjaar se Met Gala albei Rodarte-rokke gedra. Hul verhouding met Rodarte het nie net by hierdie rokke gestop nie, want die Fanning-susters gaan nou vir dié modehuis begin ontwerp. En Rodarte ken susters goed, want die hoofontwerpers van dié handelsmerk is ook susters.

 

FOTO LINKS: Die susters deel ‘n liefde vir mooi klere. FOTO REGS: Hul mode-liefde het al vroeg reeds begin!

Penélope Cruz en Monica Cruz se gene is beslis iets om op jaloers te wees! Die susters, bekend vir hul smeulende voorkoms, het besluit om nie meer net modelle te wees nie, maar oor ontwerpers van hul eie onderklerereeks. Monica het tydens ‘n fotosessie vir die luukse onderklerereeks Agent Provocateur genoem dat sy graag haar eie onderklere-reeks sal wil ontwerp. En hulle het gespring vir die geleentheid!

Stories lui dat die Cruz-susters ook handsakke saam gaan ontwerp!

L’Argent is die reeks wat Monica en Penélope saam ontwerp het vir Agent Provocateur. Die reeks is aan die begin van Augustus bekend gestel en het sommer dadelik begin verkoop. Penélope het die regie van die eerste advertensie vir dié reeks behartig. ‘n Swanger Monica, en Penélope se akteursman, Javier Bardem, verskyn ook in dié riskante advertensie tussen baie onderklere-modelle. Ons het jou gewaarsku – maar as jy dit wil waag, kyk die video hier!

CruzFOTO: Die susters doen nie slegs modelwerk saam nie, hulle ontwerp ook hul eie onderklerereeks saam!

Mary-Kate en Ashley Olsen is seker die bekendste tweelingsusters ter wêreld. Die 27-jariges het op die jong ouderdom van 6 maande al begin werk in die televisiereeks, Full House, en sedertdien van krag tot krag gegaan.

Die Olsen-susters is sowat $300 miljoen (R2 949 miljoen) werd. Dit is alles te danke aan hul mode-handelsmerke The Row, Olsenboye (beskikbaar by die Amerikaanse winkel JC Penny), Elizabeth & James en Stylemint. Dié twee se klere is nie net populêr omdat hulle bekend is nie, hulle is verlede jaar benoem as Ontwerpers van Die Jaar by die CFDA (Raad van Amerikaanse Modeontwerpers)-toekennings.

OlsenFOTO: Die Olson-tweeling is nie meer op die kassie nie, maar verleen nou hul mode-oog aan hul eie ontwerpe

Die tweeling is tans op reis na Oslo en Stockholm vir die bekendstelling van die eerste van drie klerereekse wat hulle saam met die Noorweegse modehuis, Bik Bok, ontwerp het. Kyk hierdie oulike video wat hulle gemaak het vir Stylemint:

Sjoe, maar dis lekker om te hoor van hierdie bekendes wat dinge so in die familie hou!