Modestories

Kate Moss word 40!

Sy betower vroue en maak mode- en skoonheidshuise opgewonde. Almal wil ’n stukkie van haar hê! Vir 25 jaar al is Kate Moss een van die wêreld se inspirerendste modelle. En vandag word dié styl-ikoon 40.

Na bewering gaan sy dié mylpaal in haar lewe op een van sir Richard Branson se privaat eilande in die Karibiese See vier. En die voormalige partytjie-meisie en ma van een gaan dié viering glo baie klein hou. Deel van die uitgesoekte gaste is haar man, die sanger Jamie Hince; die ontwerper Sadie Frost; haar haarkapper James Brown; haar agent Fran Cutler en vriendin Annabelle Nielson gaan glo daar wees, berig Daily Mail. Al die gaste is glo gevra om kostuumdrag én aandrokke en -pakke saam te bring.

Kyk hier deur ’n galery van haar gewildste voorblaaie

Julie 1990

November 1992

Maart 1993

Desember 1994

Januarie 1995

Maart 1996

Februarie 2000

Desember 2001

Desember 2005

April 2007

April 2008

Februarie 2010

Mei 2011

Mei 2011

Desember 2011

Maart 2012

Junie 2013

April 2013

Januarie / Februarie 2014

Kate Moss het besluit om haar 40ste met 'n voorblad vir Playboy te vier

Kate Moss oor die jare

1974 – Katherine Ann (Kate) Moss word in Croyden, Engeland, gebore.

1988 – Die stigter van ’n modelagentskap sien haar raak op die lughawe JFK in New York. Kate was op pad terug Engeland toe ná ’n gesinsvakansie in die Bahamas.

1992 – Sy slaan ’n kontrak met Calvin Klein los. | 1993 – Sy word die gesig van YSL se parfuum Opium.

2001 – Sy word die gesig van Chanel se parfuum Coco Mademoiselle en sy teken ’n kontrak om die gesig van die skoonheidshuis Rimmel te word. | 2002 – Kate Moss en die uitgewer Jefferson Hack se dogter, Lila Grace, word gebore.

2007 – Kate Moss word aangewys as een van die tydskrif Time se 100 mees invloedryke mense. Sy stel ook haar eerste parfuum, Kate, bekend en sy ontwerp haar eie klerereeks vir die klerewinkel Topshop. | 2010 – Sy verskyn vir die 30ste keer op die voorblad van die Britse weergawe van die tydskrif Vogue.

2011 – Sy trou met die Britse musikant Jamie Hince in die Cotswolds, Engeland. | 2013 – Sy verskyn in advertensies vir Kérastase se eerste reeks haarstileerprodukte

Kate Moss – styl-ikoon

Dié artikel kom oorspronklik uit SARIE, September 2013. Joernalis: Charis Labuschagne
 

Sy betower vroue en maak mode- en skoonheidshuise opgewonde. Almal wil ’n stukkie van haar hê! Vir 25 jaar al is Kate Moss een van die wêreld se inspirerendste modelle.

As jy wil hê iets moet verkoop of gewild raak, gee dit net ’n tikkie Kate Moss. In net vier woorde kan jy opsom hoekom ontwerpers, tydskrifte, fotograwe, mode- en skoonheidshuise hierdie Britse model oor die jare heen op die loopplanke, voorblaaie en in hul veldtogte gebruik het: Die Kate Moss-effek.

Dit vat haar betowerende vermoë saam om vroue te inspireer om soos sy aan te trek, mense se belangstelling te prikkel om elke storie in die media oor haar te verslind en verbruikers te oortuig om produkte te koop waaraan sy haar naam koppel. Calvin Klein, Burberry, Chanel, Dior, Topshop, Yves Saint Laurent, Dolce & Gabbana, Louis Vuitton, Mango en Rimmel is maar ’n paar handelsname wat al voordeel uit Kate se invloed getrek het.

En ná 25 jaar as model het niks verander nie. Sy is steeds net so gewild soos toe sy op 19 in Calvin Klein-advertensies verskyn het – haar eerste groot kontrak as model. Vandat sy vanjaar die gesig én lyf van St. Tropez geword het, kon die maatskappy wat St. Tropez besit onmiddellik ’n toename in die verkope van hierdie selfverbruiner-produkte sien. Hulle skryf dit toe aan net een ding: Kate Moss se mag as ster. Nou is sy ook die gesig van Kérastase se eerste luukse-stileerprodukte. Kate se hare doen die praatwerk vir dié gewilde haarsorg-handelsmerk. Reeds as jong tiener het dié petite model iets gehad wat haar bo die lang supermodelle van die dag laat uittroon het.

Ontdek op 14

Sy was maar 14 toe die stigter van ’n modelagentskap haar op die JFK lughawe in New York raakgesien het. Kate was op pad terug Engeland toe ná ’n gesinsvakansie in die Bahamas. Dit was 1988 en modelle soos Cindy Crawford, Naomi Campbell en Linda
Evangelista, met hul gespierde lywe en rondings op die regte plekke, het die wêreld aan hul voete gehad. Maar dit was Kate Moss wat skaars vyf jaar later die rigting van wat aantreklik en begeerlik is, sou verander. Met haar klein, seunsagtige lyf het sy die sogenaamde waif– (byna uitgeteer) en heroin chic-voorkoms (’n bleek vel met donker kringe onder die oë) gewild gemaak nadat sy in advertensies vir Calvin Klein verskyn het. Dit was egter nie net haar voorkoms wat mense se belangstelling geprikkel het nie, maar ook haar persoonlike lewe: die wilde partytjies, laat nagte en stormagtige verhoudings met mans soos die akteur Johnny Depp en die musikant Pete Doherty. Sy was ongetem en die publiek was mal daaroor.

Haar invloed het ver en wyd gestrek. Met haar unieke modesin het sy ook ’n stylikoon geword en selfs haar eie klerereeks in samewerking met Topshop ontwerp. Kate Moss is slim met styl en was die eerste om high and low fashion saam te dra, sê Chris Viljoen, modedirekteur van die aanlynwinkel Spree, waarvan SARIE.com deel is. “Sy sou ’n bekostigbare top van ’n kettingwinkel by ’n duur ontwerpersbalromp dra. Mense het haar unieke manier van aantrek bewonder.” Alles wat sy gedoen het, het aandag getrek. En dit het gelyk asof sy onaantasbaar is.

Sy kon selfs ’n reuse-skandaal oorleef wat ander se loopbane sou kelder. Toe die Britse poniekoerant Daily Mirror in 2005 op sy voorblad ’n foto onder die opskrif “Cocaine Kate” plaas, het sy binne maande daarvan herstel. Toe sy kort daarna uit ’n rehabilitasiesentrum kom, het sy meer geld verdien as voor die voorval! “Daardie foto was ’n kolossale skande,” sê Chris, “maar om die een of ander rede het dit haar eerder beroemd gemaak as wat dit haar skade berokken het. Dít is die Kate Moss-magic.”

Gedurende haar lang loopbaan kon niks haar stuit nie, selfs nie hierdie negatiewe publisiteit nie. Verlede jaar nog, op 38, was sy tweede op die lys van hoogs betaalde modelle ter wêreld, aldus www.forbes.com.

Screenshot 2014-01-15 10.54.32

Foto’s bo (van links): 1 & 2. In haar loopbaan het Kate Moss in verskeie groot advertensieveldtogte verskyn, insluitende Burburry, Rimmel en Dior. 3. Sy het ook ‘n parfuumreeks onder haar eie naam bekend gestel. 4. Een van die foto’s van Kate Moss in die nuwe Kérastase-advertensieveldtog.

Wat is dit aan Kate wat ons bly betower?

Monica Smyth, direkteur van Heads Models in Suid-Afrika, meen sy het aanvanklik aandag getrek omdat sy op die regte tyd op die regte plek was. Die bedryf was gereed vir iemand nuut en anders. “Kate Moss was nie die langste model in die wêreld nie, maar sy was vars met ’n engelgesig wat haar bo die ander modelle laat uitstaan het.”
Leon Haasbroek, besprekingsagent van Star Model Management in Suid- Afrika, stem saam. “Ek dink sy het ’n unieke voorkoms waarna fotograwe en ontwerpers gesmag het. Daarom was sy dadelik ’n treffer.”

Dit was dalk haar besonderse voorkoms wat haar aanvanklik gewild gemaak het, maar dis haar geheimsinnigheid wat ons gefassineer hou, glo Anna Wintour, redakteur van die Amerikaanse weergawe van die tydskrif Vogue. “Die ding van Kate – en ek dink dit is deel van haar langlewendheid – is dat sy eintlik nogal ’n geslote mens is. Daar is iets verborge aan haar. En ek dink dit is hoekom sy so gewild by baie fotograwe en redakteurs is,” het sy verlede jaar in ’n artikel in die tydskrif Vanity Fair gesê. “Omdat dit moeilik is om presies te sê wat sy is of wie sy is, kon hulle hul eie fantasieë deur haar laat leef.” Terselfdertyd was daar nog altyd iets edgy aan haar, sê Anna. “Sy was effens gevaarlik en dit het haar opwindend en interessant gemaak.” “Om een of ander bisarre rede is ons almal onderliggend aangetrokke tot Kate Moss as ’n bad girl,” sê Chris.“Miskien is dit die kombinasie van dié houding met haar onskuldige gesig.”

Haar onvoorspelbaarheid tel beslis in haar guns, meen Leana Clunies- Ross van Johannesburg wat gereeld SARIE se voorbladgesigte afneem. “Dis vervelig om die stereotipe model te wees – die glimlaggende, oulike, voorspelbare, girl next door. Mense
raak vinnig moeg vir so iemand en vergeet haar maklik.” In teenstelling hiermee is Kate veelsydig, sê Leana. “Sy kan enige emosie of voorkoms vasvang, of dit nou romanse, street savvy, vleklose skoonheid of die girl next door is. So daag sy die fotograaf en ‘kyker’ uit en hou ons vasgenael. En omdat sy so veelsydig is, identifiseer meer mense met haar. Dit is een van die redes hoekom sy enigiets kan adverteer.” Sy bly ook nie vasgevang in ’n era nie, meen Leana. “Sy bly modern.” Chris beaam dit. “Sy het die vermoë om haarself die hele tyd te herskep. En sy is natuurlik ’n fantastiese model. Of sy nou ’n goeie of ’n slegte dag het, deur maklike of stormtye gaan, sy lyk altyd goed op ’n foto. Ek dink nie dis moontlik om ’n swak foto van haar te neem nie. Alles wat sy doen, is mooi en sy lyk anders op élke foto. Sy het ’n magnetisme wat jou wil laat kyk en weer kyk. Dít is die tipe talent wat jy nêrens kan leer nie. Jy het dit net.”

Kate is ’n fotograaf se droom, meen Leana.“Haar gesig het die perfekte proporsies. Haar oë is eweredig uitmekaar, haar lippe is net reg – nie te groot nie en beslis nie klein nie. Dus kan jy enige voorkoms met haar skep.” En saam met hierdie perfekte proporsies is daar ’n onbeskryflike energie.“Wanneer jy na foto’s van haar kyk, is daar iets meer as net haar uiterlike skoonheid, iets waarop jy nie jou vinger kan lê nie,” het die bekende internasionale fotograaf Mario Testino vroeër vanjaar in ’n artikel in die Britse Vogue gesê. “En dít is uitsonderlik en waarskynlik die rede hoekom sy kon oorleef en gaan bly oorleef.” Dit is byna asof Kate toneelspeel voor die kamera, sê Leana. “Dis een van haar sterkpunte. Sy is nie net ’n ‘klerehanger’ nie. Sy het houding en persoonlikheid en het die vermoë om nuwe, innoverende looks te skep.” Chris sê: “Kate Moss het dít wat enige suksesvolle model het: sy is slim en sy ken haar lyf.”

Sy sou ook nie so ver gekom het as sy nie professioneel was nie, glo Leon. “Daar is min modelle wat so suksesvol is in die bedryf. En jy kan dit net doen as jy hard werk, na die regte oudisies toe gaan en ’n aangename mens is.”