SARIE Augustus 2014 modestorie. Foto: Justin Badenhorst van Supernova. Modelle: Natalia van Max Models & Carla de Klerk van Ice Models

SARIE Augustus 2014 modestorie. Foto: Justin Badenhorst van Supernova. Modelle: Natalia van Max Models & Carla de Klerk van Ice Models

Modestories

Koop slim en spaar só op mode-items

“Goedkoop koop is duur koop” lui ‘n bekende sêding. Wáár is dit beslis!

Maar ongelukkig pas dit nie almal van ons se sak om duur ontwerpersitems te koop nie. Die groot vraag op almal se lippe is: Hoe nou? Waar begin ek? Dié vrae kry ons gereeld van mense wat graag hul klerekas wil oordoen. Ook vroue wat gewig verloor het en dringend iets nodig het, sit met hul hande in die hare.

Hier is ons wenke:

#1 Belê altyd in goeie onderklere

Dit is dié belangrikste stap van enige klerekas. Onderklere wat nie reg pas nie, laat jou groter lyk as wat jy is. Hoe beter die onderklere pas, hoe beter lyk jou postuur ook. Hoekom dink jy lyk die bekendes altyd so fantasties op veral die rooi tapyt? Hulle dra goeie onderklere wat die regte ondersteuning bied waar dit moet. Haal dus maar ’n ou ekstra geldjie uit wanneer jy gaan onderklere koop.

Só moet 'n bra nie pas nie. Foto: skermgreep uit video van Bras N Things - www.youtube.com

Só moet ‘n bra nie pas nie. Foto: skermgreep uit video van Bras N Things – www.youtube.com

Kyk hier hoe om seker te maak dat jou bra reg pas:

#2 Spaar op die trendy items

As jy iets sien en dit is hoogmode, maar jy is nie seker of jy dit meer as een seisoen sal dra nie, koop eerder ‘n goedkoper weergawe daarvan. Jy wil nie baie geld spandeer aan ‘n item wat jy net vir 6 maande gaan gebruik nie. Dié items is net daar om ’n vinnige hupstoot aan jou klerekas te gee vir ’n meer moderne voorkoms.


#3 Spandeer geld aan goeie skoene

Veral ’n klassieke skoen, soos swart of neutrale hofskoene, is ’n wenner omdat jy dit formeel én informeel kan dra. Hier kan ons ’n stylles leer by die elegante Kate Middleton, hertogin van Cambridge.

Aitsa, Kate Middleton word Marilyn Monroe!

Embed from Getty Images


#4 Moenie duur aandklere of -bykomstighede koop nie

Hier kan jy ook die goedkoper items koop, tensy jy ‘n bekende is en dit gereeld gaan dra. Wat aandrokke betref, wil jy seker nie twee keer in dieselfde item gesien word nie. Dalk moet jy kyk na opsies waar jy rokke kan huur. Koop liefs kostuumjuwele en goedkoop palmhandsakke en hoëhakskoene, want jy gaan dit nie elke dag dra nie. En wanneer jy dalk weer eendag na ’n formele geleentheid genooi word, hou jy dalk nie eens meer daarvan nie.


#5 Klassieke items is ‘n belegging

Ons praat hier van ’n swart broek, jeans, swart rok, eenvoudige wit T-hemp, gestreepte T-hemp, wit hemp, broekpak en trench-jas. Wanneer jy wel geld hierin wil belê, moet jy gelukkig wees met jou gewig en dan ‘n snit of styl koop wat jóú figuur vlei. Neem ook jou suster of eerlikste vriendin saam, want hulle sal vir jou reguit sê of jy goed lyk of nie. Wat dié items betref, bly jy weg van die nuutste trendy style of snitte.

Wanneer jy wel ’n duur item wil koop, dink altyd hoeveel keer jy dit gaan dra. As jy dit een keer ’n week, elke week van die jaar gaan dra, kan jy maar meer betaal daarvoor – want so ‘n item moet al die baie was en stryk kan weerstaan.

Pasop vir items wat sê “slegs droogskoonmaak”, want op die lange duur gaan dit jou baie geld uit die sak jaag.