FB_fashion_1200x1200px_01 (3)
Modestories

Mode met ’n gewete

Nuut op die modefront

Op 17 Oktober maak die eerste winkel in Suid-Afrika oop, by die V&A Waterfront in Kaapstad, en later vanjaar by Sandton City in Johannesburg. SARIE se moderedakteur Amaria Carstens was in Maart by die Paryse Modeweek en het daar gesels met H&M se Ann-Sofie Johansson oor waarna Suid-Afrikaners kan uitsien.

  • Die Studio Collection is sowat twee jaar gelede by die Paryse Modeweek bekendgestel. Wat het dié groep laat besluit om een van hul eie reekse saam met die voorste ontwerpers in Parys te wys?

Maart 2015 was die derde keer dat ons Studio Collection in Parys te sien was. Ons wou die kollig op ons modes en ons talentvolle ontwerpspan plaas, en daar is geen beter plek as die modehoofstad om dit te doen nie.

  • Toe ek die maanlandskap sien waarin die Grand Palais vir die vertoning omskep is, kompleet met ruimtetuie en Caroline de Maigret (model en musiekvervaardiger) wat
    die vertoning in ’n silwer eenpak en helmet open, was my eerste gedagte Jane Fonda in die 1968-wetenskapfiksie-fliek Barbarella. Die Herfs/Winter 2015 Studio Collection is geïnspireer deur ’n futuristiese sportiewe voorkoms, die toekoms en sterfilterbeligting (en nie Barbarella nie). Neem ons deur die kreatiewe proses wat jy en jou span gevolg het om by die eindresultaat te kom.

Daar is baie dinkskrums en besprekings tydens die ontwikkelingsproses van so ’n reeks, wat dit organies en lewendig maak. Vir die Studio Collection het ons gepraat oor ’n kombinasie van iets tussen sportief en funksioneel en iets meer klassiek. Ons het ook inspirasie gekry van ruimtetuie, vandaar die tema van die vertoning, en vinnige sportmotors.

  • Die modes in SA is ’n seisoen agter dié in Europa. Watter raad sal jy ons lesers gee ten opsigte van sleutel-items en trends vir Somer 2015?

Modern-boheems is die gevoel van ons reekse dié somer. Daar is kaleidoskopiese paisley-sonrokke en bikini-broekies wat langs die kant vasmaak, asook lang vloeiende rompe en bikini-bostukke met patrone met tropiese blare. Wees ook op die uitkyk vir monochromatiese (eenkleurige) items vir impak, soos ’n wit kanttuniek, frokkie-toppies en rompe met valle, swart rokke met ’n knoopeffek voor en rokke met lang moue wat afgerond word met dekoratiewe silwer halssnoere.

Herwin & Hernu

Om te voorkom dat ou klere op stortingsterreine eindig het H&M in 2013 die eerste wêreldwye klere-terugneemstelsel begin. Dit werk só: Jy kan enige ou klere of linne (in swak of goeie kondisie) ingee by spesiale invorderingsbokse in die groep se winkels – dan word jy beloon met ’n 15%-afslagkoepon op jou volgende item.

Wat gebeur met die ou items? Klere wat nog in ’n drabare toestand is, word aan minderbevoorregtes gegee. Die res word herwin en onder meer as stoffeervulsel vir meubels gebruik.

In 2013 is 3 047 ton klere op dié manier ingevorder. En verlede jaar het die groep 7 600 ton ou klere versamel vir hergebruik en herwinning. Dis gelykstaande aan 40 miljoen T-hemde.

SO KAN JY ‘GROENER’ WEES 

HIER IS WENKE VAN CATARINA MIDBY, H&M SE INTERNASIONALE WOORDVOERDER OOR VOLHOUBAARHEID

  • Moenie jou klere ná elke dra was nie – was is nét nodig as iets vuil is of ’n reukie het. So nie hang jy dit net uit vir vars lug voordat jy dit weer in jou kas bêre.
  • Was klere in koue water.
  • Skud klere goed uit ná was, want dit verminder strykwerk.
  • Moenie jou klere tuimeldroog nie.
  • Hang klere in die badkamer sodat die stoom van jou stort of bad die kreukels
    verwyder, dan hoef jy nie te stryk nie.

Het jy geweet? Die versorging van klere tuis, m.a.w. ná jy dit gekoop het, is verantwoordelik vir 26% van die kweekhuisgasse wat ’n klere-item in sy lewe vrystel.

Lees ook 

H&M se volhoubare klere kom SA toe!