FOTO Instagram @cindycrawford

FOTO Instagram @cindycrawford

Modestories

Basta veertig-plus – dra wat jy wil

Ouderdom is net ’n syfer! En as jy na bekendes soos Jennifer Aniston (47), Sandra Bullock (51), Julianne Moore (55), Catherine Zeta-Jones (46) en Cindy Crawford (50) kyk, sal jy gou sien dat hulle hulself min steur aan al die mites wat jy glo moet en kan aantrek.

Dis wonderlike nuus, want mode het regtig nie meer ’n ouderdomsbeperking nie. Moet dus nie jou ouderdom weggee deur die klere wat jy dra nie! Kyk na Jennifer, wat vanjaar as People se mooiste vrou aangewys is. Sy trek beslis nie volgens haar ouderdom aan nie. En sy lyk deksels goed!

LET WEL: Indien jy nog volgens tendens wil aantrek, is daar steeds riglyne en reëls. Die geheim? Doen dit alles met styl.

Cindy is een van die grootste styl-ikone bo 40. Sy is stylvol en trek modern aan. Maar sy lyk beslis nie 50 nie.

Belangrikste mode-mites op die kop gedraai

#1 Moenie skinny’s dra nie

Skinny’s is enige vrou se regterhand in hul klerekas. Ja, soms voel jy selfbewus oor die paar kurwes wat jy oornag bygekry het, maar oplossings soos lang hemde en jasse is nie verniet daar nie.

Wenk: Moenie jouself in ’n skinny dwing wat nie meer pas nie. Jy wil nie soos ’n opgestopte wors lyk nie.

Jennifer, Julianne en Elizabeth Hurley (51) wys dat enige vrou ’n skinny kan dra:

#2 Bo 40? Dra altyd moue!

Natuurlik hoef jy nie, mits jy gemaklik is om dit nie te doen nie. Selfvertroue is baie mooier as iemand wat heeltyd van haar bo-arms bewus is.

Wenk: ’n Goeie bra is enige vrou se staatmaker. Moenie sonder een loop nie, selfs al het jou top ’n ingeboude bra.

Uma Thurman (46), Halle Berry (49) en Jody Foster (53) wys jou hóé:

#3 Leer- of kunsleer-langbroeke is uit!

Bog! Daar is net een vraag: Het jy die selfvertroue om dit te dra? Onthou ’n leer- of kunsleer-langbroek beklemtoon al jou kurwes.

Elle Macpherson (53) laat beslis die koppe draai met haar leer-langbroek:

#4 Moenie jou knieë wys nie!

Natuurlik kan jy, mits jy mooi bene het. Midi- en maksi-rompe is dus ’n beter keuse as jy selfbewus oor jou bene is.

Julia Roberts (48), Naomi Watts (47) en Jennifer Connelly (45) is nie skaam om been te wys nie:

 

#5 Horisontale strepe laat jou breër lyk

Dit is een van die grootste mites ooit. Enige vrou kan klere met patrone dra, of dit nou horisontale strepe, blomme of polkakolle is. Dit laat jou nié groter lyk nie.

Tina Fey (46) wys horisontale strepe laat jou nie soos ’n huis lyk nie:

Melissa McCarthy (45) is gaande oor haar klere met patrone en lyk pragtig:

As jy oud aantrek, gaan jy oud lyk. Kry die selfvertroue van ’n supermodel en die styl van ’n modeliefhebber. Onthou, 40 is die nuwe 20!