group_image_hi_res
Ons hou van

Koop ontwerperstop vir ’n goeie saak

Een van Suid-Afrika se bekendste ontwerpers vir luukse vroueklere, Jenni Button, het met die kunstenaar Paul du Toit kreatiewe kragte saamgespan ter ondersteuning van die Rock Girl- inisiatief.

Die Rock Girl-inisiatief is geïnspireer deur Manenbergse graad-7-studente wat besluit het om hul skool ’n veiliger plek te maak deur die skepping van veilige ruimtes (“safe spaces”). Dié ruimtes is plekke waar meisies veilig en selfversekerd kan voel en dit kan iets so eenvoudig soos ’n mosaïek-bankie in ’n park wees.

Rock Girl beoog om vir jong meisies vaardighede aan te leer en ook om geweld teen vroue te verminder deur dié veilige plekke te skep. ’n Groot dryfveer vir dié projek is die feit at 2 uit elke 5 vroue wat gemolesteer word, onder die ouderdom van 17 jaar is.

Warrick Gautier, kreatiewe direkteur van Jenni Button, ondersteun die projek met verkoop van ’n spesiale tenktop waarvan 100% van die wins aan Rock Girl geskenk word.

Rock Girl skep, want “mooi plekke kan lei tot sosiale verandering, en sosiale verandering kan lei tot mooi plekke”.

Jenni Button en Paul du Toit se tenktop sal aan die einde van April in Jenni Button-winkels te koop wees teen R490.