julliane_emmys2012
Ons hou van

Blink nuwe idees by die Emmys

Hoera vir uiteindelik iets nuuts! Daar was stérk kleur, oorspronklike silhoeëtte en blompatrone. Baie van die rokke was waaghalsig verby, sonder om lyf te wys. (Behalwe nou vir Modern Family se Sofia Vergara, wie se uiters noupassende rok ongelukkig op ’n kol oopgeskeur het toe sy buk …)

Ons kan met plesier sê dat vanjaar se Emmys beslis die beste plek om te kyk vir idees as jy binnekort ’n spesiale geleentheid, soos ‘n matriekafskeid, moet bywoon. Om jou te help, verklap ons ons gunstelinge, en hoekom dié vyf vir ons so spesiaal is.

Julianne Moore (hooffoto bo)

Geel was beslis die kleur van die aand. Hierdie imposante geel rok is die sterkste van almal. Die eenvoud van die styl word gelig deur die indrukwekkende kleur. Ons glo dié een gaan nog vir lank onthou word.

Julianna Margulies

Julianna Margulies

Die romantiese blomme maak hierdie eenvoudige rok iets buitengewoons. Maar die toets van so ’n rok is hoe hy loop. Dié een het ongelooflik agter Julianna aangesleep.

Ginnifer Goodwin

Ginnifer Goodwin

Die silhoeët wat kort voor en langer agter is, sien ons maar min op die rooi tapyt. Die kombinasie tussen die oranje patroon en die karamelkleur daaronder werk uitstekend. En kyk net hoe mooi lyk dit met die kort hare! Dis ’n super-klassieke rok en outydse oorbelle, wat regtig mooi werk met die baie moderne haarstyl. Die skoene, van deursigtige plastiek met oranje toon en hak is besonders, en oranje is juis een van die kleure van die oomblik.

Emilia Clarke

Emilia Clarke

Emilia het ’n groot kans gewaag: nie die gewone lang, sleeprok vir haar nie. Dit het perfek gewerk! Sy maak ’n baie sterk stelling oor haar unieke persoonlikheid, maar dis steeds pragtig, romanties en dromerig: Alles wat mens van ’n spesiale aandrok verwag.

Emily VanCamp

Emily VanCamp

Emily is ’n vars briesie op die rooi tapyt. Die rok is ongelooflik ingewikkeld, maar die vaal kleur laat dit eenvoudig elegant lyk. Ons hou daarvan dat sy nie ingegord is soos party van die ander aktrises op dieselfde geleentheid nie.

January Jones

January Jones

Met ’n aand waar kleur duidelik die ding was, is hierdie swart, deursigtige rok beslis een van ons gunstelinge. Let op hoe eenvoudig haar hare en grimering is, en dat sy geen bykomstighede werklik aan het nie. As jou rok só uitstaan, kan jy maar ’n poniestert dra.

JOU GUNSTELING?

  • Susan

    Ek was mal oor Ginnifer Goodwin, Emily VanCamp en January Jones se rokke. Julianne Moore, Claire Danes en Julie Bowen se rokkleure het my almal afgesit.

  • Sankie

    Emily Van Camp se rok doen dit vir my – asemrowend verby!

  • Petro

    Stem saam met Susan, hierdie drie rokke was uitstaande!! Die ander kleure het my ook afgesit – die geel lyk soos kanaries>

  • Elizabeth

    Ek het nou nie al die dames se rokke gesien nie maar oordeel slegs op wat by hierdie artikel verskyn en myns in siens lyk NET Emily van Camp of sy ‘n rooitapytgeleentheid by woon! January Jones …hmmm… kan gaan, maar die skoene lyk te swaar en dik. Nee wat ek hou van eenvoudige elegansie. Maar nou-ja, gelukkig verskil smaak!

  • Elsie

    Dis mos nou hoe Emmy’s rokke moet lyk! STER-STATUS!!

  • Eltina van Vuuren

    January Jones se rok is asemrowend mooi. Begeer so een net jammer ek is te oud.

  • Ben Schultz

    Waar is die fotos van Sofia Vergara? Mooiste 40-jarige vrou in die wêreld – en sy was daar!

  • Suzanne de Wet

    Jammer, JM se geel net te sterk. Emily VanCamp en January Jones meer my smaak. Interessanter as JM se rok is die volle ensemble van Ginnifer Goodwin, van kop tot toon eksentriek, dog elegant

  • Tanya

    Yippeee! Nie elke dag dat mens kans kry om die Fashion Police te wees nie! My wen rok? Defnitief Ginnefer! sy het uitgestaan met haar kort hare en oorspronklike vintage rok!! So ook lyk Emily VanCamp tydloos, alhoewel ek dink ‘n paar enkel-diamant oorkrabbertjies Mej Jones se elegante swart rok sou afgerond het. Ongelukkig het Julianne Moore my meer laat dink aan die gif-appeltjies van Liewe Heksie en haar baie oud laat lyk, terwyl Julianna Margulies lyk of sy my ouma se gordyne gebruik het vir ‘n Alice in Wonderland "op-dress" partytjie!…en as ek sulke mooi kurwes soos Sofia gehad het, sou ek ook graag soos ‘n meermin wou lyk! :-) SARIE span, dankie vir al die inspirerende nuusbriewe…dit is die "highlight" in my inbox!

  • Amanda Stegemann

    Emily VanCamp trek in Revenge pragtig aan, en nou ook op die rooi tapyt!