tomford
Ons hou van

Michelle Obama in Brittanje: Wat dink ons van haar uitrustings?

Die stylpolisie is op 24-uur-diens, die modebloggers tik dat dit klap en die modekenners sit vasgenael voor die TV en die rekenaar.

Die Obamas kuier in Brittanje en Michelle Obama se uitrustings oorheers die nuus.

Geleenthede soos dié hou die ‘gevaar’ in van talle potensiële modeblapse! Die etiket, veral rondom die kies van uitrustings, is kompleks en fassinerend. Volgens Chris, modeghoeroe en SARIE se nuwe modedirekteur, het mens omtrent ‘n doktorsgraad in mode nodig om dié slaggate mis te trap…

Maar tydens dié besoek deur die Amerikaanse president en sy elegante vrou aan Brittanje is daar nog min stylvoetjies verkeerd gesit. Dis wat Chris oor Michelle (én Kate) se uitrustings te sê het:

MET DIE AANKOMS

Die presidentspaar kom in Brittanje aan

(foto: www.zimbio.com)

Michelle lyk koninklik in ‘n elektriese blou tweestuk-uitrusting deur die Britse ontwerperspaar, Preen, toe sy en president Barack Obama laataand op Stansted-lughawe geland het.

Chris Viljoen sê:

“Die potloopromp het ‘n hoë middel en is tulpvormig (tulip) met plooie bo. Die hoë middel trek die aandag weg van haar heupe en beklemtoon haar fantastiese middel.”

TOE SY EN KATE AAN DIE GESELS GERAAK HET…

Barbara Tfank & Reiss

(foto: www.lelalondon.com)

Dinsdagmiddag (24 Mei 2011) het die presidentspaar die pasgetroude (en bruingebrande!) William en Kate by Buckingham-paleis ontmoet.

Chris Viljoen sê:

“Michelle Obama doen hier wat sy altyd doen…aksentueer haar goeie punte en verbloem haar swakpunte. ‘n 50’s-uitklokrok deur Barbara Tfank doen presies dit! Die vroulike fatsoen daarvan beklemtoon haar dun middel en die knielengte eindig op die dunste deel van haar knie.

Ons sien haar ook gereeld in ‘n bolero-baadjie. Dis ‘n praktiese item: Dit hou warm sonder om té bonkig te wees. Dit bedek ook nie die res van die uitrusting nie. Sy rond haar uitrusting af met ‘n paar amandelvormige puntskoene waarvan die hak nie te hoog is nie. Deftig dog dienlik.

Kate se bandage-styl-rok (dit vou om die lyf soos stywe verbande en is gewoonlik baie vleiend) is van die Britse high street-kettingwinkel, Reiss. Dit lyk of Kate voortbou op die boodskap wat haar bling-lose trourok aan die wêreld gestuur het. Dis styl-demokrasie op sy beste en die rok is na bewering reeds aanlyn uitverkoop!”

BY DIE ELEGANTE BUCKINGHAM-PALEIS-ONTHAAL


(foto: www.fashionologie.com)

Dinsdagaand is ‘n elegante onthaal by Buckingham-paleis gehou. Michelle het ‘n ivoorkleurige halternekskepping van georgette deur die ontwerper, Tom Ford, gedra.

Chris Viljoen sê:

Tom Ford is die ‘koning’ van glans en styl! Hy is bekend vir sy duur, eksklusiewe skeppings veral vir die stylvolle ouer vrou. Maar die jurie is uit of dié rokstyl werklik ‘n wenner was…

Wat dink jy?

  • Petro Walters

    Die aandrok laat haar ongemaklik lyk. Ek is mal oor die uitrusting waarin sy en Kate gesels het, maar die ander laat haar ouer lyk.

  • Jana

    Dit is ‘n pragtig rok, maar ek dink nie dit is perfek vir haar nie! Miskien is haar figuur nie heeltemal reg daarvoor nie. Maar sy bly stylvol en pragtig.

  • Carika

    Ek hou baie van die wit rok maar ek is nie seker van die rok wat sy aan gehad het het met die pers baadjie nie, die kombinasie is nie goed nie.

  • Elsa Young

    Michelle Obama se uitrustings is pratig, maar haar liggaamshouding is baie slordig. Haar skouers is krom en haar kniee is altyd te ver van mekaar af… as sy loop en as sy staan. Sy kan dalk haar gewig op een been sit en dan haar voete nader aan mekaar bring as sy staan. Dit lyk altyd asof sy hoenders aanjaag as sy stap. So ‘n bietjie meer statigheid!

  • Chrisna Swart

    Op foto 1 met die blou pakkie, lyk dit of Barak een van die lugwaardinne van die vliegtuig af help. Die foto waar sy met Kate gesels, ‘in two minds about it". Laaste rok lyk of sy weer trou! Val glad nie in my smaak nie.

  • Ronell Marais

    Beide lyk statig en elegant en vriendelik! (Kommentaar van toepassing op onthaalfoto in paleis)
    Michelle se halslyn is baie mooi en die ontwerp is nie ge-yk nie.
    Sal moet fout soek as ek dink dis nie ‘n mooi prentjie nie. Leef en laat leef!

  • Didi

    Miskien sou ‘n ander kleur beter gelyk het.

  • Vanessa

    Moet se, ek verstaan nie regtig waarom Michelle ‘n styl-ikoon genoem word nie. Ek het nog bitter selde ‘n uitrusting van haar gesien waarin sy regtig goed lyk. Die kobaltblou pakkie is AAKLIG! Dit lyk of sy gordynlap gebruik het om dit te maak. En die styl- wat is dit? Die rok(kie) waarin sy met Kate gesels lyk soos iets wat sy gedra het toe sy veel jonger en kleiner was. Die wit rok is baie mooi, maar lyk nie goed aan haar nie. As dit dalk ‘n lae v-hals gehad het met ‘n laer middel sou dit goed gelyk het. Nou lyk dit of haar bolyf inmekaar gedruk is met al die goed wat daar op die bolyf van die rok aangaan. Sy het so baie geld (en volgens die Amerikaners, te veel!), so kan nie sy nie asseblief ‘n kundige kry om haar te help nie!

  • Jamy

    Hoekom kritiseer??!! elkeen het sy eie modes en smaak. Ek dink sy lyk pragtig in die wit aandrok!!! die foto van haar en kate lyk ook pragtig albei se rokke pas hulle en lyk ook mooi! Hulle is altwee mooi vroue