SEPT 2013 Karlien
Ons hou van

Mooi in rooi – jou klerekas + kombuis! Koop nóú aanlyn

Karlien van Jaarsveld lyk pragtig op ons September-uitgawe … Lees hier wat rooi vir jóú kan doen!

Rooi, dit bly darem maar altyd ‘n treffende kleur! Dit lok emosie uit en maak ‘n sterk standpunt wat jou kop en skouers bo die res sal laat uitstaan.

Almal het ‘n spesifieke prentjie van die perfekte rooi rok. Vir ons is dit daardie onvergeetlike nommer wat Julia Roberts in Pretty Woman gedra het. Maar baie vroue is bang vir dié sterk kleur. Eksperimenteer ‘n bietjie en wees meer gewaagd deur dié kleur by jou klerekas te voeg.

T-bar-heels

As rooi van kop tot tone te veel is om op een slag te bemeester, bring dit meer subtiel in deur rooi bykomstighede te dra soos ‘n trofee-halssnoer of middelbelt. Saam met ‘n effekleurige uitrusting sal dít definitief die aandag trek.

 

 

Rooi lippe

Die belangrike ding is om die regte skakering van rooi te vind wat by jou gelaat pas. ‘n Donkerder skakering pas gewoonlik beter by ‘n ligter gelaat en ‘n helder skakering van rooi is meer gepas by ‘n donkerder gelaat, alhoewel dit nie vir almal geld nie. Bekendes soos Gwen Stefani, het ‘n ligte gelaat en blonde hare en kom altyd glansend voor met haar helder rooi lipstiffie.

‘n Ander manier om jou lipstiffie te kies is om te kyk of jy ‘n warm of koue ondertoon het. Soos jou vel, het rooi lipstiffies ook ’n warm of ’n koue ondertoon. ’n Oranje basis maak die lipstiffie warm terwyl ’n lipstiffie met ’n blou basis ’n koue ondertoon het. Het jou vel ’n warm of ’n koue ondertoon? Kyk net na jou polse! As jou are groen lyk het jy ’n warm ondertoon, en ’n blou skakering dui weer op ’n koue gelaat. Kies altyd ’n lipstiffie wat jou veltoon komplementeer – warm op warm en koud op koud!

Dra ‘n rooi uitrusting in al sy glorie of doen dit sagkens, maar dis die moeite werd om dié modieuse kleur deel te maak van jou leefstyl!

Die dekorspan sê …

“Rooi is altyd in die mode en jy hoef net ‘n tikkie rooi te gebruik om ‘n hele vertrek op te vrolik. Dit is ‘n fokuskleur en elke huis moet êrens iets rooi hê.”

FOTO: Die rooi fokuspunte gee dié klein kombuis persoonlikheid

Onhou om uit te kyk vir SARIE WOON wat in middel November vrygestel word.

Rooi kos

Wat is rooi fluweelkoek? Tradisioneel moet dié robynrooi koek altyd karringmelk, kakao en ’n kleurstof bevat, en dit word meestal met ’n roomkaasversiersel afgerond. Daar is ook ander weergawes van versiering, soos meringue wat onder ’n warm oondrooster-element bruingebak word. Dis nou mode om nuwe soorte rooi fluweelgebak van die tradisionele bestanddele te maak.

•    Daar is twee maniere om fluweelkoek rooi te kleur. Tradisioneel is beet by die beslag ingemeng om die koek sy rooi skynsel te gee. Deesdae gebruik ons sommer ’n botteltjie rooi koskleursel. Moenie bekommerd wees nie – dit laat nie die koek vreemd smaak nie. Wees ook op die uitkyk vir rooi poeierkleursel by bakwinkels. Dit sorg vir ’n dieper, ryker rooi.

•    By aktrise Jessica Simpson se troue met Nick Lachey in 2002 is rooi fluweelkoek as die troukoek voorgesit.

•    Oprah is mal oor rooi fluweelkoek, en het dit in 2006 ‘n episode van haar gewilde geselsprogram daaraan afgestaan.

•    En wie kan ooit die bruidegom se troukoek in Steel Magnolias, die 1989-fliek met Julia Roberts, vergeet? Dít het die ganse wêreld aan rooi fluweelkoek bekend gestel en nou, in 2012, is dit opnuut ’n groot tendens in koskringe. Bron www.bettycrocker.com