Blake Lively saam met mode ontwerper Michael Kors by sy onlangse vertoning tydens New York modeweek. Foto: @michaelkors_instagram

Blake Lively saam met mode ontwerper Michael Kors by sy onlangse vertoning tydens New York modeweek. Foto: @michaelkors_instagram

SAARTJIE-modeblog

Blake Lively ken toe nie haar modeweek-etiket nie

As jy ’n modeverslaafde of ’n bekende in die vermaaklikheidsbedryf is, is al die modeweke van New York tot Parys altyd in jou dagboek aangeteken. Bekendes soos Blake Lively, Kim Kardashian en Anna Wintour word gereeld in die voorste ry gesien. Maar o wee, jy moet jou etiket ken vir dié geleenthede, anders word jy oor die vingers getik. Dít moes Blake Lively onlangs uitvind!
SAARTJIE hastag

Waaraan het Blake Lively haarself skuldig gemaak? Wel, sy het haar bene gekruis, soos wat ek en jy elke dag doen. Toe word sy gevra om met haar knieë langs mekaar te sit … (Bron: www.pagesix.com)

En wat is nou so erg daaraan, vra jy? Dit het als te doen met die foto’s wat tydens ’n modevertoning geneem word. Ontwerpers betaal derduisende rande om só ’n geleentheid te reël en die foto’s word regoor die wêreld gepubliseer. Niemand soek dus ’n onooglike voet of been wat halfpad by die foto inkom nie.

Maar Blake was nie die enigste sondaar nie, ’n paar ander gaste is ook oor die vingers getik.

Met Parys se modeweek wat dié week afskop, wonder jy seker wat is nou eintlik etiket in die voorste ry … Ek het so bietjie gaan uitvind:

1. Sit soos ‘n dame
Hier is ons beste voorbeeld: die hertogin van Cambridge, Kate Middleton. Sit met jou knieë bymekaar; voete langs mekaar of gekruis. As jy wel soos Blake Lively wil sit, vou die voet wat nie op die vloer is nie agter die voet wat op die vloer is. Jou bene is dan byna soos ‘n koeksister gevleg.

2. Hou jou arms terug
Die ander groot sondaar is selfone. Almal wil mos altyd eerste wees op Twitter en ander sosiale media-platforms. Maar daar is niks erger as iemand wat met uitgestrekte arms vorentoe leun om ’n foto of video te neem nie. Weereens is jy in die pad van die professionele fotograwe en boonop kan die arme mens langs jou niks sien nie, want jy blok haar uitsig. Jy het reeds die beste sitplek en daar is geen rede vir jou om vorentoe te leun nie. Skakel ook die kameraflits op jou foon af. Daar is genoeg ander beligting tydens ’n vertoning en jy het nie die flits nodig nie.

3. Hou jou mond.
Bly stil wanneer die ligte begin verdof. Dit is ’n teken dat die vertoning gaan begin en dít is waar jou aandag nou moet wees. Jy is genooi om na die vertoning te kom kyk, nié om te sosialiseer nie. Jy kan dit ná die vertoning doen.

4. Bêre jou goed.
Watse goed, vra jy? Jou handsak. Hou dit op jou skoot of plaas dit onder die stoel. Indien jou handsak lang bande het, maak seker dis uit die modelle se pad. Jy wil mos nou nie hê dat dit jou skuld is dat ’n model ’n stukkie grond op die loopplank koop nie.

5. Daag op
Glo dit of nie, maar daar is gaste wat laat weet hulle kom en dan nie opdaag nie. Dit is uiterse swak maniere. ’n Sitplek in die voorste ry is die crème de la crème van sitplekke. As jy dit nie meer kan bywoon nie omdat jy siek is of wat ook al, laat weet jou gasvrou/heer sodat hulle iemand anders wat baie graag daar wil sit die geleentheid kan gee.

Bron: www.novellamag.com