Three word wardrobe

3 grootste styloorwegings: Kleur, tekstuur en snit

As jy al ooit reguit na werk saam met vriende ’n drankie gaan drink het, sal jy weet dat die een swart uitrusting nie soos die ander is nie. Die netjiese swart pakkie wat jy heeldag op kantoor gedra het, is net nie reg vir ’n lekker kuier nie. Maar wat is die verskil?

Die sagte sisgeluid wat ’n satynrok maak wanneer jy dit aanglip sê dat een materiaal nie soos ’n ander is nie. Tekstuur speel ’n groot rol. As die satynrok boonop swart of rooi is, sal jy tien teen een onmiddelik sensueel en verleidelik voel. Verruil die satyn vir ewe sagte jerseystof en dinge lyk dadelik anders. Jy sal ook dadelik anders voel.

Die reël is gewoonlik dat sagte flanel, koordferweel en breistof ontspanne is. Stewiger materiaal soos linne, tweed of selfs kamstof (waarvan manspakke gemaak word) wys jy’s professioneel en sagte sycrêpe is vroulik en speels.

Een rok, drie buie

’n Eenvoudige hemprok kan sportief, saaklik of elegant wees afhangende van die materiaal. Denim is byvoorbeeld in die kol vir rondslenter op ’n Saterdagoggend of om langs die see te gaan stap.

Dieselfde rok, dié keer van ’n stewige, dig geweefde linne of keperstof (twill), is ideaal vir ’n onderhoud of selfs ’n ontmoeting met ’n kliënt.

Jy kan die identiese hemprok na ’n spesiale ete of verjaardagpartytjie toe dra as dit van ’n sagte materiaal soos krinkelsy of satyn gemaak is. Dit laat Saterdag se lekkerdra-rok dadelik vroulik en elegant lyk.

Watter tekstuur laat jou spesiaal voel? Ons wil graag weet.

Klik op skip.co.za om foto’s van jou Three Word Wardrobe te laai. Dalk wen jy ’n geskenkbewys van R5 000 van Spree! Klik hier!

Bronne: Engineering Apparel Fabrics and Garments deur J. Fan and L. Hunter, lifestyletherapy.net en vintagefashionguild.org