Three word wardrobe

5 mode-maniere om jou dag op te kikker

Ons het almal ’n spesiale uitrusting wat ’n wip in haar stap sit, kom wat wil. Hier is nog ’n paar modekeuses wat jou dag sal ophelder – op die Skip Three Word Wardrobe manier

1. Alles is nie wit en swart nie
Danksy Coco Chanel glo alle vroue dat hulle nie die lewe sonder ’n mooi swart rokkie kan pak nie. Min weet egter dat sy ook gesê het: “Die beste kleur in die hele wêreld is die een wat jou pas.” Maar hokaai, dit beteken nie dat jy summier van al jou swart en wit klere moet ontslae raak nie. Helder dit eerder op met ’n opgeruimde rooi handsak of ’n vrolike geel serp daarby. Octavia Ephraim van Octapear Image Consulting in Pretoria sê, “Dit is nie nodig om van al die ‘verkeerde’ kleure ontslae te raak nie. Sorg net dat jy die regte kleure naby jou gesig of ten minste aan jou bolyf dra.’

2. Dra jou “gelukkige” klere
Net soos die rok wat jy die aand toe net mooi alles skeefgeloop het, aangehad het nou nog agter in jou kas hang, dra jy die sonrokkie wat jy vyf Desembers gelede op jul wittebrood gekoop het so te sê elke dag. Dis te verstane. Die sommerrokkie het “gelukkige” herinneringe. Ná ’n studie het navorsers aan die Universiteit van Queensland in Australië gesê dat ’n opmerklike getal deelnemers gesê het dat hulle “klere gebruik om hul bui te verander. Wanneer hulle die oggend effens neerslagtig voel, kies hulle klere wat hulle sal opbeur.” Asof ons dit nie geweet het nie!

3. Groen is goed vir ons
’n Studie deur die Vrije Universiteit in Amsterdam het bevind dat groen klere jou sowel as almal wat jou sien opbeur. Dit is omdat ons die kleur met die natuur assosieer en dit dieselfde uitwerking het as ’n bietjie vars lug of ’n kort stappie in die buitelug. Gevolglik is groen die kleur om te dra as jy op en wakker moet wees.

4. Skitter in goudgeel
Sielkundig gesproke is geel die beste kleur om te dra as jy die dag ’n bietjie onseker van jouself of sommer net effens teneergedruk voel. Hou net in gedagte dat geel ook met angstigheid geassosieer word en dat jy liefs matigheid voor oë moet hou – in sommige studies babas begin huil as hulle te veel geel sien!

 5. ’n Oulap se rooi, of pienk…
Helderpienk of rooi staan pragtig uit in ’n see van swart en skep ’n treffende prentjie. Dit is omdat pienk en rooi, soos geel en oranje, warm en energiek is. Selfs rooi lipstiffie het die gewensde effek. Laat staan dus die ligte, neutrale lipstiffie wanneer jy vaal voel en kies liewer fuchsia of bloedrooi. Dit sal nie net jou gemoedstoestand verbeter nie, maar beïnvloed ook mense se reaksie teenoor jou. Ephraim raai aan dat jy van visualisasie gebruik maak: “Stel jou voor hoe jy wil hê mense moet teenoor jou reageer en werk dan daaraan om dit te bewerkstellig.” Met ander woorde, kul as jy moet.

Voel jy opnuut lus om met jou klerekas te speel? Vertel ons gerus wat jou klere van jou bui sê. Wie weet, dalk wen jy een van die geskenkbewyse van R5 000 van Spree! Klik net op www.skip.co.za 

Bronne: dailyworth.com, bodyandsoul.com.au and Octapear Image Consulting (octaviae.com, 012 342 3413)