Flag_of_Panama.svg
Nuus Nou

Panama Papers-skandaal: Dis wat jy móét weet

Panama Papers is ’n korrupsieskandaal wat die afgelope week die wêreld geruk het. Meer as 140 politici, onder andere ministers, vennote en selfs staatshoofde, uit meer as 50 lande word betrek. Hul geldsake is Sondag onthul deur die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung en die joernalistieke ondersoek-eenheid International Consortium of Investi­gative Journalists (ICIJ). 

Die 11,15 miljoen uitgelekte dokumente kom van ’n regsfirma in Panama. En dit onthul hoe prokureursfirmas en banke beskerming aan politici, dwelmhandelaars, miljardêrs, glanspersoonlik­hede en sportsterre verkoop het, berig Netwerk24.

Hier’s die drie belangrikste goed wat jy móét weet

1.  Wat is presies uitgelek? 

Die 11,15 miljoen uitgelekte dokumente sluit finansiële rekords, paspoorte en korrespondensie in wat oor 40 jaar strek.

2. Wie’s almal in die spervuur?

Khulubuse Zuma, pres. Jacob Zuma se broerskind, die president van die Oekraïne, Petro Poroshenko, die voormalige premier van Irak, Ayad Allawi, koning Salman van Saoedi-Arabië en die Argentynse sokkerster Lionel Messi word regstreeks gekoppel aan dié korrupsieskandaal.

Ander politici soos die Britse premier, David Cameron, en die Russiese president, Wladimir Poetin, word deur hul familielede of vriende aan die skandaal gekoppel.

Lees Time vir meer inligting.

3. Die regsfirma in die middel van dié skandaal

Mossack Fonseca, wat in 1977 in Panama, Suid-Amerika, gestig is. Volgens Netwerk24 is dié firma een van die grootste skeppers van dopmaatskappye en sakestrukture waarin die eienaarskap van bates geheim gehou word.

Die komediant Trevor Noah het oor die Panama Papers-skandaal gespot

SKERMGREEP: YouTube

SKERMGREEP: YouTube

Bronne: Forbes, BBC, Time, Netwerk24