FOTO Facebook

FOTO Facebook

Nuus Nou

Lewis Pugh in pyn – en weke aan die bed gekluister

Lewis Pugh, ysman-avonturier, het Vrydag ’n noodoperasie ondergaan nadat hy alle gevoel in sy regterbeen verloor het. ’n Rugwerwel het geskuif en ’n stukkie daarvan is verwyder.

Die fors, breedgeskouerde langafstand-swemmer het vanoggend met ’n yl stem vanuit sy hospitaalbed in die Medi-kliniek, Constantiaberg, Kaapstad, met SARIE.com gepraat. Maar met sy humorsin skort niks.

“Ek wens ek kon sê ’n ysbeer het my gejaag!” sê hy. “Niks so dramaties nie. Ek het een oggend wakker geword en my been was effens lam. Die volgende oggend meer so. Die derde dag was daar geen gevoel nie.”

Lewis sal ses dae in die hospitaal en daarna nog ses weke tuis aan die bed gekluister wees. Dit sal 9-12 maande neem om heeltemal te herstel. En ja, dis maar seer, sê hy.

Die motiveringspreker wat mense aan sy lippe laat hang, slaan gou deur.

“Wil jy ’n mooi storie hoor? Ek het dr. Roger Melvill uit vier neurochirurge vir die operasie gekies. Hy is 75 jaar oud en internasionaal bekend. ‘Vertel my van jou lewe,’ sê hy. ‘Ek swem en gee toesprake oor omgewingsbewaring, ek reis baie.’ ‘In jou vrye tyd?’ ‘Honde, ek het drie honde,’ antwoord ek.”

En die dokter vertel hom hulle het twaalf Siberiese poolhonde (huskies). Sy vrou, Merle, teel met die honderas. Een is vernoem na Lewis, onse swemmer! Lewis, die husky, het al ’n streep medaljes in kampioenskappe gekry. Maar is ook ’n (manlike) Florence Nightingale. “Dr. Melvill het ’n pasiënt gehad met ’n passie om te seil. Sy droom was om rondom die wêreld te vaar. Ná ’n ongeluk was hy ’n parapleeg en moes hy maande in die hospitaal bly. Dit was hartseer om te sien hoe depressief hy is. Toe bring dr. Melvill eendag vir Lewis om hom te besoek. En als het vir hom verander, sy gemoed het gelig.”

Vir Lewis is swem sy lewe. Meer as ’n liefde, maar ’n roeping om die aarde se benarde toestand onder mense en regerings se neuse te vryf. Dáárom het hy al langafstand geswem in net mooi elke oseaan – die enigste mens in die wêreld. Om nie meer te swem nie … Natuurlik het die gedagte in die hospitaalbed by hom opgekom.

Lewis besig om te swem

Vir Lewis is swem sy lewe

“Gister word ek wakker en daar is Lewis! Die yslike poolhond spring bo-op my en gee my ‘n nat soen.”

En net daar sien hy weer kans vir wat voorlê, vertel Lewis.

Ons ysman met die warm hart. So seer soos hy het, het hy Lewis (die husky) dadelik ingespan om ’n vrou in dieselfde saal weer te laat glimlag. Sy kry epileptiese aanvalle en was baie “af”.

Toevallig moes Lewis aanstaande week in Jakoetsk, in ysige Siberië, Rusland, ’n toespraak gaan lewer. Die nabygeleë meer, wat direk in die Noordpoolsee vloei, is erg besoedel en hy moes dít onder die Russiese regering se aandag bring.

“Nou lê ek in die bed!”

En wag dat die deur oopgaan en Lewis, die Siberiese poolhond, kom kuier.

Die les daaragter is nog vir hom duister.