FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Nuus Nou

Ma van Everest-slagoffer praat

Van anderkant die wêreld in Australië het Maritha Strydom haar dogter se vordering op berg Everest dopgehou – deur ’n reeks satelliet-piengs van die bergklimmer se foon af.

Toe stop dit … Kort daarna het sy die verpletterende nuus gekry. Nie per telefoon nie, maar deur ’n aanlyn nuusberig, het sy vir CNN-aanbieder, SA se Robyn Curnow, in Atlanta gesê. Haar dogter, Maria (haar vriende het haar geken as Marisa), was dood.

Maria, ’n oud-Tukkie wat in Australië gewoon het, het verlede Saterdag aan hoogtesiekte in haar man se arms gesterf. Dit was nadat sy die suidelike piek van berg Everest bereik het. Sy en haar man, Robert Gropel, het die afgelope agt jaar berge op vyf vastelande geklim.

CNN berig Maria het Everest se suidelike piek verlede Vrydag bereik, maar nie goed gevoel nie. Verskeie Sherpas en Robert het gesukkel om haar berg-af te dra, maar sy het die volgende oggend inmekaargesak. Robert is per helikopter na Kathmandu en veiligheid gebring. Ook hy het gely aan hoogtesiekte, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Maria en haar man, Robert Gropel, verlede jaar FOTO Facebook

Maria en haar man, Robert Gropel, verlede jaar FOTO Facebook

Die Monash-sakeskool in Melbourne, Australië, waar Maria die laaste paar jaar klas gegee het, het vroeër ’n artikel gepubliseer waarin sy sê sy en haar man is albei veganiste (eet geen diereprodukte nie) en het die uitdaging daarom aangepak. “Dit blyk mense het die skewe idee dat veganiste ondervoed en swak is,” het sy in die artikel gesê. “Deur die Sewe Pieke te klim, wil ons bewys dat veganiste enigiets én meer kan doen,” berig Netwerk24. Die Sewe Pieke verwys na die sewe hoogste bergpieke op sewe vastelande.

In ’n artikel in The Washington Post (23 Mei) is berig dat 250 mense al oor die jare op Everest dood is. Die berg was juis die laaste twee jaar gesluit ná natuurlike rampe in 2014 (’n sneeustorting) en in 2015 (aardbewings wat die lewe van meer as 8 000 mense in Nepal geëis het).

Kurt Gropel, oom van Robert, het aan die Sydney Morning Herald gesê hy het ’n voorbode gehad en het vir die twee gesê hy wil nie hê hulle moet gaan nie, want “Everest is a killer”.

Aan The Australian het Robert se pa, Heinz Gropel, beaam dat sy seun waarskynlik liggaamlik sal herstel, maar dat hy sielkundig totaal geknak is. “Hy het sy vrou verloor.”

*Nog ’n lid van Maria en Robert se klimspan, die 36-jarige Eric Arnold (’n professionele klimmer en motiveringspreker), is oorlede. Hy het die kruin van Everest bereik en selfs daaroor getwiet. Maar met die afkom het ook hy aan hoogtesiekte begin ly en op die berg gesterf, volgens Associated Press.

Lees nou

Almal praat oor: Everest

Clarins se Lynne bereik Everest-piek