Screen Shot 2016-04-25 at 11.10.16 AM
Nuus Nou

Malaria – stil, dodelike vyand

Malaria is voorkombaar en behandelbaar. Tog is dit een van die grootste oorsake van sterftes wêreldwyd, veral in Afrika suid van die Sahara en by kinders onder vyf. Vandag word Wêreld-malariadag gehou omdat die stryd teen die dodelike vyand nog lank nie verby is nie.

Muskiete word nie deur grense gestuit nie en dis dus almal se probleem, selfs al was jy jare lank nie in ’n malariabesmette gebied nie. So is Natalie Cilliers, ’n jong ma van Fochville in Gauteng, vroeër vandeesmaand dood weens die verraderlike siekte. Min of meer dieselfde tyd is malaria by nog twee inwoners van die dorp gediagnoseer in die Mediclinic Potchefstroom.

Muskiete jag

Die aantal malariagevalle plaaslik het vanjaar vanweë die droogte afgeneem. Dis goed onder beheer binne SA se grense, maar ’n skrale troos vir gesinne soos Natalie s’n. Die uitdaging is nou die totale “uitwissing” daarvan, sê prof. Tiaan de Jager van die Universiteit van Pretoria se sentrum vir volhoubare malariabeheer (www.malaria.up.ac.za).

’n Groot probleem is sogenaamde “ingevoerde” (ook ‘‘taxi” of “reistas”) malaria. Dis die oorsaak van sowat 63% van malariagevalle plaaslik. Anders as in Suid-Afrika en Botswana, word dit in Zimbabwe en ’n groter mate Mosambiek nie goed beheer nie. Mosambiek het van die meeste malariagevalle ter wêreld. Meer mense sterf in dié land daaraan (29% van sterftes), as aan MIV/vigs (27%). Dit kom boonop dwarsdeur die jaar daar voor. (Die plaaslike malariaseisoen is van September tot Mei, die warm, nat maande.)

Duimgooiers

Mense reis voortdurend na sulke probleemlande en raak so besmet. Maar hulle word eers terug by die huis siek. Besmette muskiete beland ook in voertuie wat SA binnekom en “gooi duim” na gebiede waar dit nie natuurlik voorkom nie, soos Gauteng. (Dis endemies aan sekere dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.)

Tuks se sentrum vir volhoubare malariabeheer span nou saam met Goodbye Malaria (www.goodbyemalaria.com) en die Mosambiekse regering. Die doelwit is om malaria in Mosambiek teen 2030 “uit te wis” en daarna die kennis, tegnologie en metodologie na die res van Afrika uit te brei.

“Uitwissing” beteken egter nie die probleem is permanent opgelos nie.

FOTO: World Malaria Day

FOTO: World Malaria Day

Tawwe kalant

Die malariamuskiet pas voortdurend aan. Daarom moet dit aanmekaar gemonitor word. Nes ’n kampvuur met ’n smeulende kooltjie. “Ingevoerde” malaria is een van die dinge wat die kooltjie weer kan laat vlamvat.

So ook aardverwarming, selfs in gebiede waar dit dekades lank nie voorgekom het nie, soos Pretoria. Navorsers skat met elke sowat 1°C wat die aarde warmer word, kan sowat 3 miljoen meer mense malaria kry.

Die malariaparasiet word binne sowat 5-10 jaar weerstandig teen enige nuwe medikasie. Dis nou besig om te gebeur met die teenmiddel artemisinien, wat die afgelope sowat ’n dekade daarteen gebruik word. (Tot dusver die teenmiddel wat konsekwent gewerk het, ongeag weerstandige malaria-stamme.) Navorsers moet dus voortdurend met nuwe middels daarteen vorendag kom.

Ook die malariamuskiet raak weerstandig. DDT is plaaslik een van die hoofwapens daarteen en word hoofsaaklik aan die binnekant van kleihutte gespuit. Die gebruik daarvan is egter baie kontroversieel weens vrese dat die onbeheerde gebruik daarvan die omgewing en ons gesondheid kan benadeel. Nie soseer die DDT alleen nie, maar as deel van ’n hele brousel van gifstowwe wat in die omgewing voorkom, sê prof. de Jager.

FOTO: World Malaria Day

FOTO: World Malaria Day

Simptome

Dit voel soos erge griep. Die mees algemene simptome: koors, erge hoofpyn, spierpyne, diarree of naarheid. As dit nie gou behandel word nie, kan jy deurmekaar raak en begin yl, stuipe kry of in ’n koma gaan. Twee soorte, Plasmodium vivax en P. ovale, kan herhaaldelik voorkom, tot selfs vier jaar nadat jy gebyt is.

Bron: Sentrum vir volhoubare malariabeheer, Universiteit van Pretoria

Behandeling

As jy voorkomende medikasie neem, maak dit die parasiet dood voor jy siek word. Begin dit neem voor jy na ’n malariagebied toe gaan. Voltooi die kursus, al is jy reeds terug by die huis. Die soort medikasie wat jy neem, word  bepaal deur die gebied waarheen jy gaan. Dit verskil ook van mens tot mens. Doen navraag by ’n reiskliniek of jou dokter.

Al neem jy antimalaria-medikasie, kan jy steeds die siekte kry  maar dit verminder dit jou kanse drasties.

FOTO: World Malaria Day

FOTO: World Malaria Day

Kombineer dit dus met jou eie maatreëls.

◊ Bly van skemer tot dagbreek binnenshuis. Muskiete is snags meer geneig om jou te byt.

◊ Dra klere met ligte kleure, lang moue en pype, veral van skemer tot dagbreek.

◊ Slaap onder ’n muskietnet wat met insekdoder behandel is.

◊ Gebruik insek-afweermiddels met DEET, en wend dit elke vyf uur aan.

◊ Sproei snags ’n insekdoder met peritroiëd in jou slaapkamer.

◊ Gebruik ’n brandbare of elektroniese insekdoder.

◊ Gebruik plafonwaaiers of lugversorging in jou kamer. Dis dan moeiliker vir hulle om te vlieg.

◊ Afskrikmiddels met sitronella is net sowat 20 minute doeltreffend.

◊ Armbande met afweermiddels bied nie volkome beskerming nie.

◊ Vitamien B-inspuitings beskerm jou nie.

Bron: www.travelclinic.co.za

Lees nou