FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Nuus Nou

Oud-polisieman en sy beste viervoetige vriend herenig

’n Amerikaanse polisieman wou nie sonder sy viervoetige vriend aftree nie. Die stadsowerhede, aan wie die hond behoort, wou eers nie bes gee nie. Met genoeg ondersteuning van vreemdelinge kan Matthew Hickey nou sy aftrede saam met sy Duitse herdershond, Ajax, geniet. 

Die afgelope 4 jaar was Matthew, ’n polisieman van Marietta, Ohio, en sy polisiehond, Ajax, soos vinkel en koljander. Ná 30 jaar in die polisiediens moes Matthew weens sy gesondheid aftree, maar Ajax se loopbaan was nog lank nie verby nie.

“Ajax is deel van my familie. Hy is een van my kinders,” het Matthew aan CNN gesê.

Matthew het toe aangebied om Ajax te koop.

Volgens wet behoort Ajax aan die stad, Marietta, en hy kan nog minstens ses jaar lank werk. Die owerhede wou hom op ‘n veiling verkoop. Ajax is sowat $3 500 (sowat R55 000) werd.

Matthew het ongelukkig nie soveel geld gehad nie. ’n Goedgesinde vreemdeling het van sy penarie gehoor en op ’n webwerf, Gofundme, geld daarvoor begin insamel. Binne drie dae het vreemdelinge vanoor die wêreld $71 000 (sowat R1,1 miljoen!) geskenk.

FOTO: Gofundme

FOTO: Gofundme

Nadat die stadsowerhede dié reaksie gesien het, het hulle ingestem dat Ajax saam met sy baas kan aftree. Matthew moes egter instem om gratis as vrywilliger te werk – onmoontlik weens sy verswakte gesondheid.

“Ek sal aanhou om vir Ajax te veg. Ek sal hom nie alleen los nie,” het Matthew aan NBC4 gesê.

Mense was woedend oor dié nuus en het druk op die owerhede gesit. Dit het gewerk, want hulle het ingestem om Ajax vir $1 (R15,88) te verkoop sonder dat Matthew weer as vrywilliger diens moes doen.

Die tweetjies is uiteindelik weer bymekaar!

Die internet was behoorlik aan die gons oor dié storie. Twitter-gebruikers het  gebruik om hul misnoeë met die owerhede se besluit uit te spreek.

En die geld wat ingesamel is? Die vreemdeling wat die fonds gestig het, sê op die Gofundme-blad hy en Matthew moet nog bymekaar kom en besluit of hulle die geld aan liefdadigheid gaan skenk.

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Bronne: CNNNBC4

Lees nou