FOTO Phyllis Green

FOTO Phyllis Green

#SARIEsport

Afrigter: Sunette was kalm voor dié gooi

Die Sunette Viljoen in Rio en die Sunette Viljoen vier jaar gelede in Londen is twee verskillende mense. Waar die een met leë hande huis toe gegaan het, bring die ander een nou ’n silwermedalje terug na Suid-Afrika.

Sy het vanoggend tweede gekom in spiesgooi, danksy haar eerste gooi van 64,92 m!

“Sunette was uiters positief, sy was kalm en in beheer van haar emosies. Sy was 100% gefokus,” het haar afrigter, Terseus Liebenberg, uit Rio aan SARIE.com gesê.

Terseus het nie woorde om te beskryf hoe hy voel nie.

“Ek was ontsettend bly en dankbaar dat al die jare se toewyding en harde werk uiteindelik Olimpiese sukses gebring het. Alle eer aan God wat vir haar die talent gegee het om dit te kon vermag,” vertel hy verder.

Spiesgooi is een van die mees onvoorspelbare items in atletiek. Enigiets kan op die dag gebeur, en jou beste gooi kan dalk net-net nie goed genoeg wees nie.

Maar Terseus en die sportsielkundige dr. Henning Gericke het seker gemaak haar kop was op die regte plek.

In 2012 het Sunette vierde geëindig by die Olimpiese Spele in Londen, nadat die hele Suid-Afrika geglo het haar wengooi sal goud huis toe bring. Maar Sunette het met leë hande teruggekeer. SARIE het kort daarna met haar gesels en in die November 2012-uitgawe het sy openlik gepraat oor dié groot teleurstelling, ’n seer wat nie maklik verdwyn nie.

“Vier jaar se bloed, sweet en trane was in ’n oogwink verby. Die afgelope jaar [2012] het ek my hele lewe aan Londen gegee. Ek het die Spele geëet en geslaap. Daardie aand in Londen het ek my hart uitgegooi, maar hoe hard ek ook al probeer het, die afstand het net nie gekom nie. As dit nie jou aand is nie, is dit nie jou aand nie …” het sy in die SARIE-onderhoud gesê.

Sy’t gesoek na redes vir wat daardie aand gebeur het.

“Daar was net te veel onnodige druk van buite, en van myself om ’n medalje huis toe te bring. Daar was te veel verwagtinge.”

- Sunette Viljoen in 2012 aan SARIE

Maar nóú, vier jaar later, is haar kop op ’n beter plek.

“Ek het emosioneel gegroei oor die vier jaar. Hierdie jaar is ek nie gespanne of bekommerd oor my resultate nie. As ek val, sal ek weer opstaan,” het sy in Julie aan Times Live gesê.

Voor vanoggend se finale ronde het Sunette aan Terseus gesê dat sy ook vir sy ontslape vrou, Estelle, sal gooi. Sy vrou is drie jaar gelede aan kanker oorlede.

“Dit was ook wonderlik dat sy vir my oorlede vrou, Estelle, gooi. Estelle het haar altyd ondersteun en wou altyd net die beste vir Sunette hê.”

Baie geluk, Sunette!

Sunette Viljoen

Lees nou

Wie is Henri Schoeman?

Kyk die hoogtepunte van die Olimpiese Spele