RIO
#SARIEsport

Paralimpiese Spele: só werk klassifikasies

Het julle ook al gewonder hoe werk die klassifikasie van atlete by die Paralimpiese Spele? Lees ons gids.

Wat is klassifikasie?
Klassifikasie verskaf ’n struktuur vir kompetisie. Sportlui wat aan paralimpiese sport deelneem, het almal ’n gebrek. Klassifikasie word volgens gebreke gedoen en dit bepaal watter atlete in aanmerking kom om in die verskillende sportsoorte deel te neem. Dit verseker dat atlete met soortgelyke vermoëns in kategorieë teen mekaar meeding sodat dit regverdig is.

Hoe word besluit in watter kategorie atlete mag deelneem?
Elke atleet word geëvalueer deur gemagtigde tegniese beamptes wat klassifiseerders (classifiers) genoem word. Hulle word aangestel deur die internasionale beheerliggaam van die verskillende sportsoorte. Elke sportsoort benodig verskillende vermoëns, daarom het elke sport sy eie klassifikasiesisteem. Die evaluering word by al die groot sportgeleenthede gedoen voordat die byeenkoms begin.

Hoe werk dit?
Elke atleet word geëvalueer volgens sy gebrek en hoe dit sy vermoë om sekere funksies in sy sport uit te voer beïnvloed. Daarvolgens word ’n sportklas waarin hy mag deelneem aan hom toegeskryf. Afhangende van ’n atleet se gebrek, kan hy ’n paar keer in sy loopbaan geklassifiseer word. Party gebreke verander met tyd, byvoord iemand wat gesiggestremd is se sig kan verswak en dan moet hy in ’n ander klas deelneem as voorheen.

RIO

Sportsoorte waarin ons atlete by die Paralimpiese Spele deelneem en hoe die kwalifikasie werk:

Boogskiet: Shaun Anderson
Daar is drie kategorieë, wat bepaal word deur in hoe ’n mate ’n deelnemer se vermoë deur sy gebrek geraak word.
ARW1 (rolstoel 1) – atlete ding mee in ’n sittende posisie en het ’n gebrek wat hul arms, bene en romp affekteer.
ARW2 (rolstoel 2) – atlete ding mee in ’n sittende posisie en het ’n gebrek wat hul bene en romp affekteer.
ARST (staande) – atlete neem deel in ’n staande posisie.

Atletiek:
Mans:
Dyan Buis, Arnu Fourie, Charl du Toit, Reinhardt Hamman, Hilton Langenhoven, Mpumelelo Mhlongo, Tyrone Pillay, Fanie van der Merwe, Khothatso Mokone (gids), Ntando Mahlangu, Jonathan Ntutu, Andrea Dalle Ave, Ernst van Dyk.
Vroue: Ilse Hayes, Liezel Gouws, Zandile Nhlapo, Chenelle van Zyl, Louzanne Coetzee, Anrune Liebenberg, Zanele Situ (vlagdraer).

Atlete met ’n fisieke -, visuele- of intellektuele gebrek mag deelneem. Atletiek het die meeste klasse van al die sportsoorte weens die getal van verskillende soorte gebreke. Elke klas word met ’n T of ’n F, gevolg deur ’n syfer aangedui. T is vir baanitems en F is vir atlete wat aan velditems deelneem.
11-13 – gesiggestremde atlete
20 – atleet wat intellektueel gestremd is
31-38 – atlete met serebrale verlamming, met 31-34 atlete wat ’n rolstoel gebruik om in baan-items deel te neem of wat gooi van ’n sittende posisie in die veld.
40-46 – atlete met ’n gebrek wat hul arms of bene affekteer, dit sluit geamputeerdes in.
51-58 – rolstoeljaers of veldatlete wat van ’n sittende posisie gooi.

FOTO: Mark Cameron

Anrune Liebenberg FOTO: Mark Cameron

Fietsry:
Mans:
Ernst van Dyk, Goldy Fuchs, Craig Ridgard, Dane Wilson.
Vroue: Roxanne Burns, Justine Asher.
Atlete met fisieke- en visuele gebreke mag deelneem. Daar is vier klasse. In die H-, T- en C-klasse, hoe laer die atleet se klasnommer, hoe groter die impak op sy vermoë om fiets te ry. ’n C1-ryer het ’n groter gebrek as ’n C5-ryer.
B – gesiggestremde ryers neem deel op tandemfietse met ’n gids wat kan sien voor.
H1-H4 – atlete met ’n beengebrek wat ’n handfiets gebruik.
T1-T2 – atlete met ’n gebrek wat hul balans aantas en daarom deelneem met ’n driewielfiets.
C1-C5 – atlete met ’n gebrek wat hul bene, arms en/of romp aantas, maar wat met ’n standaardfiets deelneem.

Twitter Ernst van Dyk lees nou

Ernst van Dyk FOTO Twitter

Ruitersport:
Philippa Johnson, Mieke Wirix.
Daar is vyf klasse:
Ia en Ib – dis atlete met die ergste gebreke, soos rugwerwelbeserings en serebrale verlamming.
II – atlete met ernstige gebreke, maar wat redelike balans kan handhaaf.
III – atlete met fisieke en visuele gebreke, maar wat kan loop.
IV – atlete wat gesiggestremd is of wat arm- of beengebreke het.

Kragoptel:
Chantelle Stierman.
Atlete neem in net een klas deel, maar hulle neem in verskillende gewigkategorieë deel.

Kanovaart:
Graham Paull
Roei:
Mans:
Dylan Trollope, Willie Morgan, Dieter Rosslee.
Vroue: Lucy Perold, Shannon Murray, Sandra Khumalo.
Atlete neem deel in drie klasse.
AS (arms en skouers) – atlete gebruik net hul arms en skouers om die boot te roei. Hulle het minimale of geen beenfunksie nie en kan nie hul romp gebruik nie. Mense met rugbeserings.
TA (romp en arms) – die roeiers kan hul arms en romp gebruik, maar kan nie hul bene gebruik nie.
LTA (bene, romp en arms) – Hierdie roeiers kan hul bene, arms en romp gebruik om te roei. Atlete wat drie vingers aan ’n hand vermis of wat ’n voetamptuasie gehad het, kan in hierdie klas deelneem.

Skiet:
Von Zeuner Kohne.
Twee klasse
SH1 – atlete wat die gewig van ’n vuurwapen kan dra sonder ondersteuning en kan deelneem met ’n geweer of pistool.
SH2 – atlete wat ’n skietstaander gebruik vir ondersteuning omdat hulle ’n gebrek het wat een of al twee arms aantas. Hulle skiet net met geweer.

Swem/watersport:
Mans:
Achmat Hassiem, Kevin Paul, Hendri Herbst.
Vroue: Alani Ferreira, Shireen Shapiro, Emily Gray.
Daar is baie klasse in swem. Dit word bepaal deur in hoe ’n mate die swemmer se gebrek sy vermoë aantas om die swemslag suksesvol uit te voer.
1-10 – swemmers met fisieke gebreke. Klas 1-swemmers se gebrek het die grootste impak op hoe hulle kan swem, en Klas 10 se gebrek het die kleinste impak.
11-13 – gesiggestremde swemmers. Klas 11 het min of geen sig, terwyl klas 13 beperkte sig het.
14 – swemmers met intellektuele gebrek.
S – vryslag-, rugslag- en vlinderslag-items
SB – borsslag-items
SM – individuele wisselslag-items
Klasse word soos volg aangedui: S1 SB1 SM1  en S4 SB3 SM4

Rolstoel-tennis:
Mans:
Leon Els, Evans Maripa, Lucas Sithole.
Vrou: KG Montjane.
Daar is twee klasse, omdat al die spelers se mobiliteit geaffekteer is.
Ope – atlete met gebreke van een of albei bene, maar wat normale armfunksie het.
Quad – atlete met been- en armgebreke wat hul vermoë om sowel ’n raket te hanteer as om ’n rolstoel te beweeg aantas.

Lucas Sithole FOTO 200 YSA

Lucas Sithole
FOTO 200 YSA

Dis moeilik om al die klasse te verstaan, maar op die webwerf van die Paralimpiese organisasie word dit baie goed uiteengesit.