FOTO: Twitter / @scottkelly

FOTO: Twitter / @scottkelly

Nuus Nou

Uiteindelik terug ná 340 dae in ruimte!

Geskiedenis is gemaak. Ná 340 dae in die buitenste ruimte het drie ruimtevaarders uiteindelik die aarde bereik. 

Die Amerikaner Scott Kelly en die Russe Mikhail Kornienko en Sergey Volkov het vandag in die woestyn van Kazakhstan geland. Hul tydperk in die ruimte op die Internasionale Ruimtestasie (ISS) was twee keer langer as ’n gewone ruimtetog.

FOTO: Twitter/ @scottkelly

FOTO: Twitter/ @scottkelly

Wetenskaplikes wou bepaal wat die uitwerking van langtermyn-ruimtetogte op die menslike liggaam sou wees. Net Scott en Mikhail sal nou toetse ondergaan, want Sergei het eers op 4 September 2015 by hulle aangesluit.

Scott se situasie is veral uniek omdat hy een van ’n tweeling is. Terwyl Scott in die ruimte was, het sy tweelingbroer, Mark, ’n afgetrede ruimtevaarder, ook vir toetse gegaan. Hul resultate sal nou vergelyk word.

Om in die ruimte te wees het ’n uitwerking op die menslike liggaam. Dit veroorsaak onder meer ’n verlies aan beendigtheid en spiermassa, en verswakte sig, en daar is blootstelling aan bestraling.

Scott en Mark is nou die sleutel tot hierdie belangrike navorsing, want wetenskaplikes sal die subtiele veranderings in Scott se liggaam kan sien.

In die 340 dae was Scott aktief op sosiale media en hy het meer as ’n 1 000 foto’s geneem.


Selfs die Amerikaanse president, Barack Obama, het al vir Scott getwiet.

SKERMGREEP: Twitter/@Scottkelly

SKERMGREEP: Twitter/@Scottkelly

Net voordat hulle geland het, het Scott met joernaliste gesels. Sy beeld is regstreeks uitgesaai.

Ek voel fisiek goed. Maar die moeilikste was om fisiek van jou naastes geïsoleer te wees. Die konneksie gaan verlore. En dít is die ergste.

Scott Kelly

Hoewel Scott-hulle geskiedenis gemaak het, hou die Rus Valeri Polyakov steeds die rekord vir die langste ruimtetog tot nou. Hy was in die 1990’s vir 437 dae  in die ruimte.

Die volgende span vertrek op 18 Maart na die ruimte.

Bronne: NASA, BBC

Lees nou